‘Survivor SA’: ‘Ek is so spyt’

Mmaba Molefe is die mees onlangse deelnemer wat in Survivor SA die trekpas gekry het. (Foto: Verskaf)

Mmaba Molefe het tydens gisteraand se dramatiese episode van Survivor SA die trekpas gekry nadat sy nie die immuniteit, wat sy gekry het enkele oomblikke voor haar naam uitgelees is, gebruik het nie.

“Ek is so emosioneel daaroor en dit is beslis die ding waaroor ek die spytste is. Dit is natuurlik die een ding wat ek anders sou doen en die moeilikste les wat ek geleer het,” het die 28-jarige van Plumstead in Kaapstad gesê.

Mmaba is die 14de deelnemer om uitgestem te word nadat Rob, Nicole, Steffi, Durāo en Laetitia haar naam neergeskryf het. Sy is nou die sesde lid van die jurie wat aan die einde van die reeks die wenner sal kies.

“Terwyl ons daar by tribal council gesit het, was dit die enigste ding wat deur my gedagtes gegaan het – moet ek my immuniteit speel of nie. In my binneste het ek gevoel ek moet dit speel. Jy gaan egter deur soveel emosies en jy weet nie presies wat aan die gang is nie.”

Volgens Mmaba wou sy graag haar immuniteit hou vir wanneer sy gevoel het sy dit regtig nodig het om haarself in die spel te hou. “Ek moes van beter geweet het. Die feit dat ek ʼn voordeel gehad het, was genoeg rede om my uit te stem.”

Mmaba Molefe word uitgestem uit Survivor SA. (Foto: Verskaf)

Mmaba en Steffi is na die Island of Secrets gestuur waar ʼn heerlike maaltyd op hulle gewag het voor hulle mekaar in ʼn uitdaging die stryd aangesê en Mmaba immuniteit gewen het.

Alle aandag was egter op Jacques en die res van die deelnemers se reaksie op iets wat hy gesê het. Steffi het haar alliansie vertel van die voordeel wat Mmaba gewen het en daar is toe besluit om haar uit te stem.

Oor die gebeure rondom Jacques sê Mmaba dat mense onder normale omstandighede nie so sou reageer nie. “Klein dingetjies kan jou egter laat afgaan wanneer jy die spel speel en dan word goed uit proporsie geblaas. Die alliansie het dit deel van hulle spel gemaak. Dit was aaklig.”

Vir Mmaba is die luuksheid van haar huis die lekkerste deel van terug wees van die eiland af. “Om in my eie bed, wat onder ʼn dak is, te slaap en om nie heeltyd nat te reën nie. Dit is die klein dingetjies wat ons eintlik elke dag as vanselfsprekend aanvaar.”

Mmaba is die 14de deelnemer om uitgestem te word. (Foto: Verskaf)

Mmaba sê sy is tevrede met die manier waarop sy die spel gespeel het. “Ek het onder die radar probeer bly, maar tog sterk alliansies gevorm.” Sy neem ook haar rol op die jurie baie ernstig op. “ʼn Mens moet verby die emosie kyk en kyk hoe iemand die spel gespeel het. Dit moet iemand wees wat die sosiale deel en die fisieke deel van die spel gespeel het en wat verbintenisse met mense gevorm het. Die persoon gaan ook rekenskap moet kan gee van hul optrede en besluite.”

Die immuniteit wat Mmaba gewen het en saam huis toe gebring het, is intussen op ʼn muur in haar huis vasgesit waar dit dien as ʼn herinnering om die gevoel in jou binneste te vertrou.

Daar is nou sewe mense oor in die Manumalo-stam, naamlik Steffi, Laetitia, Jacques, Mike, Rob, Nicole en Durāo.

Kort voordat Mmaba uitgestem is. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.