Oud-SA’ner se heldedaad in dokkie vervat

Johan Oldenburg het 52 Oekraïniese vlugtelinge gered en met ʼn bus na Nederland vervoer. (Foto: Verskaf)

ʼn Bus uit Oekraïne is die aangrypende verhaal van ʼn oud-Suid-Afrikaner, Johan Oldenburg, wat 52 Oekraïniese vlugtelinge gered en met ʼn bus na Nederland vervoer het. Dié dokumentêre program is op 9 Januarie op kykNET te sien.

“In die program vertel vlugtelinge self watter invloed die oorlog op hulle lewens gehad het. Dit is ʼn humanitêre storie wat nie net handel oor die oorlog nie, maar ook oor die invloed wat enige onderdrukking op mense het,” verduidelik Charlenè Brouwer, regisseur en uitvoerende vervaardiger van ʼn Bus uit Oekraïne.

Oldenburg het hom ʼn paar jaar gelede in Nederland gaan vestig. Toe die oorlog tussen Rusland en Oekraïne uitbreek, het hy gevoel hy kan nie net stil sit en toekyk terwyl Oekraïne aangeval word en die burgers van die land hulp nodig het nie.

Hy het besluit om ʼn bus te huur en só gehelp om 52 vlugtelinge na ʼn veilige vesting in Nederland te neem.

ʼn Bus uit Oekraïne volg op ʼn radio-onderhoud wat Martelize Brink, joernalis en TV-persoonlikheid, met Johan Oldenburg gevoer het. Die vervaardigers van hierdie dokumentêr wou graag deur Oldenburg se storie oor die oorlog in Oekraïne bewustheid by Suid-Afrikaners skep. Rapport-joernalis Hendrik Hancke, wat voorheen ondersoekend oor die oorlog verslag gedoen het, het ook sy ervaring en insette oor die invloed van die oorlog gelewer.

Volgens Brouwer is dit in April verlede jaar geskiet en ses weke later klaar geredigeer en in Nederland aan die Oekraïniese ambassadeur en vlugtelinge wat hul stories vertel het, aangebied. Daarna is die rolprent verwerk en aangepas sodat plaaslike kykers die vlugtelinge se stories in Afrikaans kon hoor.

“Ek is opgewonde om ʼn Bus uit Oekraïne met Suid-Afrikaners te deel dat hulle vir Johan kan leer ken en die stories van die vrouens kan volg. Ons moet verstaan waardeur hulle gegaan het en wat hulle alles daar opgegee het,” meen Brink.

Waldimar Pelser, M-Net se direkteur vir kykNET-kanale, sê in elke internasionale nuusstorie is akuut persoonlike stories weggesteek, soos dié een van Oldenburg.

“In die geval van oorlog, soos die oorlog wat Rusland teen Oekraïne verklaar het, hoor en sien ons bomme ontplof, maar ons luister en kyk soms verhale mis van menslikheid en dapperheid, soos die een van die gebore Suid-Afrikaner Johan Oldenburg.

“In ʼn Bus uit Oekraïne is dit ons voorreg om sy roerende en inspirerende storie te kan vertel.”

ʼn Bus uit Oekraïne word Maandag 9 Januarie om 20:30 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.