‘The Bachelor SA’: Die liefde blom tydens inperking

Marc en Marisia (Foto: Verskaf)

In die finale episode van The Bachelor SA se tweede seisoen het Marc Buckner vir Marisia van Wyk van Klerksdorp gekies om ʼn verhouding mee te begin.

Marisia en Bridget Marshall was die laaste twee vroue wat meegeding het om Marc se hart, en hoewel dit vir talle aanhangers voorgekom het asof Bridget in die laaste paar afsprake die voorloper was, was dit Marisia wat eintlik Marc se hart gesteel het.

“Ek dink ons is ʼn goeie paartjie. Ek wil nie hê hierdie reis saam met jou moet ophou nie,” het Marc aan Marisia gesê in die finale episode wat Donderdagaand op die kassie te sien was.

Marc het vir haar ʼn ring gegee as simbool van hul wonderlike verhouding. “Ek is regtig besig om vir jou te val,” het hy gesê.

Marc en Marisia (Foto: Verskaf)

Wow! Ek het nie woorde nie,” het Marisia gesê. “Die reis was moeilik, maar ek het beslis vir jou geval en daar is net iets aan jou wat ek nog nooit met iemand anders gevoel het nie.”

Marisia is 24 en Marc 36 jaar oud. Die ouderdomsverskil tussen die twee was van die begin af ʼn besprekingspunt op die program, maar Marisia sê dit pla haar glad nie.

“Die ouderdomsverskil beteken nie regtig iets vir my nie, want ek dink my gevoelens vir jou beteken soveel meer. Ek wil net daarop fokus – en fokus op óns – en hopelik kan ons saam groei.”

Marc en Marisia is tans saam in isolasie tydens die landwye afsondering en het tydens ʼn mediakonferensie dolverlief op mekaar gelyk.

Marc skerts dat dit nou vir hulle langer gaan neem om winkels toe te gaan, aangesien die aap uit die mou is dat hulle ʼn paartjie is.

Hy vertel aan Maroela Media die keerpunt waar hy besef het hy gaan vir Marisia kies, was toe sy tydens hul finale afspraak van ʼn perd afgeval het.

“Dis sulke oomblikke wat jou gevoelens regtig opwakker en my net laat besef het hoe baie ek regtig vir haar omgee. Maar om eerlik te wees, van die eerste afspraak af kon mens sien dat daar sterk gevoelens tussen ons was.”

Marc sê dit was een van sy grootste vrese dat hy verlief raak op iemand wat dan nie daar is om die regte redes nie, maar dat hy oortuig is dit is nie die geval met Marisia nie.

“Ek was nie eens seker of sy die ring sou aanvaar nie, en dit wys net nóg meer dat sy om die regte redes daar was. As sy vir faam of iets anders daar was, sou sy ja gesê het, maak nie saak wat nie, maar ek was nie seker daaroor nie,” sê hy.

Die paartjie, wat reeds vir ses maande saam is, het ook vroeër die jaar saam Thailand besoek. Hulle sê dié reis het net vasgemaak wat hulle reeds gevoel het en het hulle sekerheid gegee dat hulle die regte besluite geneem het.

Marc en Marisia (Foto: Verskaf)

Marc en Marisia geniet nou die klein dingetjies in die lewe. Hulle maak saam kos en leer mekaar op ʼn meer persoonlike manier ken, veral omdat hulle verhouding tydens die landwye afsondering groei.

“Dit voel vir my of die verhouding eintlik eers ná die program begin. Mens leer mekaar ken daarop, maar die régte verhouding begin eers agterna,” sê Marc.

“Die verhouding gaan baie meer opwindend wees as ons eers uit die staat van inperking is, want ons albei is buitelug-tipe mense,” sê Marisia.

“Maar vir eers beteken die klein goedjies ook baie vir ons omdat ons mekaar op ʼn ander manier leer ken en baie tyd saam kan deurbring.”

Hulle sê hulle is baie opgewonde om na afsonderingsvlak 3 te beweeg sodat hulle weer oefeninge buite kan doen. Wanneer die afsonderingsfase verby is, sien hulle uit na ʼn lang padrit Durban toe om by Marc se familie te gaan kuier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.