Jeugpastoor (26) wen ‘SterStatus’: ‘Die Here het my gelei’

Jade Farrell is as vanjaar se wenner van ‘SterStatus’ gekroon. (Foto: Marilize Coetzee Photography)

Jade Farrell, ʼn 26-jarige jeugpastoor van Kempton Park, het bo alle verwagtinge vanjaar die spreekwoordelike kroon van VIA se SterStatus-kompetisie op haar kop geplaas.

“Mense het nie verwag dat ʼn jeugpastoor gaan wen nie en dit is altyd ʼn verrassing dat iemand uit ʼn kerkagtergrond ʼn plek in die televisie- en vermaakbedryf wil vind, veral as dit ʼn kompetisie is,” sê Farrell aan Maroela Media.

Farrell werk al die afgelope sewe jaar in die bediening en sê haar ervaring as jeugpastoor het vaardighede geslyp wat haar vanjaar tydens dié kompetisie laat uitblink het.

Sy is Saterdag 22 Oktober by die Velmore Hotel en Spa in Pretoria as wenner aangewys. Verlede jaar se kroondraer, Larissa Bester, het die titel aan Farrell oorhandig.

Michelle van der Nest en Engela Jacobs is onderskeidelik as eerste en tweede prinses aangewys. Primrose Irwin, ʼn entrepreneur van Randparkrif in Johannesburg, is as die eerste Engelse wenner van die kompetisie aangewys.

“Mense onderskat egter die invloed wat die kerk gehad het in die ontwikkeling van my vaardighede soos om voor baie mense of ʼn kamera te praat.

“Ek werk al die afgelope sewe jaar met die toughest crowd – tieners – en om hulle geestelik te lei het vaardighede ontwikkel wat my toegerus het om uit te staan in die kompetisie,” sê Farrell.

Farrell vertel dat die Here se hand in haar kroning as vanjaar se wenner van dié gesogte kompetisie lank voor sy ingeskryf het reeds sigbaar was.

Jade tydens die galageleentheid. (Foto: Marilize Coetzee Photography)

Sy vertel sy is op die ouderdom van 20 getroud met ʼn man wat ook in die bediening gewerk het. Hy het haar egter ná ʼn huwelik van vier jaar skielik sak en pak verlaat en sy is aan haar eie genade oorgelaat om die stukke van haar lewe op te tel.

“Terwyl ek getroud was, het ek baie van my eie passies en drome, soos om in die vermaakbedryf te werk, vergeet en verlaat. Toe my man my los, het ek besef hoe ek my identiteit totaal op my huwelik geskoei het en dat ek my identiteit in God verloor het. Ek was nie gegrond in my eie identiteit van wie God wil hê ek moet wees nie.”

Sy het ses maande lank slegs op haar genesingsproses gefokus. Toe sy later die inskrywing vir SterStatus op sosiale media sien, het sy gedink dit is ʼn gulde geleentheid om ʼn voet in die deur na die bedryf te kry.

“Ek sien SterStatus as die plek waar die Here my gedruk het om te groei. Ek was angstig en onseker oor wat om te verwag van die kompetisie; ek meen, wat gaan ʼn geskeide jeugpastoor op so ʼn kompetisie maak?”

Vandag, agt maande later, is sy as wenner van die kompetisie aangewys. “Ek glo die Here het die kompetisie gebruik as ʼn middel om my te herinner aan dit wat Hy in my geplaas het en nuwe lewe te blaas in talente wat ek onder die maatemmer gebêre het,” vertel Farrell emosioneel.

SterStatus skep ʼn platform vir vroue van alle ouderdomme en agtergronde om hulle te bemagtig, stories te vertel, hulle vaardighede te slyp en ontwikkel en ook hulle verhouding met die Here te versterk.

Jade Farrell. (Foto: Verskaf)

“Die Here was so betrokke in die hele proses en ons het eerstehands beleef hoe vroue gebroke by die kompetisie ingestap en genees uitgestap het.”

Farrell vertel sy het nie in ʼn Christelike huis grootgeword nie. Sy het egter op 16-jarige ouderdom haar hart vir die Here gegee nadat sy deur ʼn skoolvriend aan die jeuggroep by die Kaleideo-kerk in Kempton Park bekendgestel is.

Vandag is sy permanent aangestel as die jeugpastoor van dieselfde jeuggroep waar sy self haar hart vir die Here gegee het. Sy sluit egter in Januarie voltyds by Tomorrow’s Leaders in Training aan, waar sy gaan fokus op leierskap- en jeugontwikkeling by skole.

Sy sê die SterStatus-kompetisie is “verfrissend” aangesien vroue van alle ouderdomme en agtergronde kan deelneem.

SterStatus bied aan elke vrou die geleentheid om te groei en elke leuen wat sy al ooit oor haarself vertel het te kom afbreek en deur die uitdagings te kom oorwin. Ons het dit gesien in elke deelnemer.”

Die inskrywing vir die vyfde seisoen van SterStatus open op 3 November. Vir meer inligting en die inskrywingsvorm, besoek die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.