‘Magda Louw’ kies koers verhoog toe, nóg ’n reeks op pad

Die kykNET-komediereeks, Magda Louw, wat in Januarie op kykNET begin het, het die afgelope paar weke vir ʼn goeie dosis kykvermaak gesorg.

Aanhangers het Maandag egter vir oulaas voor die kassie ingeskuif om dit te kyk toe die laaste episode van die reeks uitgesaai is.

Die einde vir hierdie vermaaklike reeks is gelukkig nog nie in sig nie, want ʼn dubbele vreugde wink met ʼn tweede seisoen wat op pad is, en Magda maak boonop binnekort weer ʼn buiging op die teaterverhoog.

Magda Louw vertel die storie van Magda en haar man, Erhard, wat aan ʼn werklikheidsreeks deelneem waar ʼn kameraspan hulle volg om hulle dag-tot-dag-lewe te dokumenteer. Natuurlik nie sonder ʼn paar onverwagse kinkels in die kabel nie.

Desiré Gardner, wat die titelrol in die reeks vertolk, het ook die draaiboek geskryf. Sy het Magda Louw aanvanklik as ʼn eenpersoon-verhoogproduksie geskep en dit is in 2021 as ʼn kykNET-storiefilm ontwikkel. Die gesoute akteur en Kwêla-aanbieder, Hannes van Wyk, is in die rol van Erhard te sien.

Volgens Desiré is dit vir haar wonderlik om te sien hoe kykers met Magda en Erhard vereenselwig.

Desiré Gardner het die karakter van Magda Louw ontwikkel en vertolk ook die gelyknamige rol. (Foto: kykNET)

“Kykers beleef Magda en Erhard se lief en leed, terwyl hulle daaroor kan lag en nostalgies raak. Baie mense sien iets van hulself in een van die karakters of die situasies, want hulle ervaar dalk dieselfde vrese en vreugdes. Só raak die reeks aan lewenswaarhede waaraan ons niks kan doen nie, soos oudword en verlies,” sê sy.

Desiré het reeds aan die tweede reeks begin skryf en dit sal na verwagting in 2024 op kykNET uitgesaai word. Sy meen dat kykers in die toekoms die ander karakters, soos haar kinders Baltus (Bennie Fourie) en Gertrud (Cintaine Schutte), beter gaan leer ken, en ook meer oor haar verhouding met hulle sal beleef.

“Die gevoel van die reeks gaan dieselfde bly: lag met ’n traan …”

Daar gaan natuurlik verrassings en veranderinge kom, want dit vorm deel van die lewe. “Die enigste konstante is verandering,” sê Desiré.

Die Magda Louw-verhoogstuk herleef wanneer dit eersdaags by vanjaar se Suidoosterfees debuteer. In dié vertoning, sê Desiré, gaan Magda haar siening van vrouwees en menswees met feesgangers deel.

“Dit is net Magda op die verhoog, so ons leer haar op ʼn ander, intiemer manier ken. Sy gaan ook dans en sing,” verklap Desiré.

Die Suidoosterfees word van 26 April tot 1 Mei by die Kunstekaap-teater in Kaapstad aangebied. Kaartjies is by Computicket beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.