‘Housewives’ van Pretoria se Rhona: ‘Ek was nog altyd eg’

Rhona Erasmus. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Rhona Erasmus se lewe het in Oktober verlede jaar onherroeplik verander.

Dié donkerkop-sakevrou het kykNET-kykers drie maande lank as een van die ses vroue van Die Real Housewives van Pretoria vermaak en haar lewe vir kameras, katterigheid en kritiek oopgemaak.

Tog glo dié selferkende kaalvoetkind van Meyerton in die Vaaldriehoek dat die Jakarandastad haar reeds op ʼn jong ouderdom vir die ongenaakbaarheid van The Real Housewives begin slyp het.

Daarom het sy nie gesukkel om haar (hoëhak)skoene tussen Pretoria se rykes én invloedrykes vol te staan nie.

Kaalvoetkind, ʼn vreemdeling in die stad

“Ek kom uit ʼn gelukkige middelklas-gesin. Ons het regtig ʼn kleindorpielewe gehad. Geld, status en handelsmerke was vreemde konsepte vir my,” vertel Rhona in die sonnige, ruim sitkamer van haar huis in die Midstream-landgoed.

Toe kry haar pa werk as regsadviseur vir die poskantoor in Pretoria.

“Dit was ʼn absolute skok vir my. Ek het nie ingepas op laerskool nie en my selfbeeld is ʼn hele paar houe toegedien. Dogtertjies slaan mos met woorde en nie vuiste nie, maar ongelukkig kan woorde net so baie kneus.”

Op haar eerste skooldag in die stad is sy deur ʼn groep dogtertjies gespot omdat sy kaalvoet skool toe is.

“Van daardie dag af het ek besluit om innerlike mure op te bou, want ek het gedink dis al wyse waarop ek myself kan beskerm.

“Dis ironies hoe die lewe werk, want ek besef dat ek soms tydens Housewives gevoel het asof ek weer met daardie dogtertjies gekonfronteer is. Die verskil is dat hulle nou vermenigvuldig het en met vreemdelinge op sosiale media vervang is.”

Rhona op hoërskool. (Foto: Verskaf)

Tot vandag toe sukkel sy om die onsekerhede wat reeds van haar kinderdae af gekweek is, heeltemal af te skud. Soveel so dat sy dit steeds moeilik vind om haar hart heeltemal teenoor vriendinne oop te maak.

“Ongelukkig bevraagteken ek altyd mense se intensies en opregtheid. Die mense wat tans in my lewe is, is werklik hartsmense. Ek glo nie in oppervlakkige verhoudings nie.”

Status, sukses het ander betekenis

Rhona het haarself ná universiteit as onderwyseres terug in die klaskamer bevind, maar sê sy het vinnig besef dat sy nie ʼn gewone agt-tot-vyf-bestaan wil voer nie.

Gedurende dié tyd het haar paaie met Renske Lammerding, ook een van die Real Housewives, gekruis.

Maroela Media het vroeër berig dat Renske en haar man destyds vir Rhona gehelp het om haar eerste onderneming, Midstream Babahuis, te finansier. Sy het ook die Lammerding-kinders opgepas wanneer ma en pa op ʼn date night gegaan het.

Later kon sy en twee vennote ook saam ʼn spa en skoonheidsalon in Midstream begin. “Ek kon onlangs my vennote se aandele by hulle oorkoop en het groot en opwindende planne waaroor ek nie nou te veel kan verklap nie,” sê sy met ʼn knipoog.

Om ʼn onderwyser (oftewel ʼn “onderwysertjie” soos die omstrede mede-Housewife Mel Viljoen hom genoem het) te wees, is vandag steeds haar man, Wikus, se passie.

Die egpaar is die trotse ouers van twee woelwaters, seuntjies Wikus (7) en Júan (9).

Haar gesin en geloof is ook haar grootste ankers.

“Ek glo vas as jy jou Godgegewe talente optimaal benut en jou roeping vind, kan jy nie anders as om suksesvol te wees nie. Maar my definisie van sukses is nie almal se definisie van sukses nie.”

Real’ nog altyd deel van haar woordeskat

Nog voor haar tyd op die kassie het Rhona self kort video’s op sosiale media gedeel waarin sy alles van ouerskap, loopbane en selfs grimeerwenke bespreek het.

Dié informele insetsels is op werkende ma’s gerig en toevallig Real met Rhons gedoop.

“My doel is om altyd opreg en eg aan myself te wees. Ek wou vir ander ma’s en vroue in my posisie wys dat ons almal kwesbaar is en dikwels dieselfde uitdagings probeer trotseer. Wat jy sien, is wat jy kry met my en dit voel nou amper asof dié video’s ʼn tipe voorsmakie vir my was van wat alles nog voorlê.”

Hoewel sy die geleentheid om deel daarvan te wees met albei hande aangegryp het, vertel die 38-jarige dat sy nie vir altyd aan Real Housewives geken wil word nie. “Kykers het boonop net 4% van alles wat geskiet is, gesien.”

(Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Sy vertel dat elke vrou ook ʼn sekere “karakter” op die program was en opnames wat nie met daardie uitbeelding ooreengestem het nie, is dikwels uitgelaat.

Sy is ook van mening dat haar en Mel se verhouding anders sou wees as hulle meer tyd saam alleen gegun was. Sy is selfs oortuig dat hulle in ander omstandighede goeie vriende sou kon wees.

“Die vervaardigers het my en Mel net in mekaar se geselskap toegelaat as die kamera gerol het, wat vir die program se doeleindes sin maak. As ons sonder daardie druk alleen kon gesels, sou ons mekaar op ʼn meer kwesbare manier leer ken het. Maar kom ons wees eerlik, ʼn program oor ses vreedsame huisvroue wat oppervlakkige gesprekke voer, sou nie kykers geboei het nie.”

Binnekring ook deur kritici gekap

Die kritiek waaronder haar naaste mense moes deurloop, is iets sy nie voorspel het nie.

“Natuurlik het ek kritiek op myself verwag, maar om te lees hoe mense my man en kinders op sosiale media slegsê, het die tierwyfie in my laat ontwaak. Ek kan van die goed nie eens herhaal nie, so skokkend is dit.”

Ondanks haar sterk emosionele mure, erken sy dat mismoedigheid, angs en selfs depressie soms by haar kom aanklop het.

“Dit lyk dalk of ek ʼn gesonde dosis selfvertroue het, maar ek is beslis net so kwesbaar en krities op myself soos enige ander vrou van my ouderdom. Ek dink mense vergeet soms om hulle menslikheid aan te skakel voor hulle kommentaar lewer.”

Daarom is haar grootste doelwitte nou om op die eenvoudiger aspekte van die lewe te fokus en dankbaarheid te gebruik om haarself teen kritici te bewapen.

“Ek wil regtig ʼn goeie vrou, teenwoordige ma en sterk sakevrou wees, maar nie meer myself aan die geraas steur nie. Niemand gaan vir my ʼn standbeeld oprig as ek my kop neerlê nie, my geliefdes is my enigste nalatenskap. As ek dankbaar en doelgerig bly, glo ek alles sal in plek val soos dit moet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.