Sepiegids: Siya dra swaar aan groot geheim in ‘Suidooster’; Birdy slagoffer van misdaad in ‘Arendsvlei’

Met Maroela Media en kykNET se sepiegids kan jy weekliks ʼn voorsmakie kry van die gebeure in jou gunstelingsepie.

Mrs. J (Theresa Sedras) in “Suidooster”. (Foto: Skermgreep)

Binnelanders

Weeksdae om 19:30 op kykNET

Maandag 22 Januarie

Liam dreig om te bedank, en Delia wil agter die kap van die byl kom. Uys is die vorige aand in hegtenis geneem, maar kan niks onthou nie. Nicolette moedig vir Steve aan om sy broer op te spoor.

Dinsdag 23 Januarie

Tracy besef Karen het geldelike probleme, en Uys ontdek sy gesteelde kaart is gebruik. Thalia het nog nie haar planne met Louis gedeel nie.

Woensdag 24 Januarie

Karen se penarie raak by die dag erger, en Naomi se vreemde drome pla haar. Uys kry die skok van sy lewe, en Steve verwyt homself omdat hy nie ʼn familielid in nood bygestaan het nie.

Donderdag 25 Januarie

Naomi het vrae en dit maak Louis gespanne. Tertius is beskermend oor Tracy en haar swangerskap, en Uys begin antwoorde kry oor die aand van die ongeluk.

Vrydag 26 Januarie

Thalia ontwikkel ʼn nuwe teorie oor Naomi se nagmerries, en Conrad word onkant betrap deur Nicolette se besluit. Uys onthou iets wat hom dalk kan help om sy onskuld te bewys.

Suidooster

Weeksdae om 18:00 op kykNET en 18:30 op kykNET&kie

Maandag 22 Januarie

Bridgette voel sleg oor hoe sy Laylla behandel het, terwyl Danni ʼn oproep van haar ginekoloog kry. Oos Wes se eerste vasvra-aand neem vreemde wendinge.

Dinsdag 23 Januarie

Bridgette skok JPD se raadslede, terwyl Danni onseker is wat die volgende stap vir haar is. Bianca is opgewonde oor haar afspraak met Aiden, maar is hulle op dieselfde golflengte?

Woensdag 24 Januarie

Laylla en Nazeem se verhouding word op die proef gestel. Brendan laat die Thuli’s groot skrik, en Aiden kry vir Elana voor stok.

Donderdag 25 Januarie

Bianca besluit om meer spontaan te wees, en Nazeem wys sy brose kant. Zoe ervaar erge innerlike konflik, terwyl Siya swaar dra aan ʼn groot geheim.

Vrydag 26 Januarie

Laylla hoor uiteindelik wat sy wil hoor by Nazeem. Carlo roep Angie se hulp in met ʼn projek, terwyl Danni begin dink Siya steek iets vir haar weg.

Diepe waters

Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET

Maandag 22 Januarie

Gys maak ʼn aankondiging by die klub en ontvang iets wat sy bloed laat kook. ʼn Interessante aandete word beplan, terwyl Jacques vir iemand gaan kuier.

Dinsdag 23 Januarie

Gys en Pam maak planne om die huurooreenkoms te betwis. Die Swarts-kinders rig ʼn spesiale versoek aan Sanet. ʼn Komplot teen Gys neem ʼn nuwe wending.

Woensdag 24 Januarie

Boniswa konfronteer Gys met moeilike vrae. Ben wonder oor Rossouw, en Rose is geskok wanneer sy uitvind wie Zelda se prokureur is.

Donderdag 25 Januarie

ʼn Skokkende wending vind plaas tussen Sandra en Zelda. Daar is ʼn kinkel in die stryd oor die Swarts-woning. Sanet probeer aanpas met Rossouw.

Arendsvlei

Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie

Maandag 22 Januarie

Die Foster-huishouding is in flarde ná Janice se skokbesluit. Abigail probeer om saam met haar vriende uit te hang. Birdy reik uit na Nicolene.

Dinsdag 23 Januarie

Desmond onderbreek die skoolbyeenkoms met ʼn aankondiging. Kyle ontmoet vir Beatrice in die park vir ʼn laatmiddagpiekniek.

Woensdag 24 Januarie

Thys en Bianca moet noodgedwonge by Beatrice intrek. Judy is bekommerd oor Abigail se gemoedstoestand. Lionel gaan soek vir Janice en kom in die moeilikheid.

Donderdag 25 Januarie

Desmond maak ʼn onverwagte aankondiging by die skool. Birdy is die slagoffer van ʼn aggressiewe misdaad. Abigail plaas haarself in onnodige gevaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.