Luister: Germandt sing soos ʼn kanarie

Germandt Geldenhuys kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Germandt Geldenhuys kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Germandt Geldenhuys, die Binnelanders-akteur wat elke weeksaand as die geliefde Louis Koster op kykNET kuier, het onlangs ook as sanger uitgeblink in die Christiaan Olwagen-lokettreffer, Kanarie, as Ludolf, die hoofkarakter Johan Niemand (vertolk deur Schalk Bezuidenhout) se prettige koormaat.

Geldenhuys, wat in 2017 ʼn Huisgenoot Tempo-toekenning vir sy rol in Binnelanders gewen het en ook op verlede jaar se Silwerskermfees in Kampsbaai met die Silwerskerm-toekenning vir beste mansbyspeler in ʼn vollengterolprent vir Kanarie vereer is, het fliekgangers verbaas met sy sangstem.

Hy het ook tydens die laaste uitsending van Noot vir Noot op SABC2, met Johan Stemmet as aanbieder, sy sangvernuf ten toon gestel en is te sien in die verhoogstuk Keelvol teenoor Je-Ani Swiegelaar, waar hy die rol van ʼn sangonderwyser, Dirk Havenga, vertolk.

Geldenhuys vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media dat hy reeds sedert die ouderdom van vier jaar sing en dat dit sy passie was lank voor toneelspel oor sy pad gekom het.

“Ek het my nog altyd eerste as sanger en dan as akteur beskou, maar toe het die lewe eers ʼn paar draaie met my gestap en ek het begin toneelspeel en verhoogwerk gedoen. Ek het ook hier en daar ʼn musiekblyspel gedoen – en toe gebeur Binnelanders. Ek het vir ʼn ruk gedink, goed, ek gaan nou op akteur-wees fokus, maar ek het al meer die geleentheid gekry om te sing,” vertel hy.

Germandt in 'n toneel uit 'Kanarie'. Hy vertolk die rol van Ludolf.

Germandt in ‘n toneel uit ‘Kanarie’. Hy vertolk die rol van Ludolf.

Geldenhuys sê hy het aanvanklik nie besef Kanarie is ʼn “musiekrolprent” nie. “Ek het uiteindelik besef dit is ʼn fliek met baie musiek en was opgewonde daaroor, want dit is wat ek nog altyd wou doen. Vanjaar het ek besluit om meer te maak van my sangloopbaan en meer musiek te maak.”

Volgens Geldenhuys is hy nie van plan om binnekort ʼn vollengte-album uit te reik nie. “Bloot omdat die mark soveel anders is as voorheen waar jy nie sommer net ʼn album uitbring en verwag dat dit goed sal vaar nie. Ek dink ek sal eers die waters toets met ʼn enkelsnit of twee en kyk waar ek my wil plaas in die Afrikaanse musiekmark.”

Hy skerts dat hy nie van plan is om sokkie-musiek uit te reik nie en dat sy visier meer op ballades en sielvolle musiek ingestel is. “Nié dat daar iets fout is met sokkie-bokkie-musiek nie, maar ek glo nie ek het die stem of die danspassies daarvoor nie. Ek het al feeste bygewoon waar kunstenaars die een sokkie-treffer ná die ander gooi en ek het nie die energie daarvoor nie.

“Ek hou van mooi goed wat iets aan die siel doen. Dit gaan vir my baie oor lirieke en enige musiekstuk wat ʼn impak op my het en my iets laat voel, hetsy dit ritmies is of nie.”

Germandt en Je-Ani Swiegelaar in 'Keelvol'. (Foto: Deon van Wyk/Die Blou Hond)

Germandt en Je-Ani Swiegelaar in ‘Keelvol’. (Foto: Deon van Wyk/Die Blou Hond)

Geldenhuys en Swiegelaar, wat ook teenoor hom speel in Binnelanders as sy verloofde, Naomi Ferreira, is beste vriende van die stel af en het besluit om saam ʼn toneelstuk te skryf. Keelvol is ná ses weke se intensiewe skryfsessies gebore.

Die stuk handel oor die vrygeestige Mariëtte Labuschagne, vertolk deur Swiegelaar. Mariëtte woon op Bloemendal en droom daarvan om die volgende Karlien van Jaarsveld te wees. Dan verhuis Dirk Havenga, ʼn bekende musikant en sanger na dié dorp en Mariëtte begin by hom sanglesse neem. Terwyl Dirk baie ernstig is oor sy sang, opwarming en asemhaling, is Mariëtte die soort meisie wat net wil sing en op die verhoog wil wees, en nie omgee hóé sy daar uitkom nie. Dié twee teenpole het skreeusnaakse gevolge.

“Ons het in Randburg waar ons albei woon die vertoning gedoen en daarna is ons met Keelvol Cullinan toe. Die woord het van daar af begin versprei en voor ons ons kom kry, is ons bespreek vir ʼn hele rits vertonings oor die hele Suid-Afrika. Ons het uiteindelik kontak gemaak met Louis van Wyk, ons bestuurder, en hy het gevra wat ons volgende wil aanpak. Omdat Namibië Je-Ani se geboorteland is, het ons besluit om daar te gaan toer. Ons het reeds sowat 20 vertonings vir die res van die jaar vasgemaak,” vertel hy.

Keelvol sal ook op die Innibos Nasionale Kunstefees te sien wees. “Dit het gestoomroller en ons is baie opgewonde daaroor. Ek dink nie ons het in ons wildste drome gedink mense gaan so mal wees daaroor nie. Wat die stuk laat werk, is dat daar ʼn goeie mengsel van humor, musiek en patos is, wat ʼn mens dwing om te dink.”

'n Paar 'Binnelanders'-akteurs deel 'n prettige oomblik op die stel. Van links na regs: Pascal Pienaar (Karli), Je-Ani Swiegelaar (Naomi), Cindy Swanepoel (Annelize), Germandt Geldenhuys (Louis) en Reynardt Hugo (Tertius). (Foto: Facebook via Germandt Geldenhuys)

‘n Paar ‘Binnelanders’-akteurs deel ‘n prettige oomblik op die stel. Van links na regs: Pascal Pienaar (Karli), Je-Ani Swiegelaar (Naomi), Cindy Swanepoel (Annelize), Germandt Geldenhuys (Louis) en Reynardt Hugo (Tertius). (Foto: Facebook via Germandt Geldenhuys)

Geldenhuys is nie een wat skrik vir harde werk nie en vertel hy moes vir die verfilming van Kanarie vir ses weke elke Vrydag Kaapstad toe vlieg nadat hy sy week se werk op die Binnelanders-stel afgehandel het en dan weer Sondag terugvlieg Johannesburg toe.

Hy vertel ʼn dag op die stel van Binnelanders begin om 07:00. “Ons skiet omtrent agt weke vooruit; dit wat mense vanaand sien, het ons dus agt weke gelede geskiet. Dit neem ongeveer ʼn uur om te skiet aan ʼn toneel van ʼn minuut en ʼn half. Dit is ʼn lang proses. Mense het my al gevra: ‘Hoe maak jy al die woorde op?’” lag hy.

Geldenhuys vertel hy en Swiegelaar het altyd soveel pret op die stel van Binnelanders. “Ons hou daarvan om die teks ons eie te maak en goedjies in te voeg wat eie is aan die karakter. Ek is ook mal daaroor om vir Je-Ani sover te kry om te lag. So, dit is een van my gunstelingdinge om te kyk hoeveel keer per dag ek haar kan kry om haar ernstige gesig te ontspan.

“Een van die belangrikste dinge as akteur is: wanneer jy teenoor iemand speel, moet jy hulle vertrou. Die vertroue het te doen met die feit dat ek vertrou dat jy nie nou gaan droogmaak nie, want dit gaan my sleg laat lyk en ek sal ook nie droogmaak nie, want dit gaan jou sleg laat lyk. Ander akteurs het ons ook al gevra oor ons chemistry op die skerm en ek dink alles kom terug na vertroue toe.

“Ek dink ook wat ons albei goed regkry, is om onsself nie té ernstig op te neem nie. Ons neem ons werk baie ernstig op, want ons wil graag die bes moontlike storie vir die kykers vertel. Ek dink mense vergeet soms ons sien mekaar ses dae per week. As ons nie Maandag tot Vrydag saam op die stel van Binnelanders is nie, dan is dit Saterdae saam om Keelvol êrens op te voer. Soos met enige ander vriendskap is daar dae dat sy haar vervies vir my of ek raak kwaad vir haar, maar as jy nou al so lank vriende is en jy verstaan mekaar so goed, vra ons baie vinnig om verskoning en maak dinge reg met ʼn koppie koffie.”

Om vir Germandt Geldenhuys te bespreek vir ʼn vertoning, maak kontak met sy agent, Tania Fourie, by Tania Fourie Promosies: [email protected].

Luister hier na Germandt se weergawe van Karen Zoid se treffer, “Vir Jou”.

Luister ook hier na Germandt en die Kanaries se weergawe van “Nader my God by U” uit die rolprent Kanarie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Tante Koba ·

Mooi Germandt!
Ek geniet jou baie as Louis en jy sing regtig besonders goed. Moenie ophou nie!

Foxi ·

Hierdie Germandt laat my hare rys. Sy sang is suiwer en hy sing verskriklik mooi.
Sien n mooi loopbaan voorentoe vir hom. Hoop hy word n ster duisend!!!!

Rakker Akker ·

Is daar enige lesers hier wat weet wanneer “trudie” of te wel Daniah se fliek “Mia and the white Lion” in teaters gaan wees? Mia, as jy dalk self hier lees, sal jy laat weet asseblief?

Mia ·

@Rakker, daar’s nog geen datum vir release in SA nie, ons het nou 12 April in die States gerelease eers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.