‘Suidooster’ vier verjaardag met skenking aan kinderhospitaal

Van links na regs: Verteenwoordigers van die Rooikruis-kinderhospitaal-trust Pauline Solomons, Mershtilda Chaparadza, Nazli Philander en Chantel Cooper saam met ‘Suidooster’ se Wilmer Müller en die akteurs Dean Smith en Jawaahier Petersen. (Foto: kykNET)

Ter viering van sy vyfde verjaardag het die gewilde kykNET-sepie Suidooster Maandag ʼn reuseskenking aan die Rooikruis-kinderhospitaal gemaak.

Die waarde van dié skenking is sowat R1 miljoen en bestaan uit kontant van R50 000, die vervaardiging van ’n televisie-advertensie, R500 000 se advertensie-lugtyd op die kykNET-kanale asook blootstelling in episodes van die sepie om bewusmaking te skep van die Kinderhospitaal-trust se geldinsamelingsprojekte.

Die oorhandiging van die skenking het by Suidooster se ateljees plaasgevind. Jawaahier Petersen, wat die rol van Kaashifa in die sepie vertolk, het die saadjie geplant vir Suidooster om by die kinderhospitaal-trust betrokke te raak.

Petersen, dogter van die ontslape teaterghoeroe Taliep Petersen, is reeds een van die Kinderhospitaal se ambassadeurs en is self daar as ’n kind behandel.

Volgens Wilmer Müller, publisiteitsbestuurder van Suidooster, is dit nog altyd belangrik vir die sepie om terug te ploeg in die gemeenskap.

“Ons mantra by Suidooster is dat ons nie net mense se lewens met kykgenot wil verryk nie, maar ook op ander maniere soos deur ons harte oop te maak. Daarom het ons besluit om hande te vat met die Kinderhospitaal-trust.

“Toe ons aan die begin van die jaar koppe bymekaar gesit het om ons vyfde verjaardag te beplan, was dat vir ons voor die hand liggend om dit eerder te vier deur ʼn verskil iewers te help maak, in plaas daarvan om ʼn swierige glanspartytjie te reël.”

Chantel Cooper, uitvoerende hoof van die Kinderhospitaal-trust, sê dit is ʼn voorreg om in ʼn vennootskap te wees met donateurs soos Suidooster en kykNET.

“Die Kinderhospitaal-trust is opreg dankbaar dat ons omring is deur barmhartigheid en vrygewigheid, wat ons help om die lewens van kinders te verbeter,” sê sy.

“Ons vergeet nooit nie dat die taak wat op ons skouers rus onmoontlik sal wees sonder die ondersteuning wat ons ontvang.”

Danksy Suidooster en kykNET se skenking is die hospitaal nou nog ʼn stappie nader aan die opgradering en uitbreiding van sy noodgevalle-eenheid. Dié projek het in April 2019 afgeskop, waarvan die eerste fase pas in Oktober voltooi is, terwyl die spertyd vir die afhandeling van die tweede fase geoormerk is vir Februarie 2022. Die koste vir die projek beloop R122 miljoen, waarvan R87 miljoen reeds ingesamel is.

Om ’n skenking te maak of vir meer inligting oor die Kinderhospitaal-trust besoek www.childrenshospitaltrust.org.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.