‘Poppie nou eggo van Ella,’ skerts Hélène Truter oor ‘Vetkoekpaleis II’

Hélène Truter op die stel van Vetkoekpaleis II. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Hoewel sy ʼn gesoute en veelsydige aktrise, draaiboekskrywer én entrepreneur is, is die aktrise Hélène Truter ná 25 jaar vir baie Afrikaanse-kykers steeds die bekendste as Vetkoekpaleis se “antie Poppie”.

As jy egter nóú op die stel van Vetkoekpaleis II jou oë toemaak, kan jy haar maklik met haar karakter se suster, Ella, misgis. Dit is immers nou tannie Poppie wat deesdae oor die “pyn en leiding” van moederwees kla.

“Poppie is nou die een wat vertel hoe swaar die geboorte van haar 6 kg baba was,” vertel Hélène tergend in Ella se kenmerkende sugtende stem aan Maroela Media.

“Ek hoor daai eggo van Ella en wil eintlik myself doodlag.”

Wyle Marga van Rooy het destyds dié rol van Worsie se beskermde en bekommerde ma vertolk, en Hélène bring nou dieselfde gees na Vetkoekpaleis II, wat onlangs regstreeks voor gehore by die AfriForum Teater in Pretoria verfilm is.

Maroela Media het onlangs berig dat dié geliefde Afrikaanse komedie eersdaags gaan herleef. Die nuwe reeks word behartig deur die broers Willie en Pieter Esterhuizen, wat vir die oorspronklike reeks verantwoordelik was.

In Vetkoekpaleis II het Klein Frikkadel, seun van wyle Zack du Plessis en Hélene se karakters, Frikkadel en Poppie, die Vetkoekpaleis tot in die afgrond bestuur terwyl sy ma by die see woon.

Oom Wors, vertolk deur Willie, en sy vrou, Molly (Lizz Meiring), gryp egter in om die restaurant tot sy volle glorie te restoureer. Ook Boeboe se dogter, Boudjies, sal in die kenmerkende geel en blou uniform glip.

“Halleluja!” sê Hélène in ʼn singende stem oor die nuwe Vetkoekpaleis II.

“Ek was ongelooflik bly toe Willie die nuus met my deel, want dit vat my terug na daardie gelukkige dae. Ek weet mense wil hulle oë rol as ons akteurs sê ‘ons is soos ʼn groot familie en ons is lief vir mekaar’, maar met Vetkoekpaleis was dit werklik so gewees.”

Sy meen die akteurs het destyds saam groot lewensfases en -veranderings deurgemaak gedurende dié suksesvolle komedie se tyd op die kassie.

Hélène in die eerste seisoen van die oorspronklike ‘Vetkoekpaleis’. (Foto: Skermgreep/YouTube)

“Ons het so lekker saamgewerk; ek het my baba gehad. Soos wat dit nou die kykers gaan terugneem na gelukkige tye van hulle lewens, vat dit my ook net só terug na ʼn baie, baie gelukkige tyd in myne.”

Volgens Hélène is ʼn groot deel van die Esterhuizen-broers se suksesresep dat hulle “nie drama queens aanstel nie”.

Sy sê die program se jonger garde, wat Danielle Retief as Boudjies en Wynand van Vollensteen as Klein Frikkadel insluit, het maklik by die Vetkoekpaleis-familie ingeskakel.

“Daar’s geen ego’s op hierdie stel nie. Ons help mekaar, ons raak nie kwaad vir mekaar nie. Daar’s ook ʼn vars energie nou op die stel met die nuwe akteurs wat by ons aangesluit het.”

Hoewel die tekste van die oorspronklike reeks as bloudruk vir die herlewing gebruik is, is die humorsin ná 25 jaar vir Hélène nog snaakser as vantevore.

“Daar’s beslis ʼn paar sêgoed wat mense dadelik sal herken, maar Willie het ʼn klomp fantastiese goed bygebring. Vetkoekpaleis bly tog net eg, ikonies en onbeskaamd Afrikaans. Selfs Engelse Suid-Afrikaners vind aanklank daarby.”

Hoewel sy opgewonde is om weer in Poppie se skoene te klim, verlang sy met tye na Marga, en Zak, wat in 2011 in die ouderdom van 60 skielik oorlede is.

Hélène in haar winkel, Amulet. (Foto: Verskaf)

“Dit is vir my moeilik sonder Zak. Hy was so ‘n gentle teddiebeer. Hy sal my vergewe as ek dit sê, maar hy’t soms bietjie gesukkel met sy woorde. Nou sukkel ek ook bietjie met myne, terwyl die jong klomp ‘op dit’ is,” skerts sy.

“Ek dink Marga én Zak kyk nou af en glimlag breed. Ek dink hulle is gelukkig vir ons.”

Om op 63 steeds ʼn werkende aktrise te wees, is iets waarop Hélène geweldig trots is en sy glo haar rolle word boonop lekkerder soos sy ouer word.

Sy is tans in die nuwe kykNET-reeks, Straat, te sien, waar sy teenoor bekendes soos Frank Opperman en Nico Panagio speel.

Haar eerste rolprentdraaiboek, #LoveMyselfie, is binnekort te sien én sy gaan nou aan ʼn ander Afrikaanse fliek in die Kaap begin skiet waaroor sy tans nog nie te veel kan verklap nie.

#LoveMySelfie speel af op ʼn passasierskip en handel oor vier vroue wat ouer as 60 is en ʼn reis na binne onderneem om te ontdek dat dit nooit te laat is om jouself te ontwikkel en selfs te verander nie.

“Ek is geseënd, want ek kry nogal baie werk. Daar’s minder kompetisie en dit maak nie meer saak dat jy nie ʼn pragtige poppie is nie.”

Benewens haar werk as akteur en draaiboekskrywer, hou haar leefstylwinkel in Hermanus, Amulet, haar ook besig.

“Ons het nou al meer as tien jaar gelede ons deure oopgemaak. Dit is ongelooflik as jy dink dat ek net mooi goed verkoop. Daar’s nie een praktiese ding in daai hele winkel nie, iets wat die mans tog nie verstaan nie,” terg sy.

  • Kyk Maroela Media se video met Hélène op die stel van Vetkoekpaleis II hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.