‘Teater is my tuiste’ sê Wilhelm van der Walt

Wilhelm van der Walt. (Foto: Wilhelm van der Walt/Facebook)

Daar is min akteurs wat jou kan laat skaterlag in een toneel, en na die sneesdoekies kan laat gryp in die volgende. Tog is dit presies hoe mens Wilhelm van der Walt kan beskryf.

Hoewel dié veelsydige 38-jarige akteur al in talle reekse en rolprente, insluitend Donkerbos, 7de Laan, Ekstra Medium en Die Spreeus, verskyn het, is dit in die teater op die verhoog waar hy die gemaklikste is.

“ʼn Verlangse familielid van my, André Huguenet, was in die vyftigerjare bekend vir sy teaterwerk,” dink Wilhelm oor waar sy liefde vir teater vandaan kom.

“Dit is dalk sy bloed wat deur my are ook vloei.”

Ná skool, toe hy ʼn keuse oor die rigting van sy lewe en loopbaan moes maak, het sy belangstelling in menslike gedrag hom op sielkunde by die Universiteit van die Vrystaat laat besluit.

Dié studies het egter ná ʼn jaar gesneuwel.

“Ek was net nie op die regte plek nie,” onthou hy.

Wilhelm het in daardie stadium ook universiteitsêr gesing, en het die geleentheid gekry om ʼn oudisie vir ʼn musiekblyspel af te lê, wat Pedro Kruger en Hennie van Greunen aangebied het.

Dit is juis die rol wat hy in dié musiekblyspel losgeslaan het, wat hom laat besef het dat hy in die wêreld van toneelspel hoort.

“Toe ontmoet ek al die freaks en geeks van die dramadepartement. Ek het dadelik geweet dit is waar ek moet wees.”

In daardie stadium, was Wilhelm vasbeslote dat dit nie net teater was waar hy sy loopbaan sou voortsit nie, maar meer spesifiek musiekteater. Hy het vir die res van sy universiteitsloopbaan sêr gesing.

Nadat hy sy voorgraadse studies in Bloemfontein voltooi het, is hy sak en pak Stellenbosch toe. Dit was daar waar hy gesmag het om te werk, saam met mense wat hy vandag nog as mentors beskou.

“Daar het ek my meestersgraad onder Martinus Basson en Antoinette Kellerman voltooi. Dit was die beste besluit gewees want die teaterdeure het daarna vir my begin oopswaai.”

Wilhelm het intussen al in agt van Martinus Basson se produksies gespeel.

Cintaine Schutte en Wilhelm van der Walt in “Mutton Hour”. (Foto: Jeandré Hammond)

Hy sit vanjaar sy voorliefde vir teaterwerk saam met Cintaine Schutte voort. Dié twee akteurs is saam te sien in Mutton Hour, ’n stuk wat spesiaal vir huisteater geskryf is.

Saam reis hulle tussen huise, voorstoepe, agtertuine en kunstefeeste om dié lighartige produksie op te voer.

“Die stuk het na soveel pret gelyk,” vertel Wilhelm.

De Klerk Oelofse was aanvanklik saam met Cintaine in die stuk te siene, maar moes weens ander verpligtinge onttrek.

Toe Cintaine en Gideon Lombard, die regisseur van die produksie, Wilhelm nader om die leisels op te tel, het hy nie geskroom om byna onmiddellik in te stem nie.

“Ek was so dankbaar. Dit het op presies die regte tyd gekom.”

Wilhelm het in daardie stadium pas die verfilming van twee donker produksies, waarvan die een Donkerbos was, afgehandel.

Sy karakter  in die gruwelreeks se naam is Sybrand Pieterse. Hy was gelukkig, erken hy, hy het met vorige teaterstukke hom ook in die donker ruimtes van dié soort toneelspel bevind.

Hy onthou die dag waarop hy Donkerbos se teks deurgelees het.

“Dit was die beste, maar ook die donkerste teks wat ek al gelees het.”

Hy het aanvanklik nie die oudisie om die rol van Sybrand te vertolk afgelê nie. Dit was Edwin van der Walt se rol, dié van Braam, wat sy oog gevang het.

Hy het egter vir die pret een van Sybrand se tonele opgevoer, met geen verwagting dat dit die rol sou wees wat hy eindelik sou losslaan nie.

“Ek het gedink dat iemand soos Laudo Liebenberg of Neil Sandilands die rol sou vertolk. Ek was aangenaam verras toe Nico [Scheepers] eindelik op my besluit het.”

(Foto: Wilhelm van der Walt/Facebook)

Wilhelm het reeds voorheen saam met Nico, skrywer en regisseur van Donkerbos, gewerk. Vanuit dié werk, het ’n vriendskap- en vertrouensverhouding gespruit.

Dit was dus vir Wilhelm maklik om met Nico oor sy karakter te kommunikeer tydens die verfilmingsproses.

Vertroue is iets wat nie net tussen Wilhelm en Nico tasbaar was nie, maar ook deur die hele groep akteurs van die reeks gevloei het.

“Toe ek hoor wie die akteurs is wat daarin gaan speel, het ek geweet dat alles oukei gaan wees.”

Wilhelm stap al ’n lang pad met Edwin en Erica Wessels. Hy het saam met Erica die oudisie vir Donkerbos gedoen, en het reeds voorheen die boetie van Edwin vertolk. Saam het dié akteurs deur die moeilike temas van die reeks gewerk.

“Ons kon dinge lig hou terwyl die kameras nie gerol het nie, maar ons was eerlik en weerloos teenoor mekaar terwyl ons geskiet het, ons kon mekaar ten volle vertrou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.