Nuwe ma Simoné terug op die kassie

Heléne Truter en Simoné Pretorius op die stel van ‘Swartwater’. (Foto: Verskaf)

As aktrise het Simoné Pretorius al verskeie rolle vertolk, van ʼn huwelik-sku verpleegster in Vir die voëls tot ʼn ontvangsdame in Hotel. Sy is ook eersdaags te sien as die prostituut Krizanda in die SABC2-dramareeks Swartwater.

Die aktrise, wat in Mei verlede jaar die kykNET-hospitaalsepie Binnelanders en die rol van sr. René Spies gegroet het, sê sy het ʼn e-pos met ʼn teks vir Swartwater ontvang om vir die rol van Krizanda ʼn oudisie af te lê.

Sy bieg dat sy aanvanklik onseker was oor haar vermoë om dié karakter met oortuiging te vertolk. “Dit was egter ʼn groot kompliment toe ek uiteindelik sommer die rol losslaan sonder om die oudisie af te lê. Ek was dus effe by die diepkant ingegooi, want die oudisie sou my die kans gegee het om voor te berei vir die rol.”

Sy verklap dat sy met die verfilming van Swartwater in haar eerste trimester van swangerskap was. Sy het op 3 Mei vanjaar geboorte gegee aan haar en haar man, Andries, se eersteling.

“Die skietervaring was lieflik, al was ek ʼn paar weke swanger en baie moeg. Jy ervaar jou liggaam in ʼn nuwe fase en skielik moet jy ʼn prostituut speel wat los in die lyf is en klere dra wat baie lyf wys. Dit was uiters fassinerend.

“Dit was ook die eerste keer dat ek saam met baie van die akteurs op die stel gewerk het. Dit was ʼn vars, nuwe ervaring en ek is so dankbaar daarvoor.”

Simoné Pretorius, Heléne Truter en Keenan Arrison op die stel van ‘Swartwater’. (Foto: Verskaf)

Volgens Simoné is Krizanda ʼn rowwe diamant wat uit die lewe van prostitusie wil ontsnap. “Sy voel sy kry te min vir wat sy als in die lewe insit en begin dan mans van hulle beursies besteel. Sy sien dit as ʼn vinniger manier om geld te maak en betrek dan vir Cindy Avontuur (vertolk deur Robyn Rossouw) daarby.

“Sy was ʼn lieflike karakter om te vertolk, want sy was baie flambojant en dit was nie ʼn veilige karakter om te vertolk nie. Sy is weerloos, maar bied ook komiese verligting en het nie ʼn wag voor haar mond nie.”

Die jongste rol wat sy egter ook vertolk, is dié van ma van klein Harper Harvest Pretorius. “Ek sien regtig baie uit na moederskap,” het Simoné voor die geboorte aan Maroela Media gesê.

“Ek en Andries het die hele proses in die Here se hande oorgelaat, ook oor wanneer om swanger te raak, wat toe gouer gebeur het as wat ons gedink het dit sou. Ons was oortuig dat ons dalk sou sukkel om swanger te raak en was ook betrokke by ʼn paar projekte wat alles weens Covid-19 uitgeskuif is.

Simoné Pretorius. (Foto: Marguerite van Eeden Fotografie/Instagram)

“En toe raak ek swanger en dit was asof die Here net hierdie tydperk vir ons oopgemaak het; die tydsberekening was net so ongelooflik. Ons wou nog altyd ouers wees en ons is albei baie lief vir kinders. Van wat ek hoor, word ʼn mens met ouerskap by die diepkant ingegooi, maar dis waar ek en Andries floreer.”

Sy het vertel klein Harper se oumas staan slaggereed om handjie by te sit wanneer Simoné weer voor die kameras moet wees. Haar eerste projek ná die geboorte is in Augustus.

“Ons het reeds ons koppe daarop ingestel dat vanjaar absolute chaos gaan wees. Dit is baie oorweldigend, maar ons het ʼn ongelooflike ondersteuningsnetwerk, waarvoor ons dankbaar is.”

Swartwater is elke Dinsdag om 19:30 op SABC2 te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.