Kyk die Wêreldbeker by dié plaaslike eet- en kuierplekke

Die Springbokke vier hul oorwinning op Twickenham. Foto: Iang Kington/AFP.

Rugbywêreldbekerkoors loop nou behoorlik hoog ná die Springbokke se onlangse geskiedkundige oorwinning teen die All Blacks op Twickenham-stadion in Londen.

Die meeste van ons sal egter nie die Bokke met ʼn baguette in die hand in Frankryk kan ondersteun nie en moet plan maak om plaaslik in ons groen-en-goud-truie die aksie te volg. Beurtkrag ry boonop gereeld Suid-Afrikaners planne in die wiele om rugby in die gemak van hul eie huis te kyk.

Hier is ʼn paar voorstelle van restaurante, kuierplekke en toeskouersparke waar elke skrum en skop van die Rugbywêreldbeker saam gevolg en geniet kan word.

Gauteng

  • Loftus Park

Loftus Park is langs die legendariese Loftus Versfeld-rugbystadion in Arcadia, Pretoria, geleë en bied ʼn verskeidenheid restaurante vir verskillende sakke en smake. Dié sentrum spog ook met ʼn klein piazza en buitelug-grootskerm waarop groot sportgeleenthede gereeld uitgesaai word.

  • Hennie’s

Hennie’s word besit deur die komediant Rikus de Beer (oftewel Jonathan van RadioRaps) en is vernoem na sy boelterriër Hennie. Dié gesinsvriendelike kuierplek spog met verskeie Gautengse takke in Moreleta, Montana, Randburg, Silver Lakes, Boksburg, Centurion en Kempton Park.

  • Monte Casino

Terwyl die kultuurliefhebbers Monte Casino in Fourways, Johannesburg, se Teatro besoek, kan rugbytoeskouers die Wêreldbeker in die piazza geniet. Besprekings kan by restaurante soos Col’Cacchio, Malt, Hussar Grill, Portugalo, Ocean Basket en die Piazza Hotel Restaurant gemaak word, wat elkeen toegang tot die piazza se grootskerm bied.

  • Whisk Wine Bar

Whisk Wine Bar in Centurion is bekend vir hul vasvra-aande, maar bied ook die perfekte atmosfeer en ʼn grootskermtelevisie om rugbywedstryde saam te geniet.

Wes-Kaap

  • Mojo Market

Smul aan happies van top‑ plaaslike kosstalletjies terwyl jy die rugby saam geniet by een van die bekende Mojo Market in Seepunt, Kaapstad, se verskeie kuierareas.

  • Vasco da Gama Taverna

Vasco da Gama Taverna in Chiebestraat is een van Kaapstad se oudste kroeë. Hoewel hulle ʼn lojale aanhang onder veral die plaaslike Portugese gemeenskap het, word daar nie teruggehou wanneer dit by rugby kom nie.

  • Benguela Cove

Benguela Cove in Hermanus is bekend vir sy luukse proelokaal en bekroonde wyne, maar gaan tussen September en Oktober in ʼn rugbyparadys omskep word. Tafels kan op hul webblad bespreek word.

Vrystaat

  • Copper Clover

Copper Clover is ‘n egte stukkie Ierland in Langenhovenpark, Bloemfontein. Dié gewilde restaurant het selfs hul eie Superbru-groep gestig waar verskeie pryse gewen kan word.

  • Galaxy Sport Restaurant

Galaxy Sport Restaurant in Willows, Bloemfontein, is een van dié stad se gewildste restaurante en kroeë vir rugbyliefhebbers volgens Tripadvisor se gebruikers.

KwaZulu-Natal

  • Q-Kumba Club in Hillcrest, KwaZulu, het ʼn toeskouerspark (fan park) wat spesiaal opgerig word tydens die Wêreldbeker. Benewens die grootskerm en regstreekse musiekoptredes, kan besoekers ook uitsien na kosstalletjies, ʼn swembad en speelarea vir die kleingoed. Kaartjies kan by Quicket bespreek word.

Mpumalanga

  • Jock Pub and Grill in Mbombela (Nelspruit) sowel as Phat Boys Beer House in Witrivier het albei heerlike aanbiedinge vir kos en drankies tydens die Rugbywêreldbeker.

Gqeberha (Port Elizabeth)

  • The Music Kitchen in Newton Park, Gqeberha, sal ʼn toeskouerspark oprig met regstreekse musiek vir die Springbokke se kragmeting teen Skotland op 10 September. Kaartjies is ook by Quicket

Gratis stroomdiens maak spel meer toeganklik vir toeskouers

Daar is ook goeie nuus vir diegene wat tydens die Wêreldbeker eerder op hul rusbank wil uitkamp en nie DStv het nie.

Wêreldrugby het onlangs die bekendstelling van RugbyPass TV, ’n gratis stroomplatform, aangekondig, wat spesiaal geskep is om die spel meer toeganglik vir rugby-aanhangers reg oor die wêreld te maak.

Benewens regstreekse uitsendings van alle Bokwedstryde, sal vorige opnames van die Wêreldbekertoernooi vir vroue, asook daaglikse hoogtepunte, kykstof uit die Wêreldrugby-argiewe, eksklusiewe dokumentêre programme en onderhoude ook beskikbaar wees.

“Ons is opgewonde om RugbyPass TV vir aanhangers reg oor die wêreld bekend te stel. Hierdie belangrike stap verteenwoordig ’n sleutelstrategie in ons missie om die sport meer toeganklik en relevant vir meer mense te maak,” het Alan Gilpin, uitvoerende hoof van Wêreldrugby, oor dié aankondiging gesê.

  • Laat weet ons waar jy vanjaar die Rugbywêreldbeker in jou stad of dorp gaan kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.