Stian Bam maak draai in ‘Suidooster’

Stian Bam as Werner Odendaal in ‘Suidooster’. (Foto: kykNET)

Meer as ʼn dekade ná die bekroonde Afrikaanse akteur, Stian Bam, op Suid-Afrikaanse kassies in ʼn sepie te sien was, maak hy sy buiging in die kykNET-sepie Suidooster.

Bam vertolk die rol van Werner Odendaal, ʼn man wat sy mes in het vir ʼn onwetende Chris du Plooy (vertolk deur Marcel van Heerden).

Bam, wat onlangs in reekse soos Die Boekklub en Afgrond te sien was, skerts dat dit “amper soos wiskunde” is om aan die verskeie kamerahoeke van ʼn sepie gewoond te raak.

“Multi-kamera het ʼn ander stel reëls as byvoorbeeld enkelkamera of die verhoog. Jy pas jou ambag op ʼn ander manier toe. Soos met wiskunde is daar verskeie maniere om by 100 uit te kom. Ek vind dit meer tegnies.”

Hy vertel dat hy in sy sepiekarakter se skoene geklim het deur in die oomblik te wees. “Dit is ʼn bedrieglik moeilike medium om in te werk, maar dit is ook ʼn uiters goeie leerskool. Eerlikheid is alles. Die pas waarteen gewerk word, is vinnig en daar is nie tyd vir die bepeinsing nie.

“Dit was natuurlik heerlik om weer die dissipline te kan toepas en ʼn nuwe karakter vir ʼn ruk te kon bewoon. Ek was oorstelp oor die idee om dit te doen.”

Bam sê sy karakter, Werner, is ʼn doodgewone ou wat hou van visvang en ʼn bier. “Hy en Chris kom baie goed oor die weg en hulle is voëls van eenderse vere. Hoe beter ʼn mens egter vir Werner leer ken, hoe meer kom jy agter dat hy ʼn donker kant het wat soms sy goeie oordeel beïnvloed. Hy is nie gewetenloos nie.”

Stian Bam as Werner Odendaal in ‘Suidooster’. (Foto: kykNET)

Hy voeg by dat Werner glo hy moet “reg maak wat verkeerd is” op die fiktiewe dorp van Ruiterbosch. “Hy wil die chaos in homself stilmaak en die boeie breek wat hom so lank al vashou.”

Die Suidooster-familie het hom met ope arms verwelkom, sê Bam. “Suidooster is eg Kaaps en eg Suid-Afrikaans. Die familie is groot en jy raak vinnig deel van hulle. Dit was ʼn ongelooflike voorreg om deel te kon wees daarvan.”

Hy voeg by dat hy “die grootste respek” vir almal op die stel van Suidooster, voor en agter die skerms, het.

“Wat my altyd bybly, is hoe mens met ou vriende herenig en nuwe vriende maak. Ek sal die warmte waarmee ek verwelkom is en die gemak van die ervaring om daar te werk altyd onthou. Die gevoel wat heers by die Atlantic-ateljee is inspirerend. Dit is ʼn ongelooflike plek om te werk en ek dink die mense wat hulle daar bevind, moet ongelooflik dankbaar wees.”

Bam is van vanaand (Vrydag 30 Julie) om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) in die rol van Werner Odendaal in Suidooster te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.