Luister: ‘Hotel’-akteurs sê vaarwel

Die uiters gewilde kykNET-komediereeks Hotel se vyfde en laaste reeks keer binnekort terug na die kassie.

Die uiters gewilde kykNET-komediereeks Hotel se vyfde en laaste reeks keer binnekort terug na die kassie.

Beer en Simoné vertel

Beer Adriaanse, wat die rol van Thomas speel, en Simoné Pretorius, bekend vir haar rol as Jony, het tydens die verfilming van die vyfde reeks met Maroela Media gesels oor hoogtepunte en herinneringe van Hotel en hoe dit gevoel het om vir oulaas in hulle karakters se skoene te staan.

“Die skoene wat ek op die oomblik dra, is ʼn nuwe paar. Maar ons het in hierdie seisoen die paar afgeskryf wat ek al vir vyf seisoene dra. Dit is dus ʼn letterlike en figuurlike afskeid wat ek van Thomas neem,” vertel Adriaanse.

“Ek is effens emosioneel. Dit was ʼn reis wat ek nooit sal vergeet nie en dit het ʼn geweldige invloed op my gehad. Hoewel ek vir Thomas op ʼn diep vlak gaan mis, vat ek tog ook ʼn deeltjie van hom saam met my.”

Pretorius het êrens in die derde seisoen een dag met haar eie skoene by die stel opgedaag. Van toe af het daardie paar hakskoene op ʼn manier deel van Jony geword.

Simoné Pretorius vertolk die rol van Jony in ‘Hotel’. (Foto: Facebook/Simoné Pretorius)

“Om vir die laaste keer in Jony se skoene te staan is ontsettend oorweldigend. Ek gaan waarskynlik elke keer soos Jony voel wanneer ek hierdie hakskoene dra,” vertel Pretorius. Sy sê verder: “Ek is só nostalgies en ek huil die heeltyd. Eintlik moet ek nie te veel daaroor dink nie.”

Adriaanse en Pretorius dink ook terug aan komiese oomblikke waar kykers vreemde sêgoed kwytgeraak het. Adriaanse sê dit was nogal opmerklik hoe gereeld mense vir hulle gevra het wie na die (Fransen) hotel kyk terwyl hulle besig is om nuwe episodes van die reeks op te neem.

Pretorius vertel ʼn interessante storie waar ʼn kyker haar man, Andries, met Thomas verwar het.

“Iemand het een keer vir my en Andries gestop en gevra of hulle ʼn foto saam met Jony en Thomas kan kry. Hulle het natuurlik gedink Andries is Beer (Adriaanse). Andries het heeltemal saam gespeel en gemaak of hy Beer is,” vertel sy laggend.

Pretorius het nie te lank gelede nie ook die rol as ma ingeneem. Sy vertel hoe sy dit reggekry het om die rol as aktrise en ma gelyktydig te vervul.

“Met die Here genade,” sê sy sonder om twee keer te dink. Harper was met die verfilming van Hotel slegs vier maande oud. Pretorius meen as dit nie vir haar familie en ʼn ondersteuningstelsel was nie, sou sy dit nie kon doen nie.

It really takes a village. Almal het ingespring en net my las ligter gemaak. As dit enige ander werk was, sou dit regtig moeiliker gewees het.”

Hotel se laaste seisoen

Toe kykers die span by die Fransen Hotel ná die vierde seisoen gegroet het, het Ferdie (James Borthwick) besluit om af te tree. Thomas (Beer Adriaanse) en Jony (Simoné Pretorius) het hulle bes probeer om ʼn sukses van die hotel te maak, maar dit gaan maar sukkel-sukkel. Wanneer Ferdie, wat oorsee gaan kuier het, weer sy sitplek in die bestuurder se kantoor wil inneem, skop Thomas en Jony met alle mag teë. Maar het hulle nie dalk vir Ferdie nodig om hulle verhouding te red nie?

Dan is daar die ooievaar wat kom kuier, ʼn jacuzzi agter op ʼn bakkie, Getroud met rugby raak betrokke en Jan Taks het ʼn paar vrae oor die boeke van die Fransen Hotel.

Benewens Borthwick, Pretorius en Adriaanse, is die res van die rolverdeling terug: Martelize Kolver (Brenda), Schalk Bezuidenhout (Danny), Mila Guy (Malanie), De Klerk Oelofse (Jaap), Manie (Ivan Botha) en Bennie Fourie (Dodgy Mike).

Van die gasspelers wat te sien gaan wees, is Pierre Breytenbach, Rika Sennett, Franci Swanepoel, Danie Botha, Altus Theart, Theodore Jantjies en Christel van den Bergh.

Op 3 Januarie skop die laaste seisoen van dié gewilde kykNET-komedie af. “Alle goeie dinge kom tot ʼn einde. Hierdie is een van daardie goeie dinge. Ek kan nie wag vir mense om seisoen vyf te sien nie,” meen Schalk Bezuidenhout, wat die rol van Danny vertolk.

Pierre Breytenbach is een van die gasspelers wat te sien gaan wees in ‘Hotel’. (Foto: Christa Steyn-Bezuidenhout/Maroela Media)

Hotel se vyfde seisoen is soos die landingslag van een van Elon Musk se vuurpyle. Dit is ʼn wilde en blitsige reis deur tyd en ruimte wat dan senutergend tot ʼn einde kom,” sê Adriaanse. “Soos ʼn vuurpyl gaan ons verder as ooit tevore en is daar ʼn daadwerklike kans dat die hele ding enige oomblik kan ontplof.”

Bennie Fourie, die regisseur en hoofskrywer, het saam met Adriaanse, Ryan Metcalfe en Claudia van Zyl aan die teks geskryf. Nagvlug Films is die vervaardigers met Scharl van der Merwe, Zandré Coetzer en Chanel Muller aan die stuur. Die reeks is by die Kleinkaap Boetiekhotel in Pretoria verfilm.

“Daar was iets spesiaals aan die seisoen… dalk omdat almal mekaar teen die tyd al so goed ken en die storie verstaan. Maar tien teen een omdat ons almal geweet het dis die laaste een en ons elke lewendige giggel uit die show wou pers,” meen Fourie.

Hotel is deur die jare vir verskeie Suid-Afrikaanse Film- en Televisie-toekennings (Saftas) benoem en het verskeie toekennings ontvang.  Vroeër vanjaar is Borthwick vereer as beste akteur in ʼn komedie, terwyl Kolver as beste vrouebyspeler in ʼn komedie vereer is.

Hotel begin 3 Januarie (Maandag) om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.

  • Luister hier bo na die volledige onderhoud met Simoné Pretorius en Beer Adriaanse. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.