Simoné klim in popsanger se stewels vir nuwe donkerkomedie

Simoné vertolk die rol van ‘Jolene’ in die splinternuwe Afrikaanse donkerkomedie, ‘Die Onderonsie’. (Foto: Verskaf)

Kykers van die splinternuwe Afrikaanse donkerkomedie, Die Onderonsie, kan uitsien daarna om die aktrise Simoné Pretorius in ʼn rol soos nooit tevore te sien nie.

Dié moordraaiselfliek vertel die verhaal van vyf vriende wat voorheen saam in ʼn musiekgroep was en bymekaar kom vir hulle jaarlikse reünie.

Die verskyning van ʼn lyk lei egter tot agterdog en skreeusnaakse konkelry onder die vriendegroep.

Met stywe, helderpienk uitrustings, hemelhoë wit stewels en sterk opinies, gee Simoné lewe vir haar popsangerkarakter, “Jolene”.

Dit is regisseur Philip Nolte se debuut- vollengte rolprent, en is tans op die stromingsdiens Showmax te sien.

Red Pepper het Die Onderonsie vervaardig. Hulle is die bekroonde produksiemaatskappy agter Faan se trein en Hard To Get wat by die Suid-Afrikaanse rolprent- en televisietoekennings (Safta, South African Film and Television Awards) vereer is.

Pietie Beyers, Lindsey Cele, en Getroud Met Rugby-sterre Adrian Steyn en Sean van Noordwyk vertolk die res van Die Onderonsie se eklektiese sanggroep.

Lindsey Cele, Pietie Beyers, Adrian Steyn en Sean van Noordwyk vertolk die res van Die Onderonsie se eklektiese sanggroep. (Foto: Verskaf)

Volgens Simoné het die fliek se draaiboek haar dadelik geboei.

“Dit het ʼn soortgelyke gevoel as die Netflix-moordraaisel, The Glass Onion. Ek dink tieners én ouer sal dit geniet, sowel as mense met ʼn aptyt vir donkerkomedie en moordraaiselflieks,” vertel Simoné aan Maroela Media.

Hoewel sy en haar karakter hemelsbreed verskil, skerts sy dat “Jolene” se stywe rokkies en wit trompoppiestewels haar gehelp het om behoorlik in die karakter te klim.

“Ek sou ek nooit in my lewe aantrek wat sy dra nie, maar ek is tog mal oor die feit dat sy hierdie hoë hakke aangetrek het vir ʼn naweek in die bosveld saam met vriende. Soms voel ek dat wanneer jy ʼn karakter se skoene aantrek, is jy regtig besig om in die rol in te klim.”

Sy vertel voorts dat sy en Lindsey, wat die groep se moederhen Bianca vertolk, die verfilming van hul karakters se gevegstoneel geweldig geniet het.

“Dit was my eerste gevegstoneel en dit was so intens! Ek’t al hier en daar ʼn paar klappe op die skerm uitgedeel, maar hierdie was gechoreografeer soos ʼn dans,” verduidelik Simoné.

Simoné het haar eerste gevegtoneel in dié rolprent gehad. (Foto: Verskaf)

“Die manier hoe dit begin, was fantasties. Dit is net so ʼn spanningsvolle oomblik waar ʼn mens nie glo Bianca gaan dit doen nie, maar dan spring sy net in. Later het ons karakters mekaar se hare getrek en panne gebruik en mekaar oor die kop te slaan – dit was als absolute chaos.”

Simoné was onlangs ook in die kykNET-mediesedrama, Hartklop, as dr. Elani Breytenbach te sien, en sê sy geniet die veelsydigheid daarvan om rolle in drama’s en komedies te vertolk.

“Komedie sit nie in enigeen se broek nie, en daar word gesê dat mense wat komedie verstaan en kan vertolk diegene is wat groot hartseer met hul saamdra – waarmee ek nogal saamstem. Om komedie te vertolk gaan oor ritme en ʼn diep verstaan van die menslike psige, en om jouself, ondanks jou bagasie, nie te ernstig op te neem nie.”

Benewens haar werk op die skerm, verdeel sy haar tyd tussen ʼn verskeidenheid van ander projekte, insluitende draaiboeke skryf en die aanbieding van haar dramawerkswinkel, genaamd Art of Acting.

Simoné en haar man, die sakeman Andries Pretorius, is ook ouers van hul tweejarige peuter, Harper, en verwelkom boonop hul tweede spruit vroeg in 2024.

“Ek is beslis moeg, maar om ʼn seuntjie in die wêreld te bring en die nuwe, rowwe waters van twee kinders aan te durf, is baie opwindend. Ek het darem nog so vier weke om myself emosioneel voor te berei terwyl ek Desember in die swembad sit en mocktails sluk,” skerts sy.

  • Die Onderonsie is tans op Showmax te sien. Kyk na die lokprent hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.