‘The Bachelorette’: ‘Ek het ʼn ander soort liefde gevind’

Qiniso stuur vir Ruan sonder ‘n roos huis toe (Foto: MNet)

Qiniso van Damme het in Donderdagaand se episode van The Bachelorette SA vir Ruan Meyer van Bloemfontein sonder ʼn roos huis toe gestuur.

Ruan sê hoewel hy nie die soort liefde gevind het waarvoor hy ingeskryf het nie, het hy ware vriendskap tussen die mans in die huis gevind.

Ruan was van die begin af ʼn gunsteling onder die kykers met sy sterk Afrikaanse aksent, droë sin vir humor en lang hare wat hom soos Jon Snow van Game of Thrones laat lyk.

Hy vertel aan Maroela Media dat hy hartseer was toe hy nie ʼn roos gekry het nie, maar tog ook effens verlig omdat dit vir hom ʼn moeilike ervaring was.

Ruan Meyer (Foto: MNet)

“Ons was teen daardie stadium al langer as ʼn maand daar en ek was net ʼn bietjie geestelik uitgeput. Ek was hartseer dat ek nie meer die pad saam met haar [Qiniso] kon stap nie, maar ook bly om terug te gaan huis toe na my familie en vriende,” sê hy.

Qiniso het gesê sy kon sien Ruan raak meer teruggetrokke en geniet dit nie meer so baie soos voorheen nie.

Hoewel dit vir hom soms moeilik was, sê Ruan hy is ongelooflik bly oor sy ervaring met The Bachelorette en sal dit oor en oor weer kies.

“Ek is baie bly ek het dit gedoen. Ek mag dalk nie daardie soort liefde gevind het waarvoor ek ingeskryf het nie, maar ek het ʼn ander soort liefde gekry.

“Ek het nie gedink ek gaan so baie vriende maak as ek op so ʼn program verskyn nie. Ek het nie gedink die ander ouens gaan sulke cool mense wees nie. So, ek het steeds liefde in die opsig van goeie vriendskappe gekry.”

Ruan sê hy is steeds enkellopend en wag geduldig op die vrou wat vir hom bedoel is. Hy het ook reeds baie boodskappe op sosiale media gekry van mense wat hom op die program gesien het.

Die top-5 (Foto: MNet)

Gareth, Vuyani, Swazi en Justin is die oorblywende vier mans in die stryd om Qiniso se hart. The Bachelorette SA is elke Donderdag om 19:30 op M-Net-kanaal 101 te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.