‘Real Housewives’ se Rhona en Mel dans die drama weg

Mel en Rhona was voor in die koor om hul danspassies uit te haal. (Foto: Skermgreep)

Twee vroue het mekaar in Donderdagaand se episode van Die Real Housewives van Pretoria in die bokskryt reggesien en nee, dit was nie Mel en Rhona nie.

Kiki en haar man, Malcolm, het onder die vaandel van hul organisasie sonder winsbejag genaamd FKN Army die aktrise Angelique Gerber in haar Boxop-geveg teen die sanger Tashcé ondersteun.

FKN Army het ook die verspreiding van dié geleentheid, wat in Julie vanjaar plaasgevind het, se geldskenkings na die deelnemers se gekose welsynsorganisasies behartig.

Mel het nie juis die Boxop-geleentheid geniet nie. (Foto: Skermgreep)

Kiki het haar mede-housewife, Mel, saamgenooi, maar tot kykers se verbasing hou Mel klaarblyklik nie daarvan om te sien hoe die bloed tussen vroue spat nie.

Sy was ook huiwerig toe Kiki en Malcolm haar uitgedaag het om ʼn lywige geldskenking aan FKN Army – wat ʼn stalletjie by dié geleentheid gehad het – te maak.

“Ek hoop nie charity en paid partnerships word ʼn tendens in ons vriendskap nie. As jy my laat voel asof die verhouding net oor geld gaan, dan is die vriendskap nog op daardie selfde oomblik verby,” het die Tammy Taylor SA-baas later aan die kameraspan vertel.

Kykers ontmoet later ook Renske se persoonlike assistent, Ian, terwyl hy haar in die gesin se Rolls Royce vir ʼn inkopiesessie na Carrol Boyes neem.

Hier verklap Renske dat Marié, wat soos sy ook in Silver Lakes woon, vir haar vertel het dat sekere Carrol Boyes-deurknoppe klaarblyklik “ander betekenis” by dié landgoed het.

“Ons het hierdie deurknoppe seker al 16 jaar lank en het eers so drie jaar terug uitgevind mense dink dat jy ʼn swinger is as jy dit op jou voordeur het,” het dié huisvrou laggend aan Ian vertel.

Rhona se vriendinne, Suné Sutton, Riandi Grey en Mandi Baard. (Foto: Skermgreep)

Die kameraspan volg Rhona ook na ʼn ete saam met van haar ander bekende vriendinne, onder wie die aktrises Nadia Beukes, Mandi Baard en Riandi Grey, waar hulle saam debatteer of al die ander huisvroue na Rhona se komende verjaarsdagpartytjie toe genooi moet word.

“Dit klink vir my of van hulle tog vir jou konflik gaan maak, of jy hulle nou nooi of nie,” het Mandi tergend tydens dié kuier gesê.

Natuurlik sou dit ook nie ʼn episode van Real Housewives wees as daar nie die een of ander prettige aktiwiteit is wat die vroue moet aanpak nie.

In die jongste aflewering het Rhona die ander vroue genooi om saam met haar in ʼn partytjiebus die stad op horings te neem tydens ʼn aandjie uit. Die vangplek: elkeen moes hul ontwerperspakkies vir ou uitrustings uit mekaar se klerekaste verruil.

Mel het amper die huis in ‘n swartsak eerder as ou klere verlaat. (Foto: Verskaf)

Mel het aanvanklik haar neus opgetrek en eerder verkies om ʼn swartsak en dun Louis Vuitton-belt te dra omdat dit “meer soos ‘n Balenciaga-skepping lyk”.

Danksy die aanmoediging van haar mede-huisvroue het sy later saamgespeel en in ʼn stywe swart tweedehandse nommertjie geglip voor hulle in ʼn partytjiebus met liggies en sjampanje na ʼn restaurant in Lynnwood geneem is.

Mel het in die kar gedurig vir Kiki, die enigste huisvrou met wie sy al ʼn vriendskap begin aanknoop het, in die rede geval en gekies om oor haar man, Peet, eerder as haarself te praat toe die ander vroue geheime oor hulself wou verklap.

Volgens Rhona het die groen monster heel moontlik op Mel se skouer begin sit omdat Kiki toenemend met die ander huisvroue oor die weg kom.

Tog was Rhona en Mel die eerstes wat die aand by die restaurant hul beste danspassies saam met ʼn fopdosser, ene Genevive le Coq, uitgehaal het.

Dié twee huisvroue het selfs die aand met ʼn vriendelike omhelsing afgesluit.

Die vroue het die stad op horings geneem in ‘n luukse partytjiebus. (Foto: Skermgreep)

“Mel het vir ʼn slag haarself geniet en saam gedans en gekuier, wat my so bly gemaak het,” het Kiki later oor Mel se spontaniteit gejubel.

Marié, wat ʼn wollerige pienk onesie-pajamapakkie uit Rhona se kas gekies het, was vandeesweek nie so gretig om aan die groepsaktiwiteit deel te neem nie. Volgens Renske het haar Silver Lakes-buurvrou nie dié aand lekker gevoel nie.

“Dis nie iets waaraan ek wou deelneem nie. Ek wou dit net nie doen nie,” het Marié oor haar teruggetrokkenheid gesê.

Die Real Housewives van Pretoria is elke Donderdagaand om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien. Dit word ook op DStv CatchUp uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Vonny ·

Ek love jul doen en late.
Skaterlag heerlik.
Jul al deel van die familie!☆

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.