Taliep se dogter oor sepie-rol: ‘Hy sou só trots wees’

Jawaahier Petersen. (Foto: Verskaf)

Jawaahier Petersen. (Foto: Verskaf)

Jawaahier Petersen (31), dogter van die ontslape dramaturg en teaterlegende Taliep Petersen, het onlangs deel geword van die Suidooster-sepiespan nadat sy vir langer as ʼn dekade as kliniese maatskaplike werker gewerk het.

Petersen, wat sedert middel Maart die rol van die naïewe en sosiaal-wanaangepaste Kaashifa vertolk, het byna oornag een van dié kykNET-sepie se gewildste karakters geword. Kaashifa is deur haar ouma grootgemaak, want haar ouers is vroeg dood.

“Sy is baie tradisioneel grootgemaak en nooit blootgestel aan die wêreld en ander mense nie,” vertel Petersen in ʼn onderhoud met Maroela Media.

“Sy is maar ʼn koekerige tipe meisie wat saam met haar ouma by die huis was,” lag sy. “Nou woon sy skielik in hierdie fantasiewêreld, waarin Mymoena Samsoedien, die internet-kossensasie, haar ingenooi het. Vir Kaashifa is dit op dieselfde vlak as om vir Oprah Winfrey te ontmoet.”

Kaashifa word heeltemal bedwelm deur Mymoena, wat vertolk word deur Jill Levenberg, se teenwoordigheid in haar lewe. “Wanneer sy ingenooi word deur die Samsoedien-familie is dit asof haar hele wêreld op sy kop gedraai word. Sy kan nie glo iemand met aansien soos Mymoena stel in haar en haar stories belang nie.”

Petersen, wat ʼn meestersgraad in kliniese maatskaplike werk het, vertel haar hart was altyd by toneelspel, vermaak en die kunstewêreld, maar dat haar pa destyds nie wou hê sy moet drama gaan studeer nie.

“Deur apartheid was die rolle vir mense van kleur nooit volop nie en die onvoorspelbaarheid van die bedryf het my pa altyd baie bekommer,” vertel sy oor Taliep, wat wêreldwyd bekendheid verwerf het met sy musiekblyspel Kat and the Kings, wat onder meer in Las Vegas, op Londen se West End en New York se Broadway uitgevoer is.

Jawaahier Petersen in 'n toneel uit 'Suidooster'. (Foto: Verskaf)

Jawaahier Petersen in ‘n toneel uit ‘Suidooster’. (Foto: Verskaf)

“Nadat ek vir ʼn jaar regte studeer het en besef het my hart is nie daarin nie, het ek toevallig in maatskaplike werk beland en ek is só dankbaar daarvoor. Maatskaplike werk is vir my hart en toneelspel is vir my siel en mens het mos ʼn hart en ʼn siel nodig om ʼn liggaam aan die gang te hou,” sê Petersen.

Sy vertel sy het reeds vier keer ʼn oudisie vir verskeie rolle in Suidooster afgelê voordat sy die rol van Kaashifa losgeslaan het. Sy was op pad terug van Johannesburg na Kaapstad op die lughawe toe sy die oproep ontvang het dat die rol uiteindelik hare is.

“Ek dink ek het die lughawe se dakke afgegil,” lag sy. “Dit was nog altyd my droom en hier kry ek dit uiteindelik. Ek het gewonder hoe is dit moontlik!”

Tog sal sy al haar jare se ervaring as maatskaplike werker vir niks verruil nie. “Dit het my die vaardighede geleer om met mense te werk en dit het my blootgestel aan mense in die diepte van hulle swaarkry. Dit help my om altyd my voete plat op die aarde te hou.

Jawaahier Petersen speel teenoor Jill Levenberg in 'Suidooster'. (Foto: Verskaf)

Jawaahier Petersen speel teenoor Jill Levenberg in ‘Suidooster’. (Foto: Verskaf)

“Toe ek destyds ʼn aanbieder op die program An-Nur (The Light) was, het my pa vir my gesê ek moet myself so plat soos ʼn minora blade hou en seker maak die bedryf sluk my nie in nie,” onthou sy. “Ek hoor daai woorde elke dag in my kop.”

Sy moes egter eers ʼn ruk uit die vermaakbedryf tree nadat Taliep op 16 Desember 2006 koelbloedig in sy huis vermoor is. “Met die hofsaak en die kollig wat daarmee gepaard gegaan het, moes ek eers ʼn ruk weer skuil. Ek moes eers ordentlik rou en myself weer vind as ʼn kind sonder ʼn pa.”

Sy sê dit vervul haar om elke dag tyd saam met mense in die bedryf deur te bring wat die fondament gelê het vir vroue van kleur in die vermaakbedryf.

“Mense soos Jill Levenberg, wat onlangs die Safta-toekenning gewen het vir beste aktrise vir haar rol in Ellen Pakkies, en Denise Newman, is die kaliber van toneelspelers wat gesorg het dat ons nie meer die tea ladies hoef te speel nie. Ek kan elke dag by hulle leer, met hulle gesels en raad by hulle kry. Die res van die span is net so ongelooflik. Hulle beantwoord elke vraag wat ek het, al is dit hoe dom, en hou deurentyd my hand vas.”

Sy lag dat dit vir haar ʼn uitdaging was om die Kaapse Afrikaans-aksent, soos haar pa dit ook gepraat het, voor die kameras te gebruik. “Ek het ʼn Pretoriase Afrikaanse aksent, so ek moes my Kaapse wortels weer omhels vir die rol van Kaashifa. Kaashifa daag my ook uit omdat sy soveel anders is as ek – foeitog, sy is so skaam met so min selfvertroue, en ek is glad nie so nie. Ek is ʼn ma en lankal getroud en sy is jonger as ek, so ek moes die balans vind van ʼn grootmens wat nog kinderlik is in ʼn mate.”

Petersen, wat ook ʼn klein rol in die gewilde kykNET-telenovella Arendsvlei vertolk, sê sy weet haar pa sou baie trots gewees het om haar weer op die kassie te sien. “Hy het my eendag op die stel van An-Nur kom verras. Sy oë het vol trane geskiet toe hy sê hy is so trots om te sien watse natural ek voor die kameras is – én dan is ek nog boonop slim ook! Dit was sy woorde. Hy het geweet ek bestee ure op die stel en dan gaan ek huis toe om weer voor die boeke in te skuif. Hy het raakgesien hoe hard ek gewerk het en dit het hom verskriklik trots gemaak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Marietjie ·

Baie geluk. Ek glo jou pa sou baie trots gewees het. Ek sien hom smile.

Lizelda ·

Ek geniet my daaglikse Suid-Ooster episode, met al die karakters. En nou met Kaashifa het ek gewonder is sy regtig so onskudig of is daar weer n kinkel in die kabel. :-) Baie geluk md nuwe rol. :-)

Victoria ·

Baie geluk meisie.Geniet dit want dt kom Jo toe.God bless u with many more

Abeedah Smith ·

Wowwwww Inspirasie Voorwaar Ju Pa Sou Trots Wees Kaasiefa Jyt n Sterker Persoon kom Raak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.