Nuwe telenovelle wink vir kykNET&kie

ʼn Splinternuwe telenovelle, Skemergrond, sal in Julie vanjaar sy debuut op kykNET&kie maak. (Foto: verskaf)

ʼn Splinternuwe telenovelle, Skemergrond, sal in Julie vanjaar sy debuut op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) maak. Dit sal in die plek van Arendsvlei, wat in Januarie vanjaar sy 1 000ste episode gevier het, uitgesaai word.

“Ons is verheug oor hierdie fantastiese geleentheid. Die vars en opwindende rolverdeling gaan ʼn epiese familiesage na die kassie bring,” vertel Roxanne Blaise, die hoofregisseur van die dagdrama.

Skemergrond speel af in Gemoedsdrif, ʼn klein dorpie in die Wes-Kaap, en draai om die Louw-familie en hulle pragtige blomplaas. Die Louws se rustige bestaan word omver gegooi wanneer onverwagte gaste opdaag wat dreig om skokkende familiegeheime te onthul. Ou wonde word oopgekrap en nuwe bande word gesmee om die Louws en hulle nalatenskap te red en te beskerm.

Marissa Drummond, bekend vir haar rolle in reekse soos Spoorloos: Die Eiland, Mooiweer & warm en Suidooster, sal ook as regisseur vir Skemergrond dien. Bobby Stuurman, wat met Arendsvlei sy opleiding as regisseur gekry het, is die leerlingregisseur en dialoog-afrigter.

Die gedugte skryfspan het tussen hulle aan elke geliefde sepie en telenovelle in die land gewerk: Jo-Ann Scholtz (7de Laan), Johann Davis (Arendsvlei, Suidooster), Alyzzander Fourie (High Rollers, Isidingo), Margaret Goldsmid (Diepe waters, Arendsvlei, Afgrond), Meesha Aboo (Diepe waters, Unseen, Arendsvlei), Kanya Viljoen (Arendsvlei), Lauren Scholtz (Arendsvlei, Diepe waters), Henry Cloete (Arendsvlei, Diepe waters, Suidooster) en Tristam Atkins (Diepe waters, Unseen, Arendsvlei, Suidooster).

Die reeks word deur Penguin Films vervaardig, wat reekse en films soos Sara se geheim, Fishy fêshuns, Afgrond en Diepe waters op hulle kerfstok het. Roberta Durrant en Andrea Frankson-Titus is die kreatiewe vervaardigers van Skemergrond.

“Ons het ʼn uitsonderlike rolverdeling en ʼn briljante span mense agter die skerms bymekaar gebring om hierdie veelvlakkige storie vol geheime, liefde en wraak te vertel. Kykers gaan aangegryp en verras word deur al die emosionele kinkels,” sê Roberta.

  • Die rolverdeling van Skemergrond word later aangekondig, maar sluit legendariese spelers én opwindende jong talent in. Skemergrond begin in Julie 2024 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145). Dit sal van Maandag tot Donderdag om 19:30 uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.