‘Snakes in the City’: Plaaslike slangvanger wys haar staal

Siouxsie Gillett, Mbali Mtshali en Simon Keys by die bekendstelling van die agste seisoen van Nat Geo Wild se “Snakes in the City”. (Foto verskaf)

Snakes in the City is een van National Geographic Wild se gewildste natuurlewe dokumentêre en van Woensdag 6 Julie sal Suid-Afrika se eie slanghanteerder Mbali Mtshali by die aweregse herpetoloog Siouxsie Gillett en slangvanger Simon Keys vir die agtste seisoen van die realiteitreeks aansluit.

Die nuwe seisoen is die afgelope naweek by ʼn geleentheid in Johannesburg aan jonk en oud bekendgestel, en as jy nie van slange hou nie, is dit waarskynlik nie die reeks vir jou nie. Maar as jy enigsins net ʼn bietjie nuuskierig is oor slange, veral dié wat in die groen beboste streke van KwaZulu-Natal kuier, gaan jy baie kan leer.

Gaste het by die bekendstelling nie net eksklusiewe insae in die eerste episode van die jongste reeks gekry nie, maar hulle kon saam met al drie aanbieders kuier en selfs ʼn paar nie-giftige slange van nader beskou.

Keys, oorspronklik van Engeland, is die straatwyse slangvanger wat sedert 2014 die hele Durban in die somer plat jaag om van die wêreld se dodelikste slange in die mees bisarre situasies te red, net sodat hy en Gillett die reptiele weer in die natuur kan vrylaat.

Keys en Gillett stoei met ‘n swart mamba wat hulle pas gered het in ‘n vorige seisoen van “Snakes in the City”. (Foto: @SnakeCitySimon/Twitter)

Kykers sit gewoonlik vasgenael op die punt van die rusbank en koes terwyl hulle saam wonder hoe Keys en Gillett die reptiele gaan red, sonder om gepik of gebyt te word.

Die twee getatoeëerde slangkenners is beslis nie jou normale natuurbewaarders nie, maar hulle is ernstig as dit daarby kom om die wêreld ʼn veiliger plek vir slange en mense te maak.

Keys het reeds meer as 3 000 slange in die vervaardiging van Snakes in the City gered en van al die adders is dit slegs ʼn koperkop-ratelslang van Noord-Amerika wat hom al ernstig beet gehad het. Keys het tydens die bekendstelling gespot dat dit egter net ʼn allergiese reaksie teen garnale is wat hom nog in ʼn hospitaal kon laat beland het.

Wanneer Mtshali by die span aansluit word haar vaardighede vinnig tot op die uiterste beproef. Sy moet inspring om ʼn swart mamba by ʼn skool te vang, ʼn pofadder in ʼn toilet vas te keer en kom teen   ʼn enorme luislang op ʼn bokplaas te staan. Daar is ook ʼn blitsvinnige likkewaan wat vasgetrek moet word en ʼn spoegkobra wat in ʼn plaaslike winkel gered moet word.

Mtshali, gebore in Limpopo, het op ʼn jong ouderdom na KwaZulu-Natal verhuis waar sy ook vir die eerste keer met reptiele by ʼn nie-winsgewende organisasie gewerk het. Sy het ook slange by ʼn bekende seelewe- en reptielpark in KwaZulu-Natal hanteer en sedertdien geleer om met giftige slange te werk.

Sy is ʼn toegewyde liggaamsbouer, vol energie en bied ook toere by dié reptielpark aan.

Mbali Mtshali sluit nou by die span van “Snakes in the City” aan. (Foto verskaf)

“In my kultuur is reptiele vir baie jare verkeerdelik gesien as ʼn teken van heksery, ʼn slegte voorteken of net beskou as boos. Ek hoop dat my werk in Snake in the City sal wys dat plaaslike inwoners van Durban ook slange kan vang, met die regte opleiding natuurlik.

“My grootste boodskap aan kykers en my eie gemeenskap is dat slange nie hierdie bose monsters is wat mense steeds dink hulle is nie. Slange is dikwels veel banger vir ons as wat ons ooit vir hulle kan wees,” het Mtshali gesê.

Volgens Christine Service, senior visepresident en hoofbestuurder van die Walt Disney Company Africa, is National Geographic op ʼn missie om die ontdekkingsreisiger in almal te help ontwaak.

“Ons kundiges op die kassie het ʼn groot rol om te speel in die bereiking van hierdie missie. Dit is hulle wat die wonders van ons natuurlike wêreld met die kykers deel.

“Matshali is ʼn welkome toevoeging tot die Snakes in the City-span en met haar aansteeklike passie en energie gaan sy saam met Keys en Gillett help om talle negatiewe persepsies omtrent hierdie fassinerende spesie vir National Geographic Wild se gehore regoor die vasteland te verander.”

Snakes in the City word vervaardig deur Earth Touch vir National Geographic en kan op DStv-kanaal 182 gekyk word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.