‘The Bachelorette’: Qiniso groet twee mans

Qiniso van Damme (Foto: M-Net)

Qiniso het vandeesweek twee mans, Peter Roos en Aviwe Mahlakatha, albei huis toe gestuur sonder ʼn roos, wat slegs ses deelnemers agterlaat vir die stryd om Qiniso se hart.

Verlede week was kykers op die punte van hul stoele vasgenael toe Qiniso vir Peter en Vuyani na ʼn private roosseremonie genooi het waar sy een van hulle sou groet.

Nadat sy in vandeesweek se episode met albei individueel gepraat het, het sy besluit om vir Vuyani ʼn roos te gee, en sodoende vir Peter huis toe te stuur. Dit het gevolg na Vuyani en ander deelnemers haar gewaarsku het dat Peter nie opreg is nie.

“Ek was vol selfvertroue toe ek ingegaan het om met haar te praat, want ek het sterk gevoel oor ons konneksie,” sê Peter.

Peter en Qiniso was vir ʼn tyd lank saam op laerskool en deur die loop van die seisoen het Peter baie na dié feit verwys as ʼn rede hoekom hul verbintenis so sterk is. Qiniso wou egter meer hê en wou nie in die verlede leef nie.

Qiniso kies tussen Peter en Vuyani (Foto: M-Net)

“Ek het die afgelope paar dae regtig die bal in jou hande probeer plaas en jou probeer wys dat ek nie wil hê ons moet meer oor die verlede praat nie,” het Qiniso gesê.

“Dit voel nie asof jy genoeg moeite gedoen het om my nóú te leer ken nie. Ek weet nie hoeveel keer ek moet skimp of hoeveel balle ek in jou hande moet gooi voordat jy op die hede begin fokus eerder as op die verlede nie.”

Peter het gesê hy voel nie dat dit ʼn regverdige, of die regte, besluit is nie, maar dat die lewe self ook nie regverdig is nie.

“Dis vir my sleg dat ek huis toe gestuur is omdat ander mense sleg van my gepraat het. Maar dis haar besluit; as sy eerder by so ʼn tipe mens wil wees, kan sy,” sê hy.

Qiniso groet Aviwe (Foto: M-Net)

By die volgende roosseremonie het Qiniso ook vir Aviwe gegroet, nadat hy reeds ʼn paar keer vir haar gesê het hy is besig om op haar verlief te raak.

“Sy het ʼn wonderlike groep mans. Daar is seker iets binne ons almal waarvan sy hou. So dit is letterlik net ʼn geval dat ek teen beter mans verloor het,” het Aviwe gesê.

The Bachelorette SA is elke Donderdag om 19:30 op M-Net kanaal 101 te sien.

Qiniso saam met die oorblywende ses mans (Foto: M-Net)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.