Nuwe dokumentêr: Die geskiedenis van die konsertina

Jaco van Deventer (Foto: Verskaf)

Jaco van Deventer het meer as tien jaar bestee om die geskiedenis en kultuur van die konsertina vas te vang in ʼn dokumentêre rolprent wat onlangs bekendgestel is.

Van Deventer speel al vir sowat 30 jaar die konsertina en is al 14 jaar lank heeltyds ʼn musikant en lid van die boeremusiekgilde.

Tydens verfilming van Die konsertina het Van Deventer met talle konsertina-vervaardigers gesels en hy het ook die bekende Wheatstone Co. in Engeland besoek. Hy het boonop geskiedenis gemaak deur die eerste persoon te wees wat ʼn onderhoud by Wheatstone Co. losgeslaan het.

Wheatsone Co. is die bekendste konsertina-handelsmerk ter wêreld. Dit is die maatskappy wat oorspronklik konsertinas begin vervaardig het en konsertina-musiek die wêreld ingestuur het.

Van Deventer vertel dat hy in 2007 begin het met die verfilming van Die konsertina, maar dat hy toe nie geweet het wat presies wat sy boodskap sou wees nie. Intussen het hy ʼn sterk storielyn en boodskap geformuleer wat hy met dié dokumentêr wil oordra.

Die Konsertina

“Die konsertina is ʼn stukkie geskiedenis wat agtergelaat is. Die nuwe generasie weet wat dit is, maar hulle ken nie die geskiedenis nie,” sê hy.

Charles Wheatsone, stigter van Wheatstone Co. (Foto: Verskaf)

“Daarom het dit op my hart gedruk om te wys dat daar meer is agter ʼn konsertina as bloot vermaak om ʼn kampvuur. Die instrument het dit deur oorloë gemaak, deur dik en dun, en dit is baie nostalgies.”

Van Deventer vertel dat hy uit sy navorsing geleer het dat die konsertina, wat alombekend is as ʼn instrument van boeremusiek, eintlik ʼn totale ander oorsprong het.

“Hoewel mense die konsertina sien as iets wat deur boere gespeel word, is dié instrument eintlik eerste deur die Zoeloes in Suid-Afrika bespeel,” vertel hy.

“Die Duitsers het die heel eerste tipe konsertina gemaak in die 1800’s, en dit was geskoei op die beginsels van ʼn Chinese instrument. Vandaar het die Zoeloes dit in Suid-Afrika gespeel en eers daarna die boere.”

Van Deventer hoop dat dié dokumentêr mense sal help om meer waardering vir die konsertina en sy geskiedenis te hê.

Hy sê ook dit is vir hom belangrik om die boodskap uit te dra dat ʼn konsertina nie noodwendig slegs outydse musiek moet maak nie.

Jaco van Deventer (Foto: Verskaf)

“Die instrument is baie veelsydig en reg oor die wêreld word dit in verskillende soorte musiek gebruik. Hy hoef nie net die klanke te maak wat hy 100 jaar terug gemaak het nie, dit kan vernuwe word,” sê hy.

Vir Van Deventer is die bekendstelling van die dokumentêr ʼn groot mylpaal wat hy behaal het ná tien jaar van verfilming. Hy is trots daarop dat hy met Wheatstone Co. kon gesels en dat hy konsertinamakers wat intussen al dood is se verhale kon verewig.

“Dit was ʼn lang proses, maar iets waarop ek baie trots is. Dit is ʼn manier om ʼn kultuur te behou, en om ʼn kultuur te behou moet jy die geskiedenis daarvan ken en verstaan.”

Van Deventer het ook tydens die isolasietydperk begin om aanlyn boeremusieksessies saam met van sy familielede, wat bekend is in die boeremusiekbedryf, op te neem.

Dié sessies sluit mense in wat op verskillende plekke saam boeremusiek maak.

Hy sê hy is verbaas oor die aandag wat dié video’s gekry het, en dat hy besef het daar is ʼn groot aanvraag daarvoor.

“Dit is ’n goeie ontvlugting van [dit] wat op die oomblik aangaan. Dit laat jou ʼn bietjie vergeet daarvan dat jy eintlik by die huis is vir ʼn ander rede, en ek dink dis wat mense nodig het,” sê hy.

Kliek hier om na van die Van Deventers se boeremusieksessies te kyk.

Die konsertina is hier beskikbaar om na te kyk. Dit kos R30 om te koop en R20 om te huur. Die dokumentêr is 23 minute lank en die verteller is die bekende radiopersoonlikheid Fonnie du Plooy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.