Video: Hannes van Wyk steeds ‘net homself’ op Kwêla-bank

Hannes van Wyk. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Dit is nou al agt jaar sedert Hannes van Wyk Kwêla se aanbiedersleisels by Coenie de Villiers oorgeneem het, en vandag is hy steeds net een ding: homself.

“Wanneer jy toneelspeel, vertolk jy ʼn rol, maar op die Kwêla-bank en wanneer ons die Hannes aan huis-kuiers doen, is jy maar net jouself.

“Ek het nog nooit probeer om iets anders te wees nie.”

Met sy grys kapsel en netjiese aanbiederspak, gesels hy oor die blinknuwe baadjie waarmee Kwêla se stel eersdaags gaan spog.

Dié stel is ontwerp om die geselsprogram se nuwe tydgleuf op Sondae-aande te vergesel, en is deurtrek met voorwerpe wat oor die program se uniekheid getuig.

“Ons het van laatmiddag na aand toe geskuif, daarom wou ons warmer kleure ten toon stel,” het Paul Venter, vervaardiger van Kwêla aan Maroela Media vertel.

“Die vorige stel was klein bietjie kouer, met ʼn ateljee-gevoel, terwyl die nuwe stel herinner aan ʼn warm sitkamer.”

(Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Hannes is opgewonde om homself tuis in Kwêla se splinternuwe leefkamer te maak. “Dit is nie groot veranderings nie, maar ek dink dit lyk pragtig,” sê hy terwyl hy na die vertrek rondom hom beduie.

Hy is gemaklik met vernuwing, verduidelik Hannes, die stel en tydgleuf is ʼn aanloklike verandering wat vir die bekende geselsprogram wink.

“Ek is saam met die Kwêla-span verskriklik opgewonde!”

Wanneer hy terugdink aan die dag, agt jaar gelede, toe hy as aanbieder by Kwêla aangesluit het, is hy dankbaar dat mense hom met soveel vriendelikheid en gasvryheid in hul huise en sitkamers ingenooi het.

“Coenie is ʼn wonderlike mens en wonderlike aanbieder, maar ek het nooit probeer om dinge soos hy te doen nie.

(Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“Ek het nooit gevoel dat ek myself moet bewys nie. Ons is waar ons is danksy die wonderlike kykers.”

Kwêla is ʼn hartsprogram, verduidelik Hannes. Dit is ʼn program gevul met mensestories wat tot die warm gevoel daarvan bydra.

Dit is juis stories, hetsy dit oor bekendes of alledaagse mense met unieke verhale gaan, wat Kwêla deur die jare op die kassie gehou het.

“Iemand het vir my gesê dat Suid-Afrika armer sal wees sonder Kwêla, want dit vertel die verhale van bekendes en onbekendes met hartseer en humor.

Watch this space. Ek hoop Kwêla gaan nog ʼn 100 jaar op die TV wees. Ons gaan nog met kieries hier ingeloop kom!”

  • Kwêla sal vanaf Sondag 2 Julie om 19:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai word.

Kyk die video van Maroela Media se ‘Kwêla’-stelbesoek hier:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.