Nightbirde se nalatenskap leef voort in lied

Nightbirde. (Foto: Facebook/Nightbirde)

ʼn Nuwe kragtige lied wat deur die sanger Jane Marczewski, beter bekend as Nightbirde, neergepen en opgeneem is voor haar dood vroeër vanjaar, is besig om trefferlyste wêreldwyd te klim.

Die sanger, wat in Februarie in die ouderdom van 31 oorlede is nadat sy haar stryd teen kanker verloor het, se gesin het die afgelope naweek ’n kragtige oorspronklike liedjie genaamd “Fly” bekendgestel.

Maroela Media het vroeër berig dat die sanger verlede jaar tydens haar oudisie vir die 16de seisoen van America’s Got Talent harte wêreldwyd verower en miljoene mense aangeraak het met ʼn oorspronklike liedjie uit haar pen en haar positiewe uitkyk op die lewe.

Sy het aan die beoordelaars verduidelik dat sy ʼn uiters aggressiewe kanker in haar longe, ruggraat en lewer het en volgens dokters net ʼn 2%‑kans op oorlewing gehad het.

Haar oudisie het beoordelaars Simon Cowell, Heidi Klum, Howie Mandel en Sofia Vergara uitgeboul en het tans meer as 46 miljoen trefslae op YouTube.

(Foto: Instagram/Simon Cowell)

Marczewski moes destyds weens haar kankerstryd aan America’s Got Talent onttrek, maar het steeds voortgegaan om haar drome en laaste musikale wense na te streef.

Haar gesin het op 23 Julie 2022 “Fly” en sy gepaardgaande musiekvideo uitgereik ten bate van The Nightbirde Memorial Fund, ’n stigting wat geld vir kankernavorsing insamel en mense ondersteun wat nie die nodige behandeling kan bekostig nie.

Nightbirde het destyds die sogenaamde golden buzzer gekry. (Foto: Instagram/Nightbirde)

Ryan Carl, ʼn jarelange vriend van die sanger, het ʼn montage van haar musiekloopbaan van universiteit tot haar groot oomblik op America’s Got Talent vir die musiekvideo saamgestel.

“Ons hoop mense voel haar teenwoordigheid, hoop, geluk en vreugde deur te onthou dat Jane nou hoog vlieg sonder enige pyn. Ons is so bly sy het in haar leeftyd die kans gekry om ʼn deel van haar musiekdrome te laat realiseer,” het die gesin oor dié nuwe lied op YouTube gesê.

Haar gesin het ook vroeër vanjaar een van haar liedjies genaamd “Brave” bekendgestel.

Cowell, wat vir Nightbirde die sogenaamde golden buzzer tydens haar oudisie gegee het (wat beteken dat sy outomaties deurgaan na die finale uitdunrondes wat regstreeks plaasvind), het vroeër vandeesmaand weer hulde aan die sanger op sosiale media gebring.

“Nightbirde was een van die mees inspirerende mense wat ek nog ontmoet het. Sy was so ongelooflik dapper en ek is baie dankbaar dat sy America’s Got Talent gekies het om die wêreld haar talent te wys. Ek sal hierdie oomblik nooit vergeet nie,” het Cowell saam met ʼn foto waarin hy die sanger omhels geskryf.

Luister na die nuwe lied hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

honeybee ·

So hartseer, het haar gesien op America got talent ek kon vir nagte nie slaap nie. So jonk, het ou herinnerige weer oop gekrap.

VannieBaai ·

Asemrowend – so jammer dié vroutjie is nie vroeër ontdek met haar sang talent nie. R I V Jane ♥

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.