Nuwe werklikheidsreekse wink op kykNET

Ewan Strydom, aanbieder van ‘Plaasjapie’. (Foto: Verskaf)

Is jy iemand wat soos ’n boer ’n plan kan maak, ongeag van die omstandighede?

kykNET het pas aangekondig dat sy gewilde werklikheidsreeks, Plaasjapie, binnekort terug is vir ʼn tweede seisoen en sterk op soek is na 16 deelnemers om te bewys dat “boer” wel deur hul are loop.

Soos met die eerste seisoen, gaan hierdie deelnemers mekaar die stryd aansê om hulle staal en boervernuf te toon. Plaasjapie is egter nie op soek na gevestigde boere nie, maar na stads- en dorpsjapies wat smag na die plaaslewe en die uitdagings wat dit bied.

Indien dit nie aanloklik genoeg klink nie, is daar natuurlik ook R1 miljoen se prysgeld op die spel.

In Plaasjapie moet deelnemers ook bande smee, alliansies maak en mekaar onder die spreekwoordelike bus, of eerder trekker, probeer gooi.

Tussendeur staan die werk op die plaas egter nie stil nie en deelnemers sal vir die eerste keer in hul lewe boerdery moet aanpak, maar sal geen moderne tegnologie tot hul beskikking hê nie.

 

Dian Louw, ʼn kunstenaar van Pretoria, het verlede jaar nie net bewys dat strategie belangriker as spiere is nie, maar ook stereotipes help afbreek in sy reis om as wenner van die eerste seisoen van Plaasjapie gekroon te word.

Dian het ná 21 uitmergelende dae op ʼn plaas in die Swartland aan die Weskus met die Plaasjapie-titel én R1 miljoen se prysgeld weggestap nadat hy soos ’n veteraan draad gespan en skape aangejaag het –  iets wat myle buite sy gemaksone as kunstenaar was.

Die programaanbieder, Ewan Strydom, het Dian se sukses in Plaasjapie onder meer daaraan toegeskryf dat hy alles sistematies en kalm aangepak het.

“Ek sien Plaasjapie as een ongelooflike avontuur en ʼn absolute unieke ervaring wat ʼn mens met ander spesiale mense kon deel. ʼn Mens kan nie eintlik vir mense presies verduidelik hoe dit was nie, net ons klompie het werklik begrip vir dit waardeur ons moes gaan,” het hy voorheen aan Maroela Media vertel.

“Die samelewing plaas ons almal in stereotipiese boksies, maar Plaasjapie wys hoe mens ander verkeerd kan bewys as jy net ʼn kans gegun word.”

Daarom moedig hy mense baie entoesiasties aan om vir vanjaar se reeks in te skryf.

Dian se Noubees-spanmaat, Esteban het destyds saam met hom in die ateljee kom kuier. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“Dit is die avontuur van ’n leeftyd. Jy leer nie net meer van jouself ken nie, maar ook van ander mense, die plaas en hoe boere dit doen. Skryf in, toets jouself. Dis maklik om op die bank te sit en te dink jy kan dit maklik doen.”

Inskrywings open op 26 Julie 2023 en sluit weer op 25 Augustus 2023. Geen laat aansoeke sal aanvaar word nie. Kliek hier om in te skryf.

Plaasjapie se formaat is soortgelyk aan die oorlewingsreeks, Survivor SA. News24 berig daar is egter geen planne om nog ʼn Suid-Afrikaanse seisoen van dié uiters gewilde werklikheidsreeks, wat in die VSA op 44 seisoene staan, te vervaardig nie.

Die negende en jongste seisoen van Survivor SA het op 18 Julie verlede jaar op M-Net begin uitsaai. Dino Paulo het met die louere en prysgeld van R1 miljoen weggestap. Lees Maroela Media se onderhoud met Dino hier.

Nuwe internasionale program skop af

ʼn Nuwe, opwindende Suid-Afrikaanse weergawe van die internasionale werklikheidsprogram, The Bridge, sal vanaf Donderdag 26 Oktober om 20:00 op kykNET te sien wees.

The Bridge sien hoe vreemdelinge kragte saamsnoer in ‘n afgeleë plek om ’n brug van etlike honderde meter lank na ’n eiland te bou. Hier word ’n kontantprys van R1 miljoen versteek, maar net een deelnemer sal met die prys wegstap en moet besluit om óf dit te deel óf dit alles vir hulself te neem.

Die plaaslike weergawe, Die Brug, bestaande uit elf episodes is vervaardig deur Red Pepper Pictures, wat ook vir programme soos Wie word ʼn miljoenêr verantwoordelik is.

The Bridge het ook al in lande soos Australië, Brasilië en die Verenigde Koninkryk afgespeel.

Dit is die 11de aflewering van dié reeks en volgens Waldimar Pelser, M-Net se direkteur van kykNET-kanale, is dit die kykNET-werklikheidsprogram waarvoor daar nog die meeste inskrywings ooit ontvang is.

The Bridge is nie net ‘n program nie, dit is ‘n wêreldwye belewenis wat die belangstelling van kykers regoor die wêreld vasvang. Ons is verheug om die plaaslike weergawe van hierdie trefferreeks te vervaardig, die beste Suid-Afrikaanse talent bymekaar te bring en ons pragtige landskappe ten toon te stel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Piet 6 ·

Ek stem saam. Oorsese goed wat “gecopy” word, herhalings tot vervelens toe, wenners word vooraf bepaal, ensovoorts.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.