Showmax gaan groter én goedkoper

v.l.n.r. Pabi Moloi, Marc Jury, Joe Heshu, Yatish Narsi en Stephen Featham. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Weg met die swart, pienk en blou waaraan Showmax-kykers sedert 2015 gewoond geraak het. Dié stromingsreus spog eersdaags met ʼn blinknuwe, helderoranje baadjie.

Saam met dié kleurveranderinge, kan kykers ook pakketveranderinge en ʼn nuwe inhoudaanbod verwag. Showmax, ʼn stromingsplatform wat aan 44 lande in Afrika dienste verskaf, brei ook nou uit met ʼn platform wat spesiaal aan sokker se Premierliga gewy is.

Dié veranderinge kom 10 maande nadat MultiChoice hande gevat het met Comcast se NBC Universal- en Sky-stromingsdienste.

Die platform gaan voortaan nie net ʼn kollig op sokker plaas nie, maar ook ʼn spesiale selfoonpakket aanbied sodat verbruikers regoor die vasteland van hul selfone vir hul kykgenot gebruik kan maak.

“Daar is tans sowat 450 miljoen slimfone in die hande van individue regoor Afrika en meer as 250 miljoen van hulle is groot sokkerliefhebbers,” het Marc Jury, die uitvoerende hoof van Showmax, Maandag tydens ʼn bekendstelling van dié nuwe platform by MultiChoice City in Randburg gesê.

(Foto: verskaf)

“Showmax Premier League is ʼn baanbreekproduk wat individue toegang gee tot al die sokker waarvoor hulle lief is. Waar ook al hulle is, op die toestel wat altyd in hul sakke is, en teen ʼn baie goeie prys.”

Of Showmax later ook ander sport sal stroom, het Jury bloot gesê: “Moet nooit, nooit sê nie.”

Showmax-pryse lyk voortaan só:

  • Algemene pakket: R89 ʼn maand.

Dié pakket sluit alle programme wat Showmax bied in, met die opsie om dit op enige van jou toestelle (rekenaar, selfoon en televisie) te kyk. Dit sluit die nuwe Premier League-inhoud, asook enige ander vermaakinhoud in. Dié prys was voorheen R99 ʼn maand.

  • Premier League-plan: R69 ʼn maand.

Dié pakket is spesiaal vir selfoongebruikers geskep, en sal kykers toegang gee tot ʼn wye verskeidenheid Premier League-inhoud. Dié inhoud sal egter slegs op ʼn slimfoon gekyk kan word.

  • Vermaakpakket: R39 ʼn maand.

Kykers kan nou toegang tot Showmax se vermaakinhoud kry vir slegs R39 ʼn maand. Dié pakket is net vir selfoongebruikers van die app bedoel, en sluit nie toegang tot die sokkerinhoud in nie.

  • Volledige selfoonplan: R99 ʼn maand.

Showmax bied ʼn selfoonpakket teen R99 ʼn maand aan, wat kykers toegang tot alle Showmax-inhoud sal gee.

Wanneer trek Showmax dié blinknuwe baadjie aan?

Die nuwe Showmax-platform sal teen 23 Januarie vanjaar afgelaai kan word. Dit sal egter eers teen 12 Februarie amptelik van stapel gestuur word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.