‘Jantjies kom huis toe’, sê Theodore oor Kaap-skuif

Theodore Jantjies. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Theodore Jantjies was vir 15 jaar van sy lewe deel van die immergewilde sepie, 7de Laan. Vandag is hy egter terug in die Kaap, ʼn pa en rustiger as wat hy nog ooit vantevore was.

Sy tyd in Johannesburg en by 7de Laan sal hom altyd baie na aan die hart lê, vertel dié 40-jarige akteur aan Maroela Media. Dit is immers waar hy nie net vriendskappe nie, maar familiebande met ʼn legio mense gesmee het. Ná ʼn dekade en ʼn half was hy egter seker daarvan dat dit tyd is vir hom om weer huis toe te kom.

“Ek en my vrou, Tammy, het destyds begin praat oor die moontlikheid van ʼn tweede kind. Ons het egter geweet dat ons nie eintlik ons kinders in Johannesburg wil grootmaak nie,” sê Theodore.

“Die pandemie het uiteraard ook ʼn groot rol in die besluit gespeel. Ons het mense verloor wat ons jare gelede laas gesien het. Die oomblik dat ons besluit het om weer terug Kaap toe te trek, was dit asof daar ʼn rustigheid oor ons toegesak het.”

Theodore onthou die kommer in sy hart voordat hy besluit het om 7de Laan in 2019 vaarwel toe te roep. Die skrif was teen die muur, bieg hy; dit was vir hom duidelik dat die plek wat hy jare lank huis genoem het, nie meer ʼn gemaklike ruimte was nie.

Die gevoel dat hy moet bedank, het lank aan hom gekleef. Hy het dit egter geïgnoreer omdat hy nie geweet het hoe hy die nuus aan Tammy gaan breek nie. Hy het een aand by die huis aangekom, Tammy het hom een kyk gegee en gesê: “Jy wil nie meer dít doen nie, nè?”

Dit was soos ʼn berg wat van sy skouers afgerol het, en kort voor lank het hy sy bedankingsbrief ingedien.

Toe die nuus oor 7de Laan se einde uiteindelik verlede jaar op die lappe kom, was Theodore diep teleurgesteld.

“Die SAUK het daardie program in die steek gelaat, dit was die grootste program in die land. Die mense daar was familie, hulle was goeie en briljante mense. My bekommernis was waarheen almal sou gaan, dit was byna 115 mense wat sonder ʼn werk gesit het.”

Die “Suidooster” waai

Theodore is nou al sowat ʼn jaar in die Kaapse sepie, Suidooster, te sien. Hy beskryf sy tyd by dié program as een van die beste ervarings wat hy nog gehad het.

“Die mense hier is wonderlik, dit voel asof ek al agt jaar hier werk. Dit is net ʼn jol.

“As jy kan uitsien daarna om by die werk te wees, is dit ʼn goeie plek om te wees. Jy kan in watter bedryf werk, as jy gemaklik is met die mense en veilig voel in die ruimte, gaan dit beslis bydra tot die gehalte van jou werk.

“Hier is ʼn sinergie tussen die mense wat ek nie kan beskryf nie. Ek glo eintlik dat dit die resep vir alle televisieproduksies moet wees.”

(Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Benewens die vars briesie van ʼn nuwe werksomgewing, is dit veral familietyd wat bowenal vir Theodore uitstaan. Vir jare was dit ʼn uitdaging om ʼn kuiertjie in die Kaap te reël; mens reis amper langer as wat jy kuier, sê hy.

Sy oudste, ʼn sesjarige seuntjie, het vir ʼn groot gedeelte van sy lewe dit nie geken om hegte verhoudings met oumas, oupas, tannies, ooms, niggies en nefies te hê nie. Dit het ʼn reuserol in die besluit gespeel om Kaap toe te trek indien die Jantjies-egpaar ʼn tweede kind sou hê.

Dié tweede pienkvoet het kort ná hul skuif Kaap toe sy opwagting gemaak. Hy is vandag byna ʼn jaar oud, maar as mens kyk na hoe woelig hy is, sê Theodore trots, is dit maklik om te dink dat hy eerder 12 jaar oud is.

“Hy ry rond in sy loopraam soos ʼn wafferse F1-bestuurder. Hy stamp teen die tafels en stamp stoele om – dan kyk hy so ewe vir jou om te wys wat hy pas reggekry het,” skerts Theodore.

Om ʼn pa te wees, het Theodore egter rustiger gemaak as wat hy nog ooit vantevore was. Hy streef elke dag daarna om ʼn beter pa en beter voorbeeld vir sy kinders as die dag vantevore te wees.

Sy spruite het hom ook geleer om in die oomblik te leef, en om ten volle teenwoordig in sy gesin se lewe te wees.

“Daardie twee is my grootste seëning, en beslis my grootste prestasie. Jy leef nie meer net vir jouself nie, daar is nou twee kinders wat jou heeltyd dophou.

“Dit dwing jou om die beste weergawe van jouself te wees.”

ʼn Liefdesverhaal soos min

Dit was so hittete of Theodore het nooit met sy Tammy getrou nie.

Dié egpaar het mekaar twee dekades gelede ontmoet tydens ʼn produksie waarvan Theodore die regisseur was, en Tammy in gespeel het. Theodore was toe 21, en Tammy 18 en in matriek.

Van romantiese verhoudings wou hy in daardie stadium van sy lewe maar min weet; sy fokus was daarop om ʼn sukses van sy loopbaan te maak. Hy het in Heidelberg in die Wes-Kaap grootgeword, en sy ouers het hard gewerk om vir sy dramastudie te betaal. Hy was ʼn pasgegradueerde en wou mense wys wat in hom gesteek het.

Theodore in die grimeerstoel by “Suidooster”. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Toe hierdie bruinoog-nooi egter oor sy pad gekom het, was die koeël deur die kerk. Hy het die groep se nommers ingesamel ter wille van kommunikasie, hoewel hy in sy hart geweet het dat hy vir Tammy eendag ʼn boodskap gaan stuur.

Dit het hom ʼn rukkie geneem, maar hy het uiteindelik sy gevoelens aan haar bekend gemaak, en tot sy verligting het sy dieselfde oor hom gevoel. So het ʼn jare lange verhouding gevolg, hoewel dit nie vir altyd sou hou nie.

Ná vyf jaar het hul paaie vir sewe jaar geskei. Theodore onthou hoe hy in dié tydperk net elke nou en dan vir Tammy ʼn boodskap gestuur het om te hoor of sy haarself nog oppas. Hy het egter geweet dat hulle weer ʼn pad na mekaar toe sou vind. Hy het selfs nadat hulle opgebreek het vir haar gesê:
“Dit is reg, maar ek weet met wie ek eendag gaan trou.”

Dié woorde het waar geword toe die egpaar in 2020 afgehaak het en leef vandag deur hul twee opgewekte seuntjies wat hul huis lewe gee.

40 en rustiger as ooit

Sedert Theodore pa geword het, het die skerp fokus wat hy altyd op sy loopbaan gehad het, byna heeltemal versag.

Hy onthou nog goed hoe ernstig hy sy werk opgeneem het, hoe gesteld hy daarop was dat mense net met lof van sy werk praat. Hoewel hy vandag steeds goeie werk wil lewer, is dit vir hom belangriker om tyd saam met sy gesin deur te bring.

Hy onthou nog hoe hy as jong akteur Johannesburg toe gevlieg het om sy loopbaan daar voort te sit. Dit was die eerste keer dat hy gevlieg het, en wat vandag nog by hom bly, is die feit dat hy alte vriendelik almal op die vliegtuig gegroet het, hoewel niemand hom teruggegroet het nie.

Dit is dalk vandag dekades ná daardie vlug, maar hy is nog steeds die soort persoon wat almal sal groet, selfs al kry hy nie eens ʼn glimlag terug nie.

“Die wêreld is konstant besig om mens te verander, en ek glo daar is mag daarin om jouself te wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.