Sepiegids: Angie worstel met Lillian se skokonthulling in ‘Suidooster’

Met Maroela Media en kykNET se sepiegids kry jy weekliks ʼn voorsmakie van die gebeure in jou gunstelingsepie.

Angie worstel met Lillian se skokonthulling in ‘Suidooster’. (Foto: Skermgreep)

Binnelanders

Weeksdae om 19:30 op kykNET

Maandag 13 Maart

Letitia wil nie na raad luister nie, en Jeremy sukkel om ’n belofte te maak. Nina voel sleg teenoor Elise. Danny is opgewonde, maar Zee voel nie dieselfde nie. Conrad ruik ’n rot.

Dinsdag 14 Maart

’n Breingewas word gediagnoseer, en Rian is beïndruk met Nina se werk. Naomi vat die Binnelanders vas, en Annelize speel oop kaarte met Conrad. Tertius se aanbod word van die hand gewys.

Woensdag 15 Maart

Vrae word gevra oor Rian en Gaby se verhouding. Zee stel Danny voor ’n ultimatum, en Tertius voel verlig. ’n Kinkel in die kabel veroorsaak ongelukkigheid, en ’n verloofring word aangeskaf.

Donderdag 16 Maart

Daar is spanning in ’n verhouding, ’n besering maak Karen bekommerd, en Zee voel van voor af skuldig. At se moed begewe hom, en die ja-woord word gevra.

Vrydag 17 Maart

Elise word gewaarsku, Annelize is hoopvol ná ’n besoek, en Steve is bekommerd oor Danny. Letitia eis antwoorde van At, en Steve deel ’n idee met Delia. Gaby voel bedreig.

Suidooster

Weeksdae om 18:00 op kykNET en 18:30 op kykNET&kie

Maandag 13 Maart

Bianca is geruk ná ’n ontmoeting, terwyl Angie se werk Wade minderwaardig laat voel. JPD sukkel om van ’n hardkoppige huurder ontslae te raak.

Dinsdag 14 Maart

Bridgette is gereed vir Gerda se huurder om in die nuwe woonstel in te trek. Chris pleit by Bianca om die situasie te aanvaar, terwyl sy haar ouers oortuig om vir Rhiyaaz te gaan kuier.

Woensdag 15 Maart

Angie ondersoek Lillian se skokkende onthulling, en Bridgette leer die onwelkome huurder beter ken. Daar is ‘n onverwagse wending in Bianca se lewe.

Donderdag 16 Maart

Angie verwerk nog Lillian se onthulling, terwyl Chris van ’n saak hoor waarmee Malherbe sukkel. En Bianca? Is sy werklik gereed om aan te beweeg?

Vrydag 17 Maart

Bridgette sluk haar trots, terwyl Kaashifa sin in Bianca se kop probeer praat. Angie het ’n oorweldigende dag.

Diepe Waters

Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET

Maandag 13 Maart

Gys het groot planne om die klub ná die skandaal te red. Rossouw is meer as gereed vir die volgende stap, en Sanet kry ondersteuning uit ‘n vreemde oord.

Dinsdag 14 Maart

Rossouw se huishouding moet die gevolge van die mediakonferensie trotseer, terwyl Sanet se olyftakkie met agterdog bejeen word. Jacques probeer grense met sy hart stel.

Woensdag 15 Maart

Rossouw gaan vinnig op sy voete moet dink, terwyl Johan se besluit skokgolwe deur die gemeenskap stuur. Pam waag ‘n kans op die liefde, en Anja sukkel met haar gewete.

Donderdag 16 Maart

Bybie is oortuig daarvan dat sy weet wat met Jacques aan die gang is. Johan begin die eerste dag van sy nuwe lewe, en Sanet is agterdogtig oor Karla.

Arendsvlei

Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie

Maandag 13 Maart

Die Cupidos is onder druk oor die potensiële verlies van hulle skool, maar ’n moontlike oplossing kan hulle red. Yvette besef dat sy nie die enigste slagoffer van JP se komplot was nie.

Dinsdag 14 Maart

Cassandra gooi met mening ’n bal teen Simone se kop en kry die koue skouer by haar spanmaats daarna. Beatrice vind Hein in ’n verwese toestand nadat hy met Janice gepraat het.

Woensdag 15 Maart

Bianca wil nie hê Saartjie moet uitvind oor haar en Thys nie. Derrick help vir Simone om haar selfvertroue op te bou, en Anthony het ’n baie belangrike besluit om te maak.

Donderdag, 16 Maart

Anthony weier om verder saam te speel tensy Rachel toelaat dat hul seun huis toe kom. Simone begin vir haarself teen Cassandra op te staan. Saartjie steek ʼn donker geheim vir Bianca weg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.