Luister: Rhona en ‘Ousus’ Renske kies om kritiek af te lag

Rhona Erasmus en Renske Lammerding van ‘Die Real Housewives van Pretoria’. (Foto: Maroela Media)

Die Real Housewives van Pretoria het dalk sinoniem met konflik, drama en katterigheid geword, maar dié program se Rhona Erasmus en Renske Lammerding wil aan alles behalwe dié eienskappe geken word.

Inteendeel, hulle kies om eerder die humor daarin raak te sien.

“Hoeveel oumas gaan eendag op hul stoep kan sit en vir hul kleinkinders vertel hoe kameras hulle vir ʼn televisiewerklikheidsreeks rondgevolg het? Ons gaan die coolste oumas ooit wees,” vertel Rhona in die Maroela Media-ateljee.

Kykers van dié nuwe kykNET-reeks ken hulle as twee van ses glansvroue wat ʼn blik op hulle besige en bont lewens gee in die eerste Afrikaanse weergawe van dié internasionale televisiereeks.

Dié twee donkerkoppe kies om die drama af te lag. (Foto: Maroela Media)

Dié twee hegte vriendinne se paadjies het egter lank voor hul dae op die kassie gekruis toe Renske en haar man destyds vir Rhona gehelp het om haar eerste onderneming, Midstream Babahuis, te finansier. Sy het ook die Lammerding-kinders opgepas wanneer ma en pa op ʼn date night gegaan het.

Daarom sou Rhona ook nie sommer aan Real Housewives wou deelneem as Renske nie eerste deel daarvan was nie.

“Ons verhouding strek baie verder as net besigheid. Sy het as ma en vrou my hele menswees geïnspireer en ek het naderhand deel van die familie geword,” sê Rhona, wat na Renske as haar “Ousus” verwys.

Renske reken ook die Real Housewives‑verfilmingsproses was makliker met Rhona aan haar sy.

Renske sê sy bewonder Rhona se selfvertroue. (Foto: Verskaf)

“Ek bewonder haar selfvertroue en die manier waarop sy dinge aanpak, want dié ervaring was so ver buite my gemaksone en absoluut vreesaanjaend,” erken Renske, wat tans die eienaar van die Suid-Afrikaanse franchise van die Mrs. Globe-skoonheidskompetisie is.

Kykers is teen dié tyd ook gewoond daaraan om te sien hoe Rhona en haar mede-huisvrou Mel (Melany) Viljoen gereeld koppe stamp, terwyl Renske dikwels vurige gesprekke of debatte vermy.

Volgens Rhona moet haar ousus se sagter aanslag wel nie onderskat word nie. “Ek voel nooit ek hoef Renske te beskerm nie, ek is net vreeslik lojaal. Renske is ʼn sterk vrou in haar eie reg en is beslis nie ʼn pushover nie.”

Hulle vertel dat hulle natuurlik kritiek verwag het, maar beskryf sekere kommentaar as “byna ongenaakbaar”.

“Mrs. Globe was juis die hoofrede waarom ek ingestem het om deel te wees van Real Housewives, ek wou die kollig help val op die wonderlike inisiatiewe en maniere waarop ons vroue help,” vertel Renske.

Maar toe Facebook-blaaie wat toegewy is aan Real Housewives-kritiek gestig word en Sondagkoerante bel met skinderstories van ekse en bewerings dat sy haar man se kar met ʼn kolf beetgekry het, het sy eers werklik besef waarvoor sy haarself ingelaat het.

Mense vergeet hulle is self ook “net mammas” en “gewone vroue” met gevoelens en onsekerhede, meen Renske.

“Om kômmin gedoop te word, is maar relatief. Ek sal eerder kômmin genoem word en soos ʼn toffie gekou word voordat ek self die een is wat ander só afknou en seermaak.”

Daarom kies hulle om dié program Donderdae-aande saam met hul gesinne te kyk en te lag as hulle sien hoe dit uitspeel.

“Ek moes dalk self eers ʼn episode van Real Housewives gekyk het voor ek ingestem het om deel daarvan te wees,” voeg Renske skertsend by.

Is die huisvroue se interaksies ook werklik so eg soos die program se naam aandui?

“Niks word vir ons voorgeskryf nie en dis beslis nie scripted nie, maar natuurlik moet dinge strategies beplan word om ons almal op dieselfde plek te kry, want ons beweeg nie almal in dieselfde kringe nie.

“Wanneer jy so ʼn onnatuurlike samevoeging van baie uiteenlopende persoonlikhede het, gaan daar natuurlik dan konflik wees,” verduidelik Rhona.

Volgens Renske maak haar en Rhona se vriendskap die ‘Real Housewives’-ervaring makliker. (Foto: Verskaf)

“Afrikaanse mense is maar ʼn vreemde spesie, want ons praat graag agter mekaar se rûe eerder as om mekaar direk te konfronteer. Ek dink dalk dis hoekom die program vir party kykers skoon onnatuurlik voel want hulle ken nie daardie tipe eerlikheid nie,” meen Rhona.

“Ons weet ook nie hoe dit geredigeer gaan word nie en ja, daar is soms goed buite konteks aangehaal, maar ek is nie spyt oor enigiets wat ek gedoen of gesê het nie. Ek wens wel soms dat iemand my vroeër sou sê as my lipstiffie gesmeer het of ʼn hempie nie mooi sit nie,” skerts sy.

Te midde van die kritiek word die huisvroue steeds deur vreemdeling vir selfies voorgekeer.

“Ek was by die Maslow Hotel in Pretoria kort nadat die skare van ʼn Afrikaans is Groot-konsert by die arena uitgekom het en toe ek weer sien gil daar ʼn groep jongerige mans vir my ‘Hallo Renske, hallo Renske!’ Dis eintlik so amuserend, ek kry skoon skaam, maar mense is altyd gaaf in die openbaar.”

Rhona was onlangs ook verras toe sy ná ʼn rugbywedstryd op Loftus foto’s van haar man en seuns saam met van die Blou Bulle wou neem. “Toe ek weer sien, vra een van hulle vir my vir ʼn foto. Kyk nou net!”

Die twee vroue voeg by dat kykers tog dié program ʼn kans moet gun en soos hulle eerder die menslikheid en humor daarin probeer raaksien.

Albei giggel en maak vinnig oogkontak op die vraag of hulle wel ʼn tweede seisoen eendag sal aanpak.

“Sjoe, ek weet darem nie. Waar gaan hulle nóg konflik vir ons uitkrap,” terg Rhona.

Kyk hier hoe Rhona en Renske “As die vellie (oftewel die hakskoen) jou pas”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.