Lekkerlag-komediereeks ‘Blits-Bulletin’ nou te sien

AfriForumTV stel op 23 Maart ’n splinternuwe komediereeks bekend. Blits-Bulletin is ’n ensemble-komediereeks wat handel oor die agter-die-skerms-lewe van ’n bekende Afrikaanse nuusprogram.

Sebastian (Pietie Beyers), die inhoudsvervaardiger by Blits-Bulletin, het ’n reuseverbeelding en groot drome om ook ’n ikoniese nuusleser soos sy held, Riaan Cruywagen, te word. Dit is ’n wonderwerk dat hulle elke aand die nuus regstreeks kan uitsaai en in die eerste episode maak ’n windlawaai nuusleser sy verskyning en gooi al Sebastian se drome omvêr. Sebastian raak ook verlief op die hoofjoernalis Andrei (Augusta Zietsman), maar ’n vorige kêrel (André Lötter) uit haar tuisdorp maak die moontlikheid van ’n romantiese verhouding byna onmoontlik vir Sebastian.

Elma Postma vertolk die rol van Lorraine Blignaut wat aan haar werk verslaaf is, terwyl Bouwer Bosch die lui kamera-operateur vertolk. ’n Paar ander gesigte loer ook elke nou en dan by die ateljee in om die reeds onstuimige werkplek verder omvêr te werp. Cruywagen, Grant Towers, Jonathan Pienaar en Luan Lauw is ook in die reeks te sien, met Pierre Breytenbach, Neels Clasen, Angelique Gerber en Themba Ntuli wat ’n draai in die ateljee maak.

Mense wat veral van die Amerikaanse reekse Brooklyn Nine-Nine en Scrubs gehou het, sal hierdie reeks terdeë geniet.

Die eerste drie episodes van Blits-Bulletin sal dadelik op AfriForumTV, ’n gratis aanlyn stromingsplatform, beskikbaar wees waarna die volgende vyf episodes van dié reeks weekliks bekendgestel sal word.

Blits-Bulletin is deur Claudia van Zyl geskryf, die konsep is deur Pierre Malan ontwikkel en is vervaardig deur Laurika de Kock. Die reeks is op verskeie plekke in Pretoria verfilm onder meer in die AfriForumTV-ateljee, Ivory Manor, Moonshot Café en Pretoria Boys High School.

Ouderdomsbeperking: 13

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.