Tweede seisoen van ‘Fynskrif’ dán op die kassie

Neels van Jaarsveld as Ben van Wyk (Foto: kykNET)

Die gewilde kykNET-dramareeks Fynskrif is so goed deur kykers ontvang dat daar reeds aan die tweede seisoen begin verfilm is.

Maroela Media het vroeër berig dat Louis Pretorius, een van die vervaardigers van Fynskrif gesê het dat hulle oorweldig was deur die reaksie op die eerste seisoen van dié reeks, en hulle daarom ʼn tweede seisoen wou vervaardig.

“Die verfilming van Fynskrif 2 het op 8 April begin en sal tot 29 Junie vanjaar voortduur. Die akteurs en tegnici werk alreeds van begin Maart hard agter die skerms ter voorbereiding van die skietproses,” het kykNET in ’n verklaring gesê.

Hoewel al die ou bekendes van seisoen een terug is, is daar ook ʼn paar nuwe gesigte wat hul verskyning in die tweede seisoen sal maak.

Nuwe gesigte soos Christia Visser en De Klerk Oelofse kan verwag word en ’n nuwe klerk, vertolk deur Lea Vivier, sluit ook by die praktyk aan.

“Die afgelope twee weke is daar alreeds verfilm by Wian (Edwin van der Walt) sowel as Hans (Chris van Niekerk) se huise. Oor die volgende paar weke word al die ander karakters se huise verfilm insluitend ’n paar interessante gebiede soos ’n paintball-baan, ’n verlate skuur en ’n Rooms-Katolieke kerk. Vanaf Junie word daar in Van Wyk & Vennote se nuwe kantore in Somerset‑Wes verfilm,” het kykNET gesê.

Nina Swart (Foto: kykNET)

In ander opwindende nuus maak Nina Swart haar buiging as drama-regisseur. Met haar jarelange tegniese ervaring as regisseur en skepper van realiteit-, aktuele en vermaakreekse, sowel as haar tyd voor die kamera, bring sy ’n magdom kennis en energie na die stel.

Fynskrif draai om die regsfirma, Van Wyk & Vennote. In elk van die 13 episodes van die eerste reeks het die prokureurs ’n saak wat hulle tussendeur persoonlike en familiedramas moet hanteer. Bekende akteurs soos Neels van Jaarsveld, Tinarie van Wyk Loots, Cintaine Schutte, Jacques Bessenger en Kim Cloete het rolle in die eerste seisoen vertolk.

“In die tweede seisoen hang die praktyk se toekoms aan ’n draadjie en word almal onder geweldige druk geplaas. Daar is egter ook baie om na uit te sien oor hoe die verskillende verhoudings ontwikkel en soos altyd ’n paar interessante sake,” het Pretorius gesê.

Fynskrif 2 is vanaf Oktober op DStv-kanaal 144 te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

WJ ·

Kyk op die oomblik na die eerste reeks.
Kan nie wag vir die tweede reeks.
Uitstekende reeks.
Mal daaroor.

Tante Koba ·

Fantastiese goeie nuus!
Baie dankie, dis ‘n baie goeie reeks met puik akteurs.
Sien uit daarna.

Lucy ·

Fantastiese nuus – kan nie wag dat die tweede reeks begin nie, voorwaar puik afrikaanse televisie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.