Melk spat, trane rol én tassies gepak in ‘Plaasjapie’

Danielle het haar span aangeraai om Donovan huis toe te stuur. (Foto: kykNET/Verskaf)

Die melk het gespat, die trane het geloop en ʼn stadsjapie het reeds ná een aand die trekpas gekry in die eerste episode van die nuwe seisoen van kykNET se werklikheidsreeks Plaasjapie.

In dié program verruil 16 deelnemers hulle gemaklike stadsnessies vir ʼn primitiewe plaasbestaan, vir ʼn kans om R1 miljoen te wen.

Ewan Strydom, wat weer die aanbieder van die reeks is, het die groep in Donderdagaand se episode op die plaas verwelkom en in twee kampe, Groenkloof en Oranjezicht, verdeel.

Twee koeie, twee speenvarkies, vier skape, ʼn paar hoenders, asook al die basiese benodighede om behoorlik hand aan die ploeg te kan slaan, het ook vir die plaasjapies gewag.

Deelnemers het dag een gebruik om kennis met hulle nuwe spanmaats én tuiste te maak, maar moes vinnig aan die werk spring om hulle diere te versorg. Hulle het ook nie op hulle laat wag om bande te begin smee vir moontlike “koöperasie-kuiers” nie. By dié kuier word daar besluit watter spanmaat nie sy of haar sout werd is nie en die trekpas moet kry.

Anders as verlede jaar kan daar nou nie net sout uit elke deelnemer se “silo” geskep word indien spanmaats iemand huis toe wil stuur nie, maar sout uit hul eie pot kan ook gebruik word om ʼn ander spanmaat te red.

Die plaasjapies het nou elkeen ook ʼn pekelpennie ontvang wat gebruik kan word om sout by Ewan te “koop” indien hulle hulself wil red voor ʼn koöperasie-kuier, maar sou dit ingespan word, gaan daar R20 000 van die R1 miljoen prysgeld afgetrek word.

Die Groenkloof-span op pad na hul plaas toe. (Foto: kykNET/Verskaf)

Koppe gestamp en konkelry aangespoor

Michelle de Waal (42), ʼn haarstilis van Beaufort-Wes in die Wes-Kaap, en Blue Kester (39), ʼn gemeenskapsontwikkelingskoördineerder van Bellville in die Wes-Kaap, het die looitjietrekkery gewen om onderskeidelik as Oranjezicht en Groenkloof se spanleiers, oftewel “baas van die plaas”, aangewys te word.

ʼn Skynbaar maklike plaastaak soos koeie melk het dadelik wrywing tussen Oranjezicht se Liezle Wiese (56), ʼn verkoopsverteenwoordiger en bemarker in die konstruksiebedryf van Germiston, Gauteng, en Danielle Reinecke (24), ʼn somatoloog van Rustenburg, Noordwes, veroorsaak.

“Watse graad 7-drama is daai, Liezle?” het Danielle gevra toe ʼn verskrikte Liezle die emmer melk per ongeluk omgestamp het nadat hulle span se koei onrustig was.

Liezle sê Danielle het haar gevoelens seergemaak. (Foto: kykNET/Verskaf)

“Ek weet mos nie hoe om ’n koei te melk nie. Ek wou haar met hierdie emmer oor die kop slaan,” het ʼn tranerige Liezle oor Danielle se aanmerking gesê.

Danielle het weer gekla haar spanmaats fokus nie. “Ek was so gefrustreerd met Liezle. Dis heeltyd ʼn kuiersessie en niemand let op nie, niemand luister nie.”

Ook Donovan Massyn (34), ʼn senior handelsrekeningbestuurder van Pretoria, se beweerde baasspelerigheid het Danielle warm onder die kraag gehad, en daar is vinnig gekonkel om sout uit sy silo te skep mits die span na ʼn koöperasie-kuier genooi word.

Groenkloof het koning gekraai met die eerste uitskop-uitdaging. (Foto: kykNET/Verskaf)

Die temperamente was rustiger by Groenkloof, hoewel die span met rooi gesigte gelaat is nadat hulle aartappelplantjies vir onkruid misgis het en dit summier uitgetrek het.

Die gras was wel vir hulle groener ná die eerste uitskop-uitdaging, waar die span koning gekraai het nadat hulle ʼn hindernisbaan met blinddoeke aan die vinnigste kon voltooi. Oranjezicht was gevolglik die eerste span wat vir ʼn koöperasie-kuier genooi is.

Donovan pak Plaasjapie vir sy ma aan

Donovan was die eerste plaasjapie wat sy tassie moes pak. (Foto: kykNET/Verskaf)

Hoewel daar sout van Donovan én Danielle geskep is, is sy naam uiteindelik uitgeroep.

“Dis ’n oorvloed van emosies op hierdie oomblik. Jy dink jy sit op die voorvoet, en dan word die mat onder jou uitgeruk,” het ’n emosionele Donovan na afloop van die kuier gesê.

Hy vertel hy het vir Plaasjapie ingeskryf om ’n baken van hoop vir sy enkelma te wees.

“Ek dink die dankie wat sy hieruit kan vat, is dat ek probeer het. Ek het my beste gegee, en ek kan hierna terugkyk en vir haar sê ek sal weer probeer.”

  • Plaasjapieis Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.