‘The Bachelor SA’ hernu vir tweede seisoen

Lee Thompson (Foto verskaf deur Showmax)

Terwyl kykers nog swymel oor die aantreklike Lee Thompson wat vanjaar as die heel eerste The Bachelor SA op die kassie te sien was, het M-Net pas aangekondig dat hulle volgende jaar ʼn tweede seisoen van die gewilde program sal aanbied.

Volgens M-Net het hulle reeds begin soek vir Suid-Afrika se tweede The Bachelor, terwyl Jason Green volgende jaar sal terugkeer as die aanbieder van die reeks.

M-Net het gesê daar was heelwat bespiegeling oor of dié program weer as The Bachelor of eerder as The Bachelorette sou aangaan, waar hulle een van die dames van die vorige seisoen die kans sou gee om rose uit te deel. Maar dié gerug wil hulle sommer vinnig in die kiem smoor.

“Alhoewel ons nie deur die eerste seisoen die gelukkige einde gekry het waarvoor almal gehoop het nie, glo ons steeds in die krag van liefde,” sê Lani Lombard, bemarkingshoof van M-Net.

“Die program het puik gevaar vir M-Net. Ons kykers was vasgevang in die drama en ons eie The Bachelor se avontuurlustige afsprake met die dames. Ons kan nie wag om die volgende groep dames te ontmoet nie,” sê sy.

Lee verbreek sy verhouding met Jozaan (Foto: Verskaf)

Die eerste seisoen van The Bachelor SA, wat op Valentynsdag vanjaar begin het, het in Mei tot ʼn skokkende einde gekom toe Thompson vir Gina Myers die finale roos gegee en vir Jozaan Digue alleen huis toe gestuur het. Thompson en Myers het wel tydens die finale episode van dié program verklap dat hulle verhouding na slegs ʼn paar maande nie uitgewerk het nie.

M-Net is nou op soek na die volgende groep dames wat sal meeding vir die nuwe The Bachelor se hart. Inskrywings is reeds oop en dames het tot 20 Augustus vanjaar tyd om in te skryf.

Die nuwe The Bachelor is ook nog nie gekies nie, en mans wat gereed is om liefde te vind, kan hier genomineer word. Die dames sal wel weet wie die nuwe The Bachelor is voordat die program se verfilming begin.

Vroue ouer as 21 jaar, met ʼn geldige Suid-Afrikaanse identiteitsdokument en wat beskikbaar is vir verfilming tussen 5 Oktober en 5 Desember vanjaar, kan hier inskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Suster Sê ·

Ek hoop hulle kies iemand met persoonlikheid die keer. Die vorige een het die persoonlikheid van ‘n brood gehad. Nie eers ‘n vars gesnyde witbrood nie.

Gerda ·

Stop sommer die hele idee in die kiem. Die SA weergawe is lagwekkend, polities aan geplak en plain weg net n grap. Dit kan nie eers in die selfde sin gebruik word as die VSA se weergawe nie.

Cheryl ·

Dit gaan presies dieselfde paadtjie loop as “Big Brother” klaar gesien!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.