Marciel Hopkins oor TV-boere, liefde vind en aktrise wees

Marciel Hopkins by die Lanzerac-wynlandgoed in Stellenbosch. (Foto: Facebook/Marciel Hopkins)

Met haar sagte aanslag wat getuig van insig en emosionele intelligensie het Marciel Hopkins blitsvinnig die harte van stoere Boer soek ʼn vrou-kykers vermurwe as aanbieder van die 13de seisoen.

Toe Marciel (28) egter in Maart verlede jaar uit New York, waar sy modelwerk gedoen het, in Kaapstad land om die reeks te begin skiet, het sy nog nie geweet presies hoe die Covid-19-pandemie die wêreld én die verfilming van die reeks op sy kop sou keer nie.

Die vervaardigers het haar kort voor die staat van inperking in kennis gestel dat die skietproses met drie maande uitgestel gaan word. Die formaat van die program moes ook verander om Covid-19-regulasies na te kom.

As iemand wat haar lewe lank haarself geleer het om haar hoë verwagtinge te bestuur, het sy dié teleurstelling flussies verwerk, sê sy.

“Die geleenthede wat die ander aanbieders voor my gehad het, soos om die tien boere op hulle plase te besoek en in daardie eerste gedeelte van die proses verhoudings met hulle te bou, is my ongelukkig ontneem.

“My kop was egter reg teen die tyd dat ons wel begin skiet het, al het ek geweet dit gaan moeilik wees en dat nie almal van die nuwe formaat gaan hou nie,” sê sy in ʼn onderhoud met Maroela Media.

In die eerste paar episodes moes kykers gewoond raak aan telefoniese gesprekke, virtuele ontmoetings en afgesonderde blitsafsprake.

“Ons het geweet mense gaan dalk nie die nuwe formaat van die program met ope arms ontvang nie, maar ons moes besluite neem wat ons almal se gesondheid kon waarborg. En ons kan met trots sê dat nie ʼn enkele spanlid, boer of deelnemer siek geword het tydens die verfilming van die program nie.”

Marciel Hopkins liefkoos ‘n dwergbokkie op een van die boere se plase. (Foto: Instagram/Marciel Hopkins)

Marciel het uiteindelik in die onderskeie distrikte op die plase van boere Niel (32) in Grabouw in die Wes-Kaap, Albert (24) in Clanwilliam in die Wes-Kaap, Déan (28) in Nelspruit in Mpumalanga, Kobus (52) in Randfontein in Gauteng en Richann (29) in Vredefort in die Vrystaat gekuier.

Dié vyf boere, wat almal in vanaand (Donderdagaand) se episode nóg ʼn dame huis toe stuur en slegs een pasmaat dan op die plaas agterbly, is volgens Marciel “ongelooflik emosioneel”.

“Die proses is beslis nie vir een van hulle maklik nie en hulle is so toegewyd om liefde te vind. Daar is soveel emosies betrokke en ʼn mens sien eintlik net die helfte daarvan op die kassie. Dit was ʼn ongelooflike pad om saam met hulle te stap.”

Sy het drama aan die Universiteit Stellenbosch studeer en spog ook met ʼn honneursgraad in sielkunde, ook van Maties.

Sy het sedert haar studie as ʼn lewensafrigter gekwalifiseer en het aan die begin van die staat van inperking altesaam 40 uur lange pro bono-lewensafrigtingsessies aanlyn aangebied. Sy glo dit het haar gehelp om voor te berei om via ʼn skerm verhoudings met die boere te bou.

“Ons skram dikwels weg van emosie af. Ons wil vir iemand sê ‘toemaar, moenie huil nie’, maar jy ontneem daardie persoon daarvan om in daai oomblik te ervaar wat hulle voel. Ons gevoelens is tog wat ons menslik maak. Ek het vir die deelnemers gesê wat op my hart is in die oomblik, aangesien dit  glad nie ʼn program met ʼn teks is nie. Om emosioneel te wees is nie ʼn slegte ding nie en ek wou vir die deelnemers ʼn ruimte gee waar hulle veilig kan voel met hulle emosies.”

Marciel Hopkins en haar verloofde, Handré Lourens. (Foto: Ben Heyns/Verskaf)

Sy het ʼn liefdesverhaal van haar eie wat in die agtergrond afspeel: Marciel het in Julie verlede jaar verloof geraak aan Handré Lourens by die Twelve Apostles Hotel buite Kampsbaai in die Wes-Kaap.

Lourens (30) is ʼn finansiële bestuurder van Kaapstad. Die paartjie is reeds sowat vyf jaar lank in ʼn verhouding.

“Om teleurstelling te voorkom het ons besluit ons gaan ons nie laat jaag om ʼn bruilof te hou nie. Ons het soveel vriende en familie gesien wat hulle troues moes uitstel en daar is net nog te veel onsekerheid. Ons kyk na 2022, maar niks is nog in ons dagboeke vasgemaak nie.”

Sy verklap dat sy nie een vir fieterjasies is nie en ʼn minimalistiese troue in gedagte het. “Ons wil graag vir ons gaste ʼn heerlike ervaring skep. Die enigste ding wat ek al begin doen het, is om na foto’s van trourokke te kyk,” lag sy.

Marciel verskyn ook later vanjaar in drie rolprente: Klein Karoo 2, teenoor Tim Theron, Leandie du Randt, Nicole Fortuin en Sisanda Henna; ʼn internasionale rolprent wat in Engels is en ʼn kortfliek vir kykNET, wat binnekort te sien sal wees.

“Ek dink mense vergeet dat jy ʼn aktrise is as jy dit nie voltyds uitleef nie. Ek het besluit ek wil daardie reis begin volg, maar modelwerk het my besig gehou. Daar was egter altyd die stemmetjie in my agterkop dat ek na toneelspel wil terugkeer en ek het in 2019 begin met dramaklasse om my vaardighede te verfris. Dit is definitief die rigting waarin ek my loopbaan wil stuur,” vertel sy.

Op die stel van ‘Klein Karoo 2’. V.l.n.r is Tim Theron, Sisanda Henna, Leandie du Randt, Marciel Hopkins en Nicole Fortuin. (Foto: Instagram/Marciel Hopkins)

Sy bieg dat sy nie destyds, toe sy in 2016 as een van die top-12 finaliste in die Mej. Suid-Afrika-kompetisie aangewys is, sou kon raai dat haar paaie na stowwerige plaaspaaie voor die kassie sou lei nie.

“Ek weet nie of die Here dit ʼn tema in my lewe maak nie, maar ek word gewoonlik aan die diepkant ingegooi met geleenthede wat oor my pad kom. Ek het byvoorbeeld nog nooit aan skoonheidskompetisies deelgeneem voor die Mej. SA-kompetisie nie en het ook nooit aanbiedings gedoen voor Boer soek ʼn  vrou oor my pad gekom het nie.

“Die diepkant is egter waar ek floreer, want ek geniet ʼn uitdaging. As dit is wat die afgelope vyf jaar kon gebeur, sien ek baie uit na wat die volgende 50 jaar inhou. My kop is vol langtermynplanne.”

Boer soek ʼn vrou is Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.