Luister: Maude vertel oor rol as ‘waghond’ vir intieme tonele

Maude Sandham in die Maroela Media-atejlee. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Intieme of fisieke romantiese tonele kan ʼn kragtige en integrale deel van ʼn fliek of televisieprogram se verhaal wees, maar net so maklik onsmaaklik voorkom of akteurs se gemakgrense onnodig oorskry.

Hollywood-akteurs het veral sedert die Harvey Weinstein-skandaal en die #MeToo-beweging met verhale van verleentheid, verwarring, uitbuiting en selfs aanranding na vore gekom en die vermaakbedryf is gevolglik vir die eerste keer werklik genoop om fliek- en televisiestelle ʼn veiliger plek te maak wanneer hierdie tonele verfilm word.

Só is die rol van intimiteit-koördineerders gebore en die Binnelanders-aktrise Maude Sandham is nou een van slegs agt Suid-Afrikaners wat haar vaardighede geslyp het om hierdie onbekende, dog broodnodige verantwoordelikheid in die vermaakbedryf te dra.

Sy het in die Maroela Media-ateljee kom vertel wat haar genoop het om hierdie unieke kwalifikasie te verwerf en hoekom intieme tonele steeds ʼn plek op die verhoog en skerms moet hê.

Maude Sandham, Mila Guy en David Viviers agter die skerms op die stel van ‘Binnelanders’. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

“Intimiteit-koördineerders word dikwels met waagtoertjie-koördineerders vergelyk. Met aksiebelaaide tonele verwag niemand dat die akteur op die eerste dag van verfilming ʼn geweer moet kan gebruik of van ʼn brug af spring sonder dat dit deeglik beplan, bespreek en geoefen word nie. So hoekom kan hierdie selfde prosesse nie ook vir die intieme, emosionele of sensitiewe tonele gevolg word nie?”

Volgens Maude is ʼn belangrike deel van intimiteitskoördinering om onvoorspelbaarheid, veral met sekstonele, so ver as moontlik te probeer uitskakel deur gespesialiseerde ondersteuning te bied wat beide die rolverdeling én rolprentspan bemagtig.

Hierdie ondersteuning sluit onder meer ʼn sorgvuldige ontleding van die teks, besprekings met die regisseur en die deeglike deurtrap van hierdie tonele saam met die akteurs in.

“Selfs wanneer ek as regisseur werk volg ek ʼn werkswinkel-benadering waar almal se insae belangrik geag word. Ek glo nooit dat ek die beste of slimste persoon op ʼn stel is nie en streef na kreatiewe, maar ook veilige omgewings. Só word ongemaklike elemente uitgeskakel en akteurs toegelaat om op hul toneelspel te fokus.”

Sou ʼn akteur of regisseur van die voorafbepaalde “choreografie” van die toneel afwyk, kan ʼnintimiteit-koördineerder dan namens beide partye ingryp.

“Veral jonger akteurs is so bang dat hulle as moeilik bestempel gaan word of nie weer werk gaan kry as hulle nie vir alles instem nie, so ons is dan daardie skakel en beskermer tussen hulle en die regie.”

Sy skerts dat intimiteit-koördineerders daarom juis in sekere kringe gebrandmerk word as mense wat die “pret” uit die verfilmingsproses neem.

Selfs die Game of Thrones-akteur Sean Bean het in 2022 ʼn opmerking gemaak dat dié tipe koördineerders volgens hom sekstonele se verfilmingsproses van “spontaneïteit” ontneem.

“Dit is nou die een deel van ons werk waar daar nie juis ruimte vir improvisasie is nie. Niks kan spontaan wees nie, want ongelukkig is dit wanneer mense hul eie én ander se grense dikwels onbewustelik oorskry.”

Maude gesels ook oor die presiese stappe wat gevolg wanneer só ʼn toneel ontleed en geoefen moet word.

Maude is nou ‘n gekwalifiseerde intimiteit-koördineerder. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“Elkeen het sy eie unieke grense. Jy sal dink om kaal gesien te word, is die enigste grens wat akteurs het, maar dis nie die geval nie. Party is heeltemal gemaklik met naaktheid, maar hou nie daarvan as mense aan hulle hande vat nie. Ander gee nie om as hulle gedruk word nie, maar hou nie daarvan om gekielie of sag gestreel te word nie. Die liggaam kan nie lieg nie en ʼn mens kan op skerm sien as iemand ongemak ervaar.”

Sy sê akteurs moet dikwels ook geleer of herinner word om veral in sulke tonele hul karakter van hulself te verwyder.

Haar hulp word daarom ook nie summier gestaak wanneer die kameras ophou rol nie, maar kan strek selfs ná die uitsaai- of uitreikingsdatum van die betrokke produksie.

“Dis net natuurlik om bekommerd of selfbewus te voel. Jy bekommer jou oor wat die kyker en jou vriende of familie gaan dink, so dis belangrik om daardie gevoelens te klankbord en te verwerk nadat die eindproduk uiteindelik die wêreld ingestuur word.”

Sy benadruk dat dit ook nie net vroue is wat hierdie tipe ondersteuning of riglyne nodig het nie.

“ʼn Unieke kwesbaarheid ontstaan ook vir mans wanneer hulle op die skerm is. Hulle is soms uit ongemak of ordentlikheid té versigtig en hou gevolglik terug met hulle toneelspel. Akteurs soos die Amerikaner Penn Badgely wat in die Netflix-reeks You speel, het selfs met die mees onlangse seisoen ook gevra dat sekstonele anders benader word uit respek vir sy vrou.”

Omdat intieme oomblikke uitgebuit of veral op internasionale televisieprogramme bloot vir skokwaarde gebruik word, meen Maude dat die diepte daarvan onderskat kan word.

Haar hoop is egter dat die toenemende aanvraag na intimiteit-koördineerders die plaaslike, en veral Afrikaanse vermaakbedryf, sal toelaat om dieper te delf en verhale aan te pak waaroor hulle dalk voorheen versigtig was.

“Daar is niks fout daarmee om romantiese elemente in verhale te wil hê nie, maar daar moet met ʼn kritieke lens daarna gekyk word en gevra word hoe dit help om die storie beter te vertel. Ons as intimiteit-koördineerders kan dié proses help lei.”

Luister na die volledige onderhoud boaan die berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.