Liam groet ‘Diepe waters’ met dankbare hart, groot drome

Liam Bosman saam met Justin Strydom, wat sy oupa in ‘Diepe Waters’ vertolk. (Foto: Verskaf)

Net soos sy Diepe waters-karakter Maandagaand die Swartmarlyne se swembad vir eers gegroet het om nuwe waters in die buiteland te beproef, is die akteur Liam Bosman ook gerat om nuwe uitdagings aan te pak.

Sy rol as die sterswemmer Johan Swarts in dié gewilde kykNET-telenovela het die jong akteur se loopbaan die afgelope twee jaar ʼn behoorlike hupstoot gegee – iets wat hy sê hy nooit as vanselfsprekend aanvaar het nie.

Vir Liam het die tyd egter gekom om sy tienerkarakter se swembril vir eers op te hang.

Diepe waters het baie deure vir my oop gemaak. Skielik het mense my naam geken en my op straat herken, dit was mal! Ek het baie geleer en gegroei as akteur én mens danksy die program,” vertel hy aan Maroela Media.

Hoewel dit fisiek uitdagend was om die rol van ʼn swemmer te vertolk, erken hy dat die selfvoldane Johan ʼn interessante karakter was om aan te pak.

“Die lekkerste was hoe out there hy was. Daar was geen limiet vir hom nie, hy was windgat en hy kon doen en sê net wat hy wil.”

Tog bieg Liam, wie se speelse, grapjasgees hemelsbreed verskil van sy Diepe waters-karakter, dat hy aanvanklik gesukkel het om homself van Johan te skei wanneer die kameras ophou rol het.

“Die moeilikste deel was om hom af te skud ná werk. Hy was aanvanklik ʼn baie aggressiewe en impulsiewe persoon – en dit kan maklik by jou bly.”

Sy tyd op die stel met bekendes soos Justin Strydom, Nadia Valvekens, Werner Coetser, Altus Theart en regisseur Gert van Niekerk was volgens Liam die beste leerskool.

“Hulle het my so baie oor storievertel en karakters geleer en die dieper betekenis agter alles. Die lesse wat ek by hulle geleer het, gaan ek vir die res van my lewe saam met my dra. Dis iets wat geld nie kan koop nie, en dit het hoe ek werk aanpak geheel en al verander,” vertel Liam.

Danielle Swanepoel en Nadia Valvekens het Liam se suster en ma gespeel. (Foto: Verskaf)

“Gert het my geleer dat karakters nie hulself jammer moet kry nie, want dit kom sleg op die skerm voor. Justin het my geleer om net te speel en die werk interessant vir jouself te hou en Altus het my geleer om nie dinge te ernstig te vat nie.”

Hy voeg skertsend by Werner, wat voorheen ook in die kykNET-reeks Getroud met rugby te sien was, hom “geleer het hoe om sexy te wees”.

Ook die jonger rolverdeling, insluitende Righard van Jaarsveld, Johnny Potsanyane, Reze-Tiana Wessels en Danielle Swanepoel, het volgens Liam vinnig geheg geraak aan mekaar.

“Ek gaan beslis na hulle verlang, veral die daaglikse lag en grap met jou vriende. Dit was baie soos skool, behalwe hierdie keer het ek vriende gehad,” terg hy.

Liam die water. (Foto: Verskaf)

As jong akteur, wat sy silwerdoekdebuut as die jonger Sampie in die 2016-fliek Vir die voëls gemaak het, sê Liam dat hy “nog baie wil werk en baie wil leer”.

Nie net as akteur werk nie, maar ook as draaiboekskrywer en agter die kamera as regisseur.

“As jy mik, moet jy hoog mik. Ek droom daarvan om eendag saam met regisseurs soos Christopher Nolan, Quentin Tarantino en Guy Ritchie te werk.”

Benewens rolle in die oorsese reeks Raised by Wolves en die kykNET-reeks Mooiweer en warm, het hy onlangs ook bewys dat hy ewe tuis agter die mikrofoon as voor die kamera is.

Sy debuutenkelsnit, “Brief vir jou”, is in November verlede jaar bekendgestel.

“My leuse is droom groot, want jy het net een lewe. Elke mens word met verskillende kaarte die lewe ingestuur. Dit is wat jy daarvan maak, wat saak maak. Niemand kry ’n tweede kans nie, en jy kan net alles in jou vermoë doen om jou beste te probeer.”

Oor sy volgende projek verklap hy net die volgende: “Al wat ek kan sê is; Ivan en Donnalee, maar dit is vir eers dit.”

  • Kyk weer na Liam se se toer van die Diepe Waters-stel hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.