Skoot hoog deur vir ‘The Bachelorette SA’ se Qiniso, Gareth

Qiniso en Gareth het die skoot hoog deur. (Foto: M-Net)

Suid-Afrika se eerste Bachelorette, Qiniso van Damme, straal behoorlik wanneer jy haar vra hoe dit nou met haar gaan nadat sy in Donderdagaand se episode haar finale roos vir Gareth Ehret gegee het.

Qiniso (28) en Gareth (27) is steeds ʼn paartjie en moes hulle verhouding die afgelope paar maande stil hou tot die laaste episode van The Bachelorette SA uitgesaai is. Volgens Qiniso kan hulle nie wag om die wêreld saam aan te pak nie.

“Ek het met hoë verwagtinge aan die program deelgeneem, maar wat ek uiteindelik gekry het, is nog soveel meer,” koer sy oor Gareth, wat deel was van die tweede groep mans wat aan Qiniso bekendgestel is.

In die laaste episode van The Bachelorette SA het Gareth en die naaswenner, Henk (Swazi) Nel, Qiniso se familie ontmoet. By dié ontmoetings het Qiniso se gesin moeilike vrae aan die mans gestel oor onder meer hul waardes, lobola en hul toekoms saam met Qiniso.

Gareth het sy liefde aan Qiniso bevestig tydens die laaste roosseremonie, terwyl Swazi erken het dat hy nog onseker is of hy verlief is op haar.

Gareth sê aan Maroela Media hy voel “dankbaar” oor hoe sake verloop het, al het hy dit nie verwag toe hy aanvanklik vir die program ingeskryf het nie.

Qiniso en Gareth kort voordat hy die belofte-ring aan haar vinger gesteek het.(Foto: M-Net)

“Ek en Qiniso het van die begin af so ʼn sterk konneksie gehad en ek was so selfversekerd oor wat ons het, dat ek baie verbaas sou gewees het as sy my nie gekies het nie. Toe sy my uiteindelik kies, was dit tog surrealisties, maar toe dit by my insink, het ek ʼn oorweldigende gevoel van liefde en dankbaarheid ervaar.”

Hy sê hulle sien uit daarna om dinge soos ʼn normale paartjie te doen en verklap dat hulle reeds ʼn buitelandse reis na Kenia beplan het.

“Ons sien uit daarna om in ʼn ander land te wees, waar niemand ons herken nie, en net vry te wees om mekaar as ʼn paartjie te geniet.”

Qiniso, ʼn model, aktrise en antropoloog, sê dit was dikwels moeilik om die verantwoordelikheid van die groot besluite wat sy moes neem te hanteer.

“Deur gesprekke met my familie, my vriende en myself, het ek die beste keuse gemaak vir myself wat ek kon. Ek moes na my hart luister, en my hart het geskree ‘Gaz, Gaz, Gaz!’”

Sy noem vir Gareth, ʼn fiksheid- en lewensafrigter van beroep, haar “beste vriend” en sê sy hoop dat die belofte-ring wat hy aan haar vinger gesteek het, eendag die ware Jakob sal wees.

“Ons neem dit dag vir dag, maar ons sien beslis uit na wat die toekoms inhou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.