Sepiegids: Tracy word opgeneem in ‘Binnelanders’; Ty tree vreemd op in ‘Suidooster’

Met Maroela Media en kykNET se sepiegids kan jy weekliks ʼn voorsmakie kry van die gebeure in jou gunstelingsepie.

(Foto: skermskoot)

Binnelanders

Weekdae om 19:30 op kykNET

Maandag 11 Maart

Annetjie moet haar hartseer wegsteek, en Tertius is geskok wanneer Tracy opgeneem word. Die hele Binneland is in rep en roer wanneer iemand verdwyn.

Dinsdag 12 Maart

Die soektog na ʼn vermiste Binnelander lewer niks op nie. Bonnie kry soos gewoonlik die kat aan die stert beet, en Tertius kry ʼn onverwagse besoeker.

Woensdag 13 Maart

Tertius is op die rand van ʼn ineenstorting, en Liam probeer aan Karen verduidelik dat hy en Delia nié saam is nie, maar is hulle? Conrad laat per ongeluk die aap uit die mou.

Donderdag 14 Maart

Delia neem ʼn risiko waarteen sy ʼn ruk lank al skop. Tertius het ʼn paar minute van hoop, maar dan word hy weer teleurgestel. Iets is ernstig fout met Gaby.

Vrydag 15 Maart

Delia vertel Liam die waarheid. Karen en Nicolette bespreek die probleem met Binneland se mans, en Tertius besef hy het te ver gegaan. ʼn Verhouding word onthul.

Suidooster

Weekdae om 18:00 op kykNET en 18:30 op kykNET&kie

Maandag 11 Maart

Mymoena sny haar heeltemal af van Sammy, maar Rhafiek wonder of hy die volle storie gehoor het. Danni en Siya is krapperig met mekaar terwyl Tim vas glo hy gaan wegkom met sy plan.

Dinsdag 12 Maart

Wade en Angie se wildste drome word waar, en Siya doen iets wat Danni se lewe nog meer kompliseer. Zoë probeer haar bes om Tim uit die kookwater te red, maar is dit te laat?

Woensdag 13 Maart

Tim se groot dag het uiteindelik aangebreek, terwyl Angie en Wade nog promosiewerk kry. Maar hoekom tree Ty skielik so vreemd op?

Donderdag 14 Maart

Tim is woedend vir Bridgette, terwyl Lee-Ann haar oor Carlo bekommer. Nazeem vererg hom vir Sammy, en Angie en Wade maak nog ʼn video.

Vrydag, 15 Maart

Angie en Wade kom in die moeilikheid oor hul jongste video, terwyl Bridgette nuus kry oor Ian. Nazeem is op die oorlogspad teen Sammy en Ty kry bevestiging van sy vermoede.

Diepe waters

Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET

Maandag 11 Maart

Felicity probeer vir Charity ʼn rat voor die oë draai. Ben vra om verskoning vir Mari se gedrag. Sanet het ʼn plan.

Dinsdag 12 Maart

Charity bied vir Felicity alternatiewe verblyf aan. Pam bied aan om Sanette help met die trouplanne. Zelda maak Tshepo ʼn aanbod.

Woensdag 13 Maart

Dis ʼn dag van hartseer herinneringe vir die Swarts-familie. Anja probeer Charity se hart teenoor Felicity versag.

Donderdag 14 Maart

Gys vermoed Zelda het ʼn agenda met Tshepo. Arno besef hy word indirek deur iemand uit sy verlede bedreig.

Arendsvlei

Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie

Maandag 11 Maart

Kyle vind waarna hy soek wanneer hy begin om die IT-sentrum se dekmantel oop te krap. Lennie ontvang ’n kommerwekkende oproep van die tronk. Bianca het ʼn verrassing vir Saartjie.

Dinsdag 12 Maart

Yvette is in trane wanneer Nicolene nuus met haar deel. Janice bevraagteken Ayesha se dood. Koppe weier om vir Bompie in polisiebeeldmateriaal te identifiseer.

Woensdag 13 Maart

Beatrice deel belangrike nuus met die beheerliggaam. Janice se skuldgevoelens en die gemis van Ayesha oorweldig haar. Sal Bompie vrygelaat word of nie?

Donderdag 14 Maart

Die beheerliggaam moet stem of hul vir Janice weer gaan aanstel. Bompie en Desmond beplan hul volgende stap. Lennie en Emile probeer met ʼn plan vorendag kom om vir Eva te red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.