Ontmoet die deelnemers van ‘Die Groenste Vingers 2’

Gryp solank jou sonhoed en snoeiskêr want dit is tyd om die deelnemers van die tweede seisoen van kykNET se bloemiswerklikheidsprogram, Die Groenste Vingers, te ontmoet.

Dié nuwe seisoen skop op Woensdag 26 Oktober af en beloof om kykers opnuut te boei met ’n splinternuwe, opwindende formaat.

In die reeks van 13 episodes sal 15 talentvolle bloemiste met mekaar meeding in verskillende uitdagings waarin unieke blommerangskikkings ontwerp en geskep word. In dié groep deelnemers is die jongste 24 en die oudste 58.

Die wenner van dié seisoen sal ’n prys van R100 000 in die sak steek.

Hiér is die deelnemers van die tweede seisoen van Die Groenste Vingers:

Ezalle Janse van Rensburg

Ezalle Janse van Rensburg. (Foto: verskaf)

Ezalle is ’n 34-jarige bloemis en eienaar van Myrtle Flower Design in Centurion, Gauteng.

“Georganiseerde chaos! Ek hou van blomme wat anders is. My styl het altyd iets in wat mense twee keer sal laat kyk!”

Esmé Viljoen

Esmé Viljoen. (Foto: verskaf)

Esmé is 44 jaar oud en ’n private dieetkundige van Jacobsdal, Vrystaat.

“Vir my is dit ‘n manier om uiting te gee aan emosies met blomme óf ruikers óf rangskikkings – jy kan iets vier en jy kan liefde wys.”

Gerrit van Niekerk-Reis

Gerrit van Niekerk-Reis. (Foto: verskaf)

Gerrit is die 58-jarige eienaar van Duke and Duchess Florist in Kaapstad.

“Blomme laat mense vergeet van hul sorge en maak hulle gelukkig. Dit kleur ons wêreld in. Volgens my is blomme vir troues net so belangrik as die bruid. Dit is soos koeksisters met stroop.” 

Marolee Smith

Marolee Smith. (Foto: verskaf)

33-jarige Marolee is sedert 2017 ’n vryskut bloemis in die Paarl.

“My gunsteling-blom is die roos, soos talle mense s’n seker. Die snoei van rose is soms hard en seer – maar net soos baie dinge in die lewe moet ʼn mens die seer deurgaan om weer by die mooi uit te kom.”

Angie Kaalsen

Angie Kaalsen. (Foto: verskaf)

Angie is ’n 40-jarige bloemis van Kempton Park en eienaar van Beyond Flowers by Angie.

“Hoe sal ek inheemse blomme gebruik? Ek sal dit gebruik soos dit is – met wortels en al. Die wortels moet natuurlik mooi skoon gewas wees. En dan sit jy dit in ’n pragtige glaspot.”

Danè Verwey

Danè Verwey. (Foto: verskaf)

Danè is ’n 24-jarige Stellenbosser en eienaar van Danè Verwey Floral.

“My styl het ʼn bietjie van alels. Dit is ʼn bietjie abstrak en eienaardig.”

Stefan Smuts

Stefan Smuts. (Foto: verskaf)

Stefan is ’n 25-jarige bloemis en fotograaf van Pretoria wat sy styl beskryf as beeldende kunste wat geïnspireer is deur die Afrika-natuur.

“Vir my bepaal die blomme die styl en die gevoel van ‘n troue of geselligheid. Dit dra ook by tot die algehele geheelbeeld van al die ander elemente by die geleentheid.”

Tharina Kleynhans

Tharina Kleynhans. (Foto: verskaf)

Tharina is van Sasolburg in die Vrystaat waar sy die mede-eienaar van Catharina Carolina Blomme en Dekor is. Sy werk ook as ’n menslikehulpbronne-konsultant.

“Blomme bring lewe en kleur in ‘n vertrek. Dit skep net daardie ekstra wow-faktor wat ‘n vertrek miskien nodig het.”

Angelina Niewoudt

Angelina Niewoudt. (Foto: verskaf)

Gebore en getoë in Parys, Vrystaat, waar sy en haar suster Tharina saam Catharina Carolina Blomme en Dekor besit.

“My styl hang af van waarmee ek besig is – gesofistikeerd dog deurmekaar.”

Ilse Barnard-Walker

Ilse Barnard-Walker. (Foto: verskaf)

Dié 58-jarige eienaar van ’n blom-en-geskenkonderneming in Johannesburg het ook ’n meestersgraad in geneeskunde met ervaring in maatskaplike werk.

“Blomme beïnvloed die energie van ʼn vertrek en die gemoedere van mense. Navorsing by die Universiteit van Rutger het Haviland-Jones en McGuire bevind dat blomme ʼn baie effektiewe hulpmiddel is om gemoedstoestande te lig.”

Cassidy van Wyk (Bedster)

Cassidy van Wyk (Bedster). (Foto: verskaf)

Cassidy is ’n 24-jarige bloemis, geleentheidsbeplanner en fotograaf. Sy is ook die eienaar van Floral School SA.

“Ek is lief daarvoor om groot rangskikkings te doen.”

Willem van Schalkwyk

Willem van Schalkwyk. (Foto: verskaf)

Dié 34-jarige bloemis en eienaar van Brood en Blom in Franschhoek hou van diepte en klein besonderhede.  

“Lewis Miller het in ’n TEDx-video gesê en ek kan die nie beter sê nie: “Blomme is die natuur se ‘klein rasieleiers’ Dis die universele manier om te sê: ‘Ek’s lief vir jou, ek is jammer, ensovoorts.’”

Nyoka Coetzee

Nyoka Coetzee. (Foto: verskaf)

Nyoka is 37 jaar oud, bloemis en eienaar van Wild Leaves Floral Design in Rosebank, Johannesburg.

“Ek is baie lief vir ‘n renonkel. Dit is só delikaat en die verskeidenheid kleure is iets besonders.”

Helena Sheridan-Gouws

Helena Sheridan-Gouws. (Foto: verskaf)

Helena is ’n 37-jarige vryskut-geleentheidsbeplanner en sosialemediabemarker van Somerset-Wes in die Wes-Kaap.

“My gunsteling-blom is ʼn sewejaartjie, want dit is só uniek en jy kan dit oor en oor gebruik. My gunsteling-plante is kooigoed, want dit het soveel gebruike in verkillende kulture in ons land.”

Monique Ritson

Monique Ritson. (Foto: verskaf)

Monique is ’n 35-jarige bloemis en eienaar van DiNique Emporium in Bellville, Wes-Kaap.

“Ek is lief vir die Vanda-orgidee. Die kleure is altyd baie mooi en helder, die plant lyk altyd vir my baie modern en dit hou baie lank. Ek is ook baie lief vir ’n Ohara-roos, want hy gaan vreeslik mooi oop en sy reuk is fantasties!”

  • Die Groenste Vingers begin op Woensdag 26 Oktober om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.