SARIE Voorbladgesig 2018: Só lyk die wenners

Die 35-jarige Emari Gieselbach is aangewys as SARIE se Voorbladgesig vir 2018 in die kategorie 31 jaar en ouer. (Foto: Verskaf)

Die 35-jarige Emari Gieselbach is aangewys as SARIE se Voorbladgesig vir 2018 in die kategorie 31 jaar en ouer. (Foto: Verskaf)

Emari Gieselbach, ʼn 35-jarige kunsonderwyseres van Centurion, is Woensdag tydens ʼn spoggeleentheid in Pretoria as die 10de SARIE Voorbladgesig aangewys.

Sy verskyn op die voorblad van SARIE se gesogte Oktober-uitgawe – nie een keer nie, maar sommer vier keer.

Michélle van Breda, redakteur van SARIE, het met die aankondiging van die wenner bekend gemaak dat vier voorblaaie van Gieselbach gelyktydig vanaf 24 September op die rakke sal verskyn, ʼn eerste keer vir SARIE. Lesers kan hul gunsteling, of meer, eksemplare aankoop.

Gieselbach het die kategorie vir 31 jaar en ouer gewen. Sy bied kuns aan by die Sutherland High School in Eldoraigne, Centurion, en is die ma van twee dogters. Haar 11de huweliksherdenking is om die draai en sy en haar man, Marinus, beplan om nog dié maand by die Graceland Wedding Chapel in Las Vegas hul huweliksbeloftes te hernu.

Die 25-jarige Charicke Carolus is as die wenner van die kategorie 18-30 jaar aangewys. Sy is een van ʼn tweeling en het aan die Hoërskool Monumentpark in Kraaifontein matriek behaal. Sy is tans ʼn sekretaresse by ʼn Kaapse regsfirma. Haar droom is om die wêreld vol te reis en ʼn sukses van haar modelloopbaan te maak.

Charicke Carolus. (Foto: SARIE.com)

Charicke Carolus. (Foto: SARIE.com)

Die aankondigingsgeleentheid is by The Greenhouse Café op die plaas Rosemary Hill buite Pretoria aangebied. Dit is bygewoon deur 200 gaste, onder wie Mej. Suid-Afrika, Tamaryn Green, wat op SARIE se September-voorblad verskyn, en talle sepie-, televisie-, rolprent- en musieksterre.

Verlede jaar se twee SARIE Voorbladgesig-wenners, wat die titel gedeel het, patisseriesjef van Ceres, Yolani Abrahams, en Nadia de Wet, ʼn boervrou van Standerton, het ook die geselligheid bygewoon. Elana Afrika-Bredenkamp, TV-persoonlikheid en omroeper by Jacaranda FM, was die seremoniemeester.

Gieselbach is uit duisende inskrywings van oor die land gekies ná ʼn intense voorbladfotosessie deur die bekende Johannesburgse fotograaf Leana Clunies-Ross. “Emari is ʼn interessante mengsel van klassiek en modern: ʼn bietjie Marilyn Monroe en Audrey Hepburn saam met ʼn tikkie Michelle Williams, die Hollywood-ster bekend vir haar kort, blonde hare en funky voorkoms. Maar op die ou end is sy Emari – sterk, snaaks, sensueel, energiek, ʼn SARIE-leser – perfek vir die Oktober-voorblad!” het Van Breda oor vanjaar se wenner gesê.

“SARIE is ʼn inspirerende tydskrif vir inspirerende vroue. Vir ons is dit ewe inspirerend om te sien hoe vroue van oor die land – van klein dorpies tot groot stede – inskryf vir hierdie kompetisie. ‘Gewone’ vroue, lesers van die tydskrif. Dit vat guts, en ons salueer hulle. Ons ondersteun hulle 100%!” het Louise Williams, hoofbestuurder van Bacher and Co., die verspreider van Montblanc en die hoofborg van vanjaar se SARIE Voorbladgesig-kompetisie, ná afloop van die geleentheid gesê.

Dit is die agtste jaar dat SARIE dié kompetisie, uniek in die land, aanbied. In 2016 en in 2017 is die titel gedeel, vandaar die 10 wenners tot nou. Dit is ook die tweede jaar dat kykNET-kykers saamgeneem word op die top-10 se voorbladreis.

SARIE Voorbladgesig 2018 is geborg deur Montblanc Lady Emblem-parfuum, die haarsorgreeks INOAR, die skoonheidsakademie Isa Carstens, die velsorgreeks Kalahari, kykNET, Instax-kitskameras en Rosefield-horlosies.

Die twee kategoriewenners stap ook elkeen met ʼn kontantprys van R10 000 weg.

Die geleentheid is vir televisie verfilm en sal deel uitmaak van die slotepisode van die program SARIE Voorbladgesig wat op Dinsdag 25 September om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word. Kykers sal dan kan sien hoe Gieselbach haar Oktober-voorblad losslaan.

So het die top-10 deelnemers gelyk:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

desire ·

Pragtige vroue, baie geluk almal, kon nie help om te sien die grimeer kunstenaar het almal se wange dieselfde blinkerige pink bolle gemaak.

Hannelie ·

Wow sy is stunning. Sy was ook my keuse gewees en is regtig ‘n pragtige vrou. Baie geluk Emari.

E.K. die eerste ·

Hou meeste van tweede voorblad. Eerste een wat lyk of sy blaas lyk simpel. Dis nou weer hoe die spul van Holywood mos altyd pruil op die rooi tapyt. Ons moet ophou na-aap ai tog. Net MY mening. Sy is regtig pragtig. Die ander klompie ook, veral Lieze Schlechter

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.