Luister: Wouter Botes los raaisels op ‘soos Indiana Jones’

Wouter Botes. (Foto: Verskaf)

In die ondersoekende reeks, Doodloopspore, soek die vlieënier en ondersoeker Wouter Botes na antwoorde op onopgeloste moorde, vermiste persone en vliegtuie, vreemde verskynsels en mites en legendes, sommige wat die nekhare behoorlik laat rys.

Wouter het reeds van kindsbeen af ʼn fassinasie met onverklaarde sake en onopgeloste verdwynings. Hy vertel in Maroela Media se ateljee dit was egter eers toe hy as vlieënier begin werk het, sowat 24 jaar gelede, wat hy werklik homself in veral vermiste vliegtuie en die soeke na vliegtuigwrakke kon verdiep.

“Ek kan nie aanvaar dat daar nie antwoorde is vir sekere goed nie. Jy kan doodeenvoudig nie soos mis voor die son verdwyn nie. As ʼn vliegtuig of ʼn persoon vermis word, is hy beslis iewers. Niemand het hulle nog net opgespoor nie,” sê Wouter, wat ook ʼn reeks net oor vermiste vliegtuie vervaardig het.

Volgens Wouter is dit samesweerders se teorieë wat dikwels sy ondersoeke kniehalter of sy spoed breek.

“Dit is ook gewoonlik die samesweerders wat teenstrydig met my bevindings wil wees. Ek daag hulle altyd uit om bewyse voor te lê wat die teendeel van my bevindings bewys, maar tot op hede het niemand nog ooit met bewyse vorendag gekom nie.”

Wouter sê dit is belangrik dat hy onemosioneel en klinies oor ʼn saak moet bly, maar erken dat die saak van Bubbles Schreuder, wat in 1949 vermoor is, hom na aan die hart lê.

“Ek kon een van die aangeklaagdes in die moordsaak konfronteer voor sy dood. Hy het my papiere oor sy tafel teruggeskuif na my toe en gesê: ‘Anybody can make a mistake’. Toe het ek geweet ek is reg.”

Hy vertel laggend iemand het een keer na hom verwys as Indiana Jones, die avontuurlustige karakter deur George Lucas, wat ook daarvan hou om raaisels en onverklaarde sake op te los.

“Ek het op Pongola op ʼn plaas grootgeword en daar was verskriklik baie subtropiese woude. Iemand het vir my gesê dit het my ‘Indiana Jones-sindroom’ ontketen,” sê hy.

“Ek dra nou wel nie ʼn hoed soos hy nie, maar dit is seker maar amper dieselfde. Ons albei het ʼn tipe van honger om goed te ontdek en uit te vind.”

Wouter Botes by Bubbles Schreuder se graf. (Foto: Verskaf)

Wouter is al vir 12 jaar deurlopend besig om verskillende sake te ondersoek. Hy ondersoek in Doodloopspore selfs bekende spookstories, soos dié van Heather, die verpleegster wat glo in die Breytenbach-teater woon, en die Spook van Uniondale.

Hy gesels ook met kenners, soos Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, wat ʼn Christelike perspektief gee op eeueoue spookstories wat van die een generasie na die ander oorvertel is.

“Ek probeer met elke ondersoek die goue middeweg vind en die  aanvaarbaarste verklaring of oplossing vir elke saak vind. Dit is soms vir my verstommend watse goed mense in ʼn ondersoek mis kyk.”

Hy sonder die ontdekking van Bubbles Schreuder se graf as ʼn hoogtepunt in die Doodloopspore-reeks uit.

“Iemand het die grafsteen afgebreek en al die wit engelkoppies wat op die omringende grafte was afgebreek en dit op Bubbles se graf neergesit.

“Ek het besluit om as laaste eerbetoon aan Bubbles haar grafsteen weer te laat herstel. Dit het my getref dat Bubbles weet wat die aand van haar dood gebeur het, en hier lê sy ses voet van my af, en ek kan haar nie vra nie.”

Doodloopspore is op AfriforumTV te sien. Laai die AfriforumTV-app gratis af om die reeks te volg.

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met Wouter Botes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.