Spanning loop hoog in ‘Boer soek ʼn vrou’

Niel, Chereze en Monique klink ‘n glasie na ‘n spanningsvolle dag. (Foto: kykNET)

Vir sommige boere was dit in Donderdagaand se episode van Boer soek ʼn vrou moeilik om hulle ware gevoelens te verberg, terwyl ander steeds geheimsinnig was oor wat presies in hulle kop en hart aangaan.

Op Niel se plaas in Grabouw het die spanning hoog geloop tussen Monique en Chereze, wat albei laat blyk het dat hulle ʼn toekoms saam met dié donkerkopboer sien.

“Ek fokus nou net op hom, want dit is eintlik hoekom ek hier is. Ek voel nog steeds baie sterk aan dat daar ʼn vonkie tussen my en Niel is en ek dink nie dit kom net van my kant af nie,” het Monique laat hoor.

Niel het die geleentheid gekry om alleentyd saam met elkeen van die vroue te bestee. Hy het albei gepols oor die moontlikheid van ʼn langafstandverhouding.

Monique het bygevoeg dit is belangrik vir Niel om te weet dat sy en Chereze ernstig oor hom voel. “As ons net gaan grappies maak, gaan hy nie weet dat ons albei hier is om die regte redes nie.”

Niel wil egter tot op die einde sy gevoelens geheim hou. “Ek wil nie vir een van die twee sê watter een ek gaan kies nie, want die persoon gaan onmiddellik in ʼn ontspanne luim wees en dalk vir die ander een die verkeerde idee gee. Ek dink dit gaan moeiliker raak en ek wil nie hê die situasie moet meer gespanne raak nie.”

Kobus het vir Lynette (in rooi) en Maxie gewys hoe om boog te skiet. (Foto: kykNET)

Boer Richann was minder geheimsinnig oor sy gevoelens. Dit het selfs vir Marizel gedryf om te erken sy weet Richann en René, wat saam met haar op die plaas in Vredefort kuier, maak ogies vir mekaar. René het op haar beurt gesê sy glo daar is tog “iets” tussen Marizel en Richann.

“Hulle is baie gemaklik met mekaar,” het René gesê.

Marizel het ná afloop van haar alleentyd saam met Richann gesê dit het bevestig wat sy reeds weet. Sy het ook deurentyd aan Richann erken sy weet hy gaan haar nie kies nie.

“Ek is seker ek is nie die een wat hy gaan kies nie. Richann en René pas baie goed by mekaar.”

Op sosiale media het kykers van die program te kenne gegee dat hulle ook kon aflei Richann gaan vir René kies.

“Dit is duidelik hy gaan vir René kies,” het Amelia Pieterse geskryf.

Déan gesels met Marné en Marinel by die swembad. (Foto: kykNET)

Boer Kobus het op sy plaas in Randfontein in Gauteng ʼn boogskietaktiwiteit gekies om nader aan Maxie en Lynette te kom.

“Ek glo en vertrou ek gaan die een wees wat hy kies,” het Lynette gesê, hoewel sy later toegegee het dit voel soms, wanneer hulle in groepsverband is, dat Kobus meer aandag aan Maxie gee.

“Ek weet nie of hy dalk meer op sy gemak saam met haar voel en of ek hom dalk senuweeagtig maak nie.”

Kobus het vir Maxie en Lynette gesê hy glo hulle is goeie vroue, al kies hy hulle nie.

Marciel Hopkins, aanbieder van die program, het ʼn draai gemaak by boer Albert op sy rooibostee-en-sitrusplaas in Clanwilliam, waar Albert vir Marlia ʼn potjie rooibostee op die tradisionele wyse gemaak het.

Dít nadat sy gebieg het sy is nie lief vir rooibostee nie en drink dit nie graag nie. Die tweetjies kon egter nie ophou giggel nie en hy het haar uiteindelik gevra om nog agter te bly op die plaas.

Hoewel Albert verlede week erken het dat Marlia se brief aanvanklik nie die mas opgekom het nie en dat sy 11de op sy lys was, het dit tog geblyk dat hulle vir mekaar koer.

Kykers het laat hoor hulle dink Marlia en Albert pas goed saam. “Hulle twee is baie oulik,” sê Jacolize Moore op Facebook.

Albert het vir Marlia ‘n sterk koppie rooibostee gemaak. (Foto: kykNET)

“Ag, my moeder, hulle is oulik,” beaam Estelle Swart.

Boer Déan het ook laat blyk dat die alleentyd sy kop in ʼn verskillende rigting gestuur het en dat hy ná die gesprekke met die dames meer aangetrokke voel tot een as die ander.

Marinel het gesê sy het sterk gevoelens vir die makadamianeutboer van Mbombela (Nelspruit) en kan ʼn toekoms saam met hom sien.

Hulle het ook oor trouplanne gesels. “Ek wil nie te lank wag voordat ek verloof raak en trou nie,” het Déan gesê.

Boer soek ʼn vrou is Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.