Luister: ‘Die Kontrak’ se Lisie Basson kerf paadjie as Afrikaanse rocker uit

Lisie Basson. (Foto: Petal and Leaf Photography/Verskaf)

Die jong musikant Lisie Basson koester reeds van kindsbeen af drome om musiek te maak vir ‘n lewe. Haar loopbaan as Suid-Afrikaanse kunstenaar het ‘n gesonde hupstoot gekry toe sy in die topvier van die Die Kontrak 2-sangkompetisie geëindig het.

Met haar diep, smeulende stem en rock-aanslag het sy reg van die begin af die Afrikaanse popster en mentor op die program, Karlien van Jaarsveld, se aandag getrek.

“Ek het ongelooflike mense in die proses ontmoet, en ek sal dit wat ek geleer het vir niks verruil nie, maar ek sal dit nooit weer doen nie,” sê Lisie (19) prontuit in Maroela Media se ateljee.

Haar debuutenkelsnit, “23”, is pas uitgereik en is ‘n poprock-snit uit haar eie pen in egte Lisie-styl.

Die nuwe seisoen van Die Kontrak skop eersdaags af, met inskrywings vir die derde seisoen wat aan die einde van April sluit. Vanjaar se mentors is die wenner van die eerste seisoen, Demi Lee Moore, Refentse, Tarryn Lamb, en die mentor wat al twee wenners onder haar vlerk gehad het, Monique Steyn.

“Ek is mal oor Karlien en ek is so bly sy is vanjaar ‘n kenner. Sy is beslis een van die land se bekendste name in Afrikaans en die gesig van Coleske Artists,” sê Lisie.

Karlien sal vir die derde seisoen saam met Barry Pretorius en Emo Adams as kenners optree.

“My ouers het my gedwing om in te skryf en ek wou nie teen ander mense kompeteer nie. Nou is ek so bly ek het deelgeneem, want dit het my lewe handomkeer, op die beste manier moontlik verander.

“As ek terug kyk is ek ook nou bly ek het uitgeval waar ek het, want dit beteken ek kan steeds my lewe as musikant en student balanseer.”

Lisie Basson op ‘Die Kontrak’ se verhoog. (Foto: Facebook/Lisie Basson)

Hoewel Lisie nie die kompetisie gewen het nie, het sy steeds ‘n kontrak van Coleske Artists gekry. Sy het haar eerste enkelsnit onder leiding van Arnold Coleske en Paulo Azevedo uitgereik.

Deon Dee en Ruan Graaff van Dee Graaff Productions het die liedjie vervaardig. “Hulle het my vertrou met alles, so ek moet net vir hulle daarvoor dankie sê.”

Coleske Artists het vir haar ‘n paar liedjies gegee, maar sy wou self skryf. “Ek voel dis moeilik om iets te verkoop wat nie jou eie is nie. Ek wil self skryf en dit kom uit my hart uit. Ek is ook mal daaroor om saam met ander mense te skryf en die energie wat daarmee gepaard gaan.”

Lisie vertel die nommer 23 is ‘n kenmerkende nommer in haar lewe, amper soos ‘n gelukbringer of ‘n teken wat haar wys sy is op die regte pad, sê sy.

“Ek sien nou iemand, en my nefie het in Stilbaai vir my die idee gegee om ‘n liedjie te skryf oor die 23 redes hoekom ek mal is oor dié outjie,” vertel sy oor die oorsprong van haar debuutenkelsnit.

“Toe hou almal daarvan. Die liedjie beteken iets vir my en gelukkig het Arnold en Paulo ook daarvan gehou.”

Lisie op die verhoog saam met Karlien van Jaarsveld, haar mentor op ‘Die Kontrak’. (Foto: Facebook/Lisie Basson)

Sy skryf haar borrelende persoonlikheid en selfvertroue toe aan haar ouers wat sy as ekstroverte wat altyd lus is vir die lewe beskryf.

“Ek dink ek het dit maal twee van hulle gekry. Die lewe is so kort om te stres oor alles. As jy nie stres nie, gee jy nie om nie, so ek stres altyd. Maar as ek op die verhoog sing, maak ek net asof ek alleen in my kamer is en probeer om nie te stres nie.”

Tydens Die Kontrak het haar ondersteuners die bynaam van Die Lisie Kommissie gekry weens die stoere ondersteuning wat hulle haar deur die program gebied het.

“As dit nie vir my familie en baie van my vriende was wat my ondersteun nie, sou ek nie wees waar ek is nie. Hulle speel een van die grootste rolle in my lewe.”

Die liedjie “23” is beskikbaar op alle groot digitale platforms.

Die Kontrak 3 se inskrywings sluit op 29 April. Dit saai van September af op eTV uit.

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met Lisie Basson.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.