Marisa Drummond sluit by ‘Suidooster’ aan

Marisa Drummond vertolk die rol van ʼn charismatiese prediker, Orpa Blignaut, in die sepie “Suidooster”. (Foto: kykNET)

Deur Martjie Roos

Ons het die aktrise Marisa Drummond nog onlangs in Paul C Venter se dramareeks, Mooiweer en warm op kykNET, in die rol van ds. Issie Boshoff – die eerste vroue-predikant van ʼn plattelandse dorpie – gesien. Van Donderdag 1 Junie vertolk Marisa weer die rol van ʼn prediker, maar hierdie keer is sy ʼn charismatiese predikant, Orpa Blignaut, in die gewilde sepie Suidooster.

Die twee karakters verskil beslis soos dag en nag, vertel Marisa. “Ds. Issie se geloof en waardes was sterk, sy was ʼn ware en opregte Christen en kykers het van haar gehou. Ek sal Orpa nie noodwendig ʼn prediker noem nie. Ek dink sy is een van daardie love to hate-karakters. Sy en haar wederhelf, James (Dries Botha), kom uit die sakewêreld en hulle vertel vir almal die Here het hulle geroep om in die bediening in te gaan.”

Die egpaar beland uit die bloute in Ruiterbosch. “Orpa en James daag in Ruiterbosch op met die idee om hul eie klein gemeente in die dorpie te stig. Hulle klop eers by pastoor Siya Thuli (Gantane Kusch) aan om met klein gebedsgroepe in sy kerksaal te begin en hul bedoelings lyk op die oog af opreg. Of Orpa en haar man so onskuldig is as wat hulle voorkom, sal die tyd wel leer.” Maar meer oor die storielyn wil sy nie nou al verklap nie.

Omdat sy self ʼn toegewyde Christen is, het sy besluit om die karakter met handskoene aan te pak en “oorversigtig” en met respek uit te beeld. “Ek wou nie die Christen-geloof seermaak of kykers, wat dalk nie gelowig is, verwar nie. Dit is so maklik om uit Orpa se doen en later vingers te wys en te sê dit is die mens se fout of dit is die kerk se fout, of dit is God se fout. Mense het ook verskillende verwysingsvelde. Dit het lank geneem om Orpa se karakter te slyp omdat ek haar eerlik wou vertel en ook my eie geloof wou beskerm. Ek wou niemand met die karakter of storielyn aanstoot gee nie.”

Marisa Drummond in “Mooiweer en warm”. (Foto: kykNET)

ʼn Sepie-masjien se roetine en die blitsige pas waarteen dit verfilm word, is nie vir Marisa ʼn nuutjie nie. Sy het immers ses jaar as mede-regisseur op die sepie Getroud met rugby gewerk en ook in dieselfde sepie die rol van die molesmaker Ilse vertolk. Sy was ook voorheen in sepies soos Isidingo (die feeks Kimberley) en in Binnelanders het ons haar gesien as die booswig Alexa, ʼn professor wat studente vir haar oordeelsdag-kultus verwerf het.

“Nadat ek en my man Christopher in 2018 Kaap toe verhuis het, het ek die volgende jaar vir drie maande op Suidooster dialoogafrigting gedoen en van die produksiespan en akteurs leer ken, dus het ek gouer tuis gevoel toe ek as Orpa by die sepie moes inval, maar dit bly tog ʼn ander milieu wanneer jy voor die kamera werk.”

Die veelsydige aktrise het van September tot Desember ook kliphard aan die vervaardiging van ʼn romantiese komedie, Mini Golf, vir kykNET se Storiefilms-projek gewerk wat Saterdagaand om 20:00 op kykNET uitgesaai word. Die rolprent gaan oor ʼn baanbeampte, Dirk (Luan Jacobs), by ʼn putt-putt-baan wat gestagneer het en ʼn gedrewe prokureur, Cara (Lee Visagie), wat sy lewe verander.

“Ek sou ook die regie van Mini Golf behartig het, maar my pa is verlede jaar met limfoom-kanker gediagnoseer en ek wou meer tyd saam met hom spandeer. André Velts het toe die leisels as regisseur oorgeneem.”

Sy is ook later vanjaar in nog ʼn groot dramareeks te sien, waarvan die inligting nog nie op hierdie stadium bekend gemaak mag word nie.

Of sy nou die feeks, booswig, grapjas of aksie-heldin speel, Marisa gooi haar gewig altyd honderd persent in haar vertolkings en die voorbereiding van haar karakters.

Marisa Drummond in “Spoorloos: Die eiland”. (Foto: kykNET)

“Dit is altyd moeilik om te kies watter soort rolle ek die meeste van hou, want ek put byvoorbeeld net soveel genot uit aksierolle soos Sandy wat ek in Fluiters gespeel het as komiese rolle soos Ester in die komediereeks Hester en Ester Bester en Wilma in Elke skewe pot. Ek geniet dit altyd om die fyn komedie tussen die lyne te soek. Sy is ook baie lief vir radiowerk en oorklanking. “Dit is ʼn heerlike medium om in te werk. Ek het jare gelede oorklanking vir korporatiewe video’s gedoen en dit baie geniet.”

Marisa se oogappel is haar elfjarige dogter Annabel, en sy blom wanneer sy oor haar gesels. “Annabel is my Blompot, my Boemstix. Sy is nou besig om in ʼn regte tiener te ontpop,” vertel sy.

So tussen al haar werksverpligtinge en ma-wees vir Annabel probeer Marisa om so veel as moontlik gehalte-tyd saam met haar pa te spandeer. “Ons probeer om so sewe kilometer op ʼn keer op die strand te stap. Ek en hy is baie dieselfde en kan lank in mekaar se geselskap spandeer sonder om ʼn woord vir mekaar te sê.”

  • Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Marisa is van Donderdag 1 Junie in die sepie te sien. Mini Golf word Saterdagaand om 20:00 op kykNET uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nommer 7 ·

Marisa, met ‘n sangstem soos Amy Lee van Evanescence, moet jy meer sing, asb!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.