‘In die sop’ maak ʼn Gautengse draai

Bertus Basson in die jongste seisoen van “In die sop”. (Foto: verskaf)

Die derde seisoen van In die sop, kykNET se gewilde werklikheidsprogram, skop eersdaags af, en dié keer maak Bertus Basson en kie boonop ʼn Gautengse draai.

Die possak het behoorlik gekreun met meer as 400 inskrywings van restauranteienaars dwarsoor die land. Dit het die bekroonde glanssjef Bertus Basson, dekorkenner Misi Overturf en hul span deskundiges behoorlik laat kopkrap oor watter deelnemers om te kies. Een van dié deelnemers is egter in Gauteng te vinde, ʼn eerste vir die program.

Soos in die vorige seisoene is hul grootste uitdaging die stryd teen tyd, want hulle het net 72 uur om ʼn restaurant reg te ruk en ʼn nuwe voorkoms te gee. En dit verg veel meer as net ʼn besem en skoppie en ʼn leksel verf.

“Daar is geen heilige koeie nie, en ons woeker met die restaurante se kombuis, uitleg, meubels en spyskaarte,” sê Bertus.

(Foto: verskaf)

“Almal hou van ʼn goedvoel-storie waar iemand ʼn tweede kans kry om vars te begin, en in ons land is mense uitgehonger vir positiewe stories. Tog is dit belangrik dat daar egtheid in daardie stories skuil. Vanjaar se In die sop-eetplekke is tot boordens toe vol met mooi stories oor Suid-Afrikaners se deursettingsvermoë,” vertel hy.

Bertus glo dat organisasie, stelsels en goeie selfdissipline die grootste uitdagings is waarmee restauranteienaars hulp nodig het. As hulle hierdie drie aspekte kan baasraak, is die regte fondasie gelê vir groei en goeie bestuur.

Hy het self ook al ʼn hele paar waardevolle lesse geleer tydens die vorige twee seisoene van die reeks.

“Dit maak werklik ʼn verskil as jy omgee vir dit wat jy doen. Elke mens het ʼn kans om hulself te verbeter in hierdie lewe.”

(Foto: verskaf)

Dit is juis die omgee-aspek wat die In die sop-span ʼn nuwe koers laat inslaan het. In een van die episodes wend hulle hul unieke stel vaardighede aan om hand by te sit om die Durbanville Kinderhuis se bestaande kombuise in funksionele, meer huislike ruimtes te omskep.

“ʼn Kreatiewe kosomgewing, wat die voorbereiding en die eet daarvan insluit, kan ook bydra tot die jong inwoners se ontwikkeling, lewensgehalte en gevoel van selfwaarde,” meen Bertus.

  • In die sop: Restaurant-evolusie word van 6 Maart op Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.