Nuwe winde wat waai ʼn groot seën vir Annelisa Weiland

Annelisa het in Februarie 2019 haar 70ste verjaardag op die stel van 7de Laan gevier (Foto: Verskaf)

Annelisa Weiland het in 2019 7de Laan en haar geliefde karakter “Hilda” vaarwel geroep. Sy het kort daarna Kaap toe verhuis en is deesdae in die kykNET-sepie Suidooster as Kate Moss te sien.

Maroela Media het by Weiland aangeklop om meer uit te vind oor haar lewe in die Kaap.

Winde van verandering

“Ek het gelukkig reeds die rol by Suidooster gehad toe ek Kaap toe getrek het,” vertel Weiland. Sy sê dat dié geleentheid dit vir haar moontlik gemaak het om ʼn nuwe hoofstuk in die Kaap te begin.

“Toe Suidooster my die rol aangebied het, het ek geweet dis ʼn keuse wat ek moet maak en dis ʼn geleentheid wat ek eintlik nie van die hand kon wys nie,” erken Weiland.

“As ek self moes trek, sou dit vir my baie moeiliker gewees het, want ek sou dit moes doen sonder om na ʼn werk toe te kom.”

Weiland vertel dat sy as’t ware teruggekeer het na haar wortels toe.

“Ek het in die Kaap grootgeword. Ek is hier gebore, het hier skool gegaan en studeer. Ek het kort na my studies Johannesburg toe getrek,” vertel sy.

Weiland het byna 50 jaar in Johannesburg gewoon en gewerk. Sy was gelukkig, het baie vriende gehad en lekker gewerk.

“Ek was gelukkig in my werk. Ja, daar was hier en daar klein goedjies wat nie altyd honderd persent reg was nie, maar dit was nooit groot goed nie.” Sy dink natuurlik dat Johannesburg se weer waarskynlik “van die beste in die wêreld is”.

Weiland is reeds ses maande in die Kaap en meen dat dit ʼn goeie besluit was om terug te keer.

“Hier is ek nou byna ses maande later en ek pas eintlik baie goed in,” vertel sy tevrede. Weiland het vantevore in haar loopbaan saam met sommige van die akteurs by Suidooster gewerk en beskou haar rol by dié sepie as ʼn voorreg.

“Ek is baie geseënd om werk te hê,” sê Weiland. “Baie mense en van my kollegas het nie werk nie.”

Annelisa Weiland is tans in die kykNET-sepie Suidooster as Kate Moss te sien (Foto: Verskaf)

Hoewel die werksomgewing nie heeltemal vreemd was nie, erken sy dat dit tog ʼn aanpassing was om in die Kaap te bly.

“Die moeilike ding van die Kaap is dat die mense geslote is,” verduidelik sy. “En dis nie asof mense nie vriendelik is nie. Die mense wat ek al hier teëgekom het, is vriendelik en fabulous.

“As jy op straat is, is almal vriendelik en hulpvaardig, maar dan gaan almal aan die einde van die dag terug na hulle huisies toe en die deure word as’t ware gesluit,” sê sy. “Dis die groot verskil tussen Johannesburgers en Kapenaars. Mense is meer daar vir mekaar in Gauteng.”

Weiland moes tussendeur die verfilming van “Lui maar op, Belinda”, wat in die Kaap geskiet is, boonop huis soek. Sy het die rol van Annatjie, ʼn oudonnie, in dié kykNET-komedie gespeel. Haar boetie, Ewald, en sy vrou, Michelle, woon ook in die Kaap en het in dié tyd ʼn groot rol gespeel.

Annelisa Weiland se Weimaraner, Zara (Foto: Verskaf)

“My boetie is ʼn afgetrede bouer,” verduidelik Weiland. “Dit kom dikwels baie handig te pas”, skerts sy. Weiland vertel dat hulle goed oor die weg kom en gereeld by mekaar kuier.

Wanneer sy nie saam met haar boetie-hulle of by vriende kuier nie, is sy by die huis saam met haar honde, Zara en Jasper.

“Zara is ʼn Weimaraner. Sy’s ʼn moeilike hond, so ek moes versigtig wees om sommer enige hond te kry,” vertel Weiland. “Die vrou wat haar smiddae gevat het om te gaan stap, het toe voorgestel dat ek ʼn poedel kry omdat hulle baie aanpasbaar is.”

Weiland bieg dat dit die laaste hondespesie is wat sy sou oorweeg het. Jasper is ʼn standaardpoedel en word binnekort drie jaar oud.

“Jasper is só ʼn snaakse hond. Hy het ʼn verskriklike positiewe attitude en hy is altyd vreeslik happy.”

Weiland is dankbaar dat Zara en Jasper goed oor die weg kom.

Die werklikheid van die sepiewêreld

Dié 71-jarige aktrise geniet nou haar rustiger lewe in die Kaap. Hoewel sy steeds hard werk om daagliks woorde te leer en na haarself om te sien, is sy gelukkig en tevrede.

“Ek dink die opgewondenheid vir my is dat ek nog die luuksheid het om te kan werk. Dit gee my dissipline en struktuur aan my lewe,” vertel sy. “Die feit dat ek nog my woorde kan onthou, help ook,” sê sy laggend.

Weiland verduidelik dat dit nie in elke akteur se broek sit om in ʼn sepie te speel nie.

“Elke genre verg op sy eie manier dissipline. Daar is nie ʼn einde nie aan ʼn sepie nie – jy het ʼn lang asem nodig as jy daarin wil speel.” Sy voeg by dat akteurs bereid moet wees om saam met verskillende akteurs en regisseurs te werk. Dit is nie soos teaterproduksies waar die span vir ʼn paar weke saam werk, optree en dan die produksie afhandel nie.

“Daar is nie tyd om te mors nie. Jy moet seker maak dat jy jou woorde ken en reg is vir aksie,” vertel sy.

Hulle werk nie op Sondae nie, maar sy sê dit voel gewoonlik op dié dag asof sy moet regmaak vir skool die volgende dag.

Annelisa Weiland se poedel, Jasper (Foto: Verskaf)

“Op ʼn Sondag moet ek ophou wyn drink, ek moet myself centre en my ‘tas’ regkry. Ek moet ook seker maak dat ek my woorde onder die knie het, my naels moet geknip word en my ore moet skoon wees.”

Weiland laat blyk dat dit harde werk is om ʼn aktrise te wees. Sommige mense mag dalk in die gewildheid vaskyk wat hiermee gepaardgaan, maar sy meen dit beteken niks nie.

“Fame is eintlik betekenisloos. Dit beteken eintlik net dat jy saans in iemand se woonkamer is. Dit maak jou niks meer spesiaal nie.”

Aanhangers stop haar gereeld en knoop dan geselsies aan.

“Daar is baie mense wat my herken as Hilda, maar daar is net so baie mense wat stop en vir my sê ‘Hallo Kate’. Ek is nogal bly daaroor, want ek dink dit was baie gaaf van die produksie om vir my ʼn rol aan te bied en te weet ek was Hilda.”

Weiland sê dis interessant dat baie aanhangers wat die “ou Hilda” onthou.

“Hilda se karakter het baie verander, maar mense onthou my saam met Oubaas en my serpie. Dit is vreemd.”

Hoewel Hilda ʼn groot tydperk deel van haar loopbaan was, geniet Weiland haar nuwe werksomgewing en die Kaap. Sy leef elke dag voluit en probeer hard om die Kaap te verken.

“Die tyd loop uit en as jy nie die beste van elke dag maak nie, is jy net stupid.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stof ·

My hoogste respek vir ‘n veteraan wat sonder om haar waardes op te gee, steeds een van ons legendes in haar leeftyd geword het.
Mag haar lewe getuig van die volheid van Vader seën in voorsiening en guns vir haar, ook elke dag van nou af.
Dankie vir soveel inspirasie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.