Komedie op skip eersdaags op die silwerdoek

Verbeel jouself: jy en ʼn groep vriendinne kan op ʼn plesiervaart, ver weg van die daaglikse bestaan, julself vernuwe en die verlede agterlaat. Klink hemels, reg?

In die nuwe Afrikaanse rolprent, #LoveMyselfie, is dit egter nie so eenvoudig nie. Só vind die plaaslike televisiester, Adele Swan, sommer vinnig uit wanneer sy ʼn geleentheid aangryp om haar skuld te delg deur in te stem om die gesig van eiendomsmagnaat, George, se veldtog te word: ʼn kompetisie op die luukse plesiervaart, die MSC Sinfonia, om eksklusiewe eenhede van die Silwer Eike-aftreelandgoed te verkoop.

Nie net kry haar ego ʼn knou wanneer sy agterkom dat sy aan die Survivor of Seniors-kompetisie aan boord van die skip sal moet deelneem nie, maar sy loop ʼn ou skoolvriendin, Winifred, raak wat die deure van haar langvergete verlede ontsluit.

Herinneringe bring vir Adele selfvertwyfeling, spyt en die onderdrukking van sekere gevoelens, soos die druk op haar om die aftree-eenhede te verkoop groter word en George toenemend onredelik raak.

Deur hulle beste “selfie” in te stuur, wen twaalf gelukkige seniors ʼn naweek op ʼn plesiervaart saam met die televisiepersoonlikheid, Adele, waar die vroue meeding in oorlewingstyl-speletjies en -vasvrae om die eksklusiewe prys van ʼn aftree-eenheid ter waarde van R7 miljoen te wen.

Die hoofkarakter word vertolk deur Ilse Roos, bekend vir rolle in Egoli, Die Boekklub, Boland Moorde, Troukoors, Fynskrif en onlangs in die kykNET-sepie Suidooster.

Adele se langverlore vriendin, Winifred, word deur die veteraan-aktrise June van Merch vertolk. Die res van die swaargewig-rolverdeling bestaan uit Joanie Combrink, Robyn Scott, Chané Grobler, Hélène Truter, Chanelle de Jager, Moses Williams en Kevin Smith, wat die slinkse George vertolk.

#LoveMySelfie handel oor veel meer as nét ʼn langverwagte plesiervaartvakansie: Vier vroue wat ouer as 60 is, onderneem ʼn reis na binne, en ontdek dat dit nooit te laat is om jouself te ontwikkel en selfs te verander nie.

Die rolprentmaker en aktrise Lika Berning, met haar veelsydige loopbaanprofiel van meer as 20-jaar in die vermaakbedryf, is die regisseur van #LoveMySelfie. Dit is haar eerste vollengterolprent as regisseur.

Illse Roos in die nuwe fliek, #LoveMyselfie. (Foto: Verskaf)

“Ek wou ʼn prettige komedie maak, maar ook een wat die hartsnare roer, en nie net vir die ouer Afrikaanse gehoor nie, maar vir almal om te geniet. #LoveMySelfie wys ʼn emosioneel-bevredigende reis waarin Adele die lae waaragter sy wegkruip, afskil – nes baie van ons almal soms doen,” sê Berning.

Hélène Truter het die draaiboek geskryf en Nigel Tattersal, Vlokkie Gordon, Kurt Darren en Berning het dit vervaardig.

Die rolprent is op twee MSC-vaarte geskiet: ʼn tweenag-vaart na Mosselbaai en ʼn viernag-vaart na Walvisbaai, Namibië.

“Ons grootste doel was om ons voortdurende ondersteuning aan die Afrikaanse gemeenskap te toon deur die skeppende kunste te help – ʼn belangrike deel van die vermaaklikheidsektor in Suid-Afrika.

“Ons hoop dat Suid-Afrikaanse gehore hierdie inspirerende storie sal geniet en ons sien uit na die sukses daarvan op die grootskerm,” sê Ross Volk, besturende direkteur van MSC Cruises Suid-Afrika, oor hul betrokkenheid by die rolprent.

Kurt Darren, bekende Afrikaanse popsanger en mede-vervaardiger van #LoveMySelfie, is ook in die fliek te sien.

Een van die karakters is ʼn groot bewonderaar van hom en sy ikoniese liedjie, “Kaptein span die seile”, en is ook deel van die klankbaan, wat nog vele ander bekende Afrikaanse liedjies bevat.

#LoveMySelfie se première vind op 25 November op die Spier-wynlandgoed in Stellenbosch plaas, met ʼn tweede vertoning vir die publiek op Sondag 26 November. Kaartjies kan op die webblad gekoop word vanaf Vrydag 27 Oktober om 10:00.

Verskeie vertonings van die fliek word nog beplan en nuwe vertonings sal gereeld op die webblad gelaai word.

Om die rolprent by jou behuisingslandgoed, gemeenskapsaal of enige ander gepaste venue te vertoon, kontak gerus die fliek se bemarkingspan op die webblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.