Trane, verslaentheid toe vroue tasse pak in ‘Boer soek ʼn vrou’

Die top-5-boere van die 13de seisoen van ‘Boer soek ‘n vrou’. Van links na regs is boere Déan, Kobus, Niel, Richann en Albert. (Foto: kykNET/Donna Lewis)

Ondanks die feit dat Boer soek ʼn vrou se oorspronklike formaat weens die Covid-19-pandemie vir die verfilming en vervaardiging van die 13de seisoen aangepas moes word, bly dit ʼn trefferreeks onder stoere kykNET-kykers.

In die eerste paar episodes moes kykers gewoond raak aan telefoniese gesprekke, virtuele ontmoetings en afgesonderde blitsafsprake.

Die liefde laat hom egter nie eens deur ʼn wêreldpandemie stuit nie, hoewel kykers dikwels op sosiale media daarop gewys het dat dié seisoen ʼn “onpersoonlike gevoel” het omdat aanraking tussen die deelnemers tot die uiterste beperk word.

Kupido se boog het tot dusver vir groot vermaak en opwinding gesorg. In die negende episode, wat môreaand (Donderdag) uitgesaai word, ontmoet die gekose dames die boere se families en leer ken kykers die boere in ʼn ontspanne en gesellige luim.

In verlede week se episode was die pittige rooikopboer Albert stomgeslaan toe een van die meisies besluit het om haar tasse te pak kort nadat hy ʼn ander meisie ook gevra het om die plaas te verlaat.

“Ek weet nie wat nou net gebeur het nie,” het Albert (24) verslae gesê toe Mariska én Trudie die vertrek verlaat het. Trudie het besluit om self haar liefdesreis voor die Boer soek ʼn vrou-kameras te beëindig.

Trudie het self gekies om boer Albert se plaas te verlaat. Hy het vir Mariska ook huis toe gestuur. (Foto: kykNET)

“Ek het net weereens agtergekom hoe vol nonsens ek is wanneer dit kom by ouens,” het Trudie gesê.

Die blondekop-Marlia het alleen saam met Albert op die rooibostee-en-sitrusplaas in Clanwilliam in die Wes-Kaap agtergebly.

Michellé, een van die dames op boer Kobus se plaas in Randfontein, was ook uit die veld geslaan toe hy haar gevra het om die plaas te verlaat. Lynette en Maxie bly agter.

Marciel Hopkins, aanbieder van die program, het ʼn baie emosionele Michellé getroos. “Dit is vir ons skrikwekkend om na ons eie seer te kyk, maar ek glo die oomblik dat ons eerlik is met onsself oor wat seermaak, is waar ons healing journey begin. Ek is verskriklik jammer dat jy seergekry het hierdeur; ek glo daar gaan iemand wees wat jou raaksien vir wie jy is.”

Lynette het teenoor Marciel gebieg dat sy “soos ʼn skoolkind vlinders in haar maag gevoel het” toe sy en Kobus die vorige aand vasgedans het.

“Sy geloofsgrondslag is belangrik en dit is ʼn baie mooi eienskap wat hy het. Hy kort ʼn baie flukse vrou wat daarvan hou om die lewe te geniet,” het Lynette gesê.

Michellé (links), Maxie en Lynette was geskok toe Kobus eerste vir Michellé huis toe gestuur het. (Foto: kykNET)

“Wat die vlinders veroorsaak het, is sy aanraking. Dis die kyk in die mooi, donker oë. Ek smelt weg in sy oë. As ʼn man kan vasdans, is dit ook altyd ʼn bonus.”

Volgens Kobus (53) was dit ʼn moeilike besluit om vir Michellé die trekpas te gee. “Sy is ʼn pragtige mens en ek glo in haar wêreld is sy ʼn juweel, maar ek weet nie of ʼn boer die regte man vir haar gaan wees nie.”

Boer Déan (28), wat boer met makadamianeute in Nelspruit, Mpumalanga, het vir Megan gevra om huis toe te gaan. Sy keuse was vir kykers, wat op sosiale media laat hoor het dat hulle glo Déan en Megan soos ʼn handskoen pas, ʼn verrassende wending.

Déan was ooglopend ontsteld toe Megan die plaas verlaat het. Megan het vroeër laat hoor dat haar oupa vir Déan ken en dat sy vertroud is met sy omgewing en leefstyl.

Op die grapjasboer Richann se plaas het dinge ʼn ernstige draai gemaak toe hy die blondekop-Annemien gevra het om haar tasse te pak. René en Marizel bly agter.

“Ek is verlig, want dit is maar ʼn uitputtende proses. Ek respekteer sy besluit,” het Annemien gesê.

Monique (links), Sheri en Chereze op boer Niel se plaas. Sheri is eerste huis toe gestuur. (Foto: kykNET)

Hoewel een van die dames op boer Niel (32) se vrugteplaas in Grabouw, Wes-Kaap, geglo het Sheri vind die meeste aanklank by hom, het hy ander planne gehad en haar eerste huis toe gestuur.

Dié blondekop en die vrugteboer het aanvanklik duidelike flikkers vir mekaar gegooi, maar sy het deurentyd besef dat sy egskeiding iets is waaraan sy moeilik herkou.

Sheri het kykers laat skater toe sy tydens die rit op pad huis toe hardop onthou het dat sy iets agtergelaat het: “Ek het my gin vergeet!”

“Ek wil net weet of Sheri darem haar gin gekry het wat sy vergeet het,” skerts Nicolette Claassen Smith op die program se Facebook-blad.

“Sy was meer hartseer oor die gin as oor die boer [sic],” sê Janet Oosthuizen.

Marciel Hopkins liefkoos ‘n dwergbokkie op een van die boere se plase. (Foto: Instagram/Marciel Hopkins)

Die blad gons ook oor Marciel, voormalige mej. Suid-Afrika-finalis en aktrise, wat vanjaar vir die eerste keer die program aanbied.

Sy het onlangs op Instagram geskryf dit was vir haar soos ʼn reis deur haar herinneringe om die plase te besoek, aangesien sy self op ʼn plaas grootgeword het. “Dwergbokkies was my troeteldiere as klein dogtertjie,” het sy geskryf.

Boer soek ʼn vrou is Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

MakersMark ·

En die een hoopvolle probeer leliker wees as die volgende een ……ek onthou die braai hoender draai oond by Fontana kafee in Hillbrow in die ’80’s was meer interessant……

Barney ·

Ons lag lekker en geniet die program. Die enigste negatief is die aanbieders. Die Australiaanse formaat waar daar net ‘n verteller is ipv ‘n aanbieder is baie beter

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.