Video: Vreugdevuur brand toe Bobby ‘Spoorloos’-hoofrol kry

Bobby van Jaarsveld as Stefan Claasen in ‘Spoorloos: Die eiland’. (Foto: kykNET)

Die sanger en akteur Bobby van Jaarsveld sê hy het ʼn karakter of twee in gedagte gehad toe hy destyds ʼn oudisie vir Spoorloos: Die eiland afgelê het, maar nooit gedink het dat die hoofrol uiteindelik syne sou wees nie.

“Die vervaardigers het my laat weet dat ek Johannesburg toe moet vlieg vir ʼn tweede oudisie. Toe hulle vir my sê dat dit vir die hoofrol is, was ek stomgeslaan. Ek kon dit nie glo nie en het gedink hulle maak ʼn grap,” verklap Bobby in ʼn onderhoud met Maroela Media.

“Ek wou nog altyd ʼn ernstige rol gespeel het en toe gebeur dit gouer as wat ek verwag het. Toe ek hoor die hoofrol is myne, het ek dadelik my vuur aangesteek, gebraai en dit gevier. Ek is ongelooflik dankbaar vir hierdie geleentheid.”

Bobby is in die vierde seisoen van die gewilde kykNET-reeks Spoorloos te sien in die rol van Stefan Claasen, die avontuurlustige argitek wie se lewe in chaos gedompel word.

ʼn Terloopse ontmoeting met sy lankverlore liefde Emma Eloff (vertolk deur Izel Bezuidenhout), wakker nie net opnuut sy gevoelens vir haar aan nie, maar hy beland ook in ʼn web van bedrog wanneer sy vermis raak.

Izel Bezuidenhout as Emma Eloff in ‘Spoorloos: Die eiland’. (Foto: kykNET)

Dit het inderwaarheid nie vir Bobby oor die rol gegaan nie, maar eerder oor sy behoefte om lewe aan karakters op die kassie te gee.

“Akteurs doen gewoonlik ʼn oudisie met ʼn bepaalde karakter in gedagte, maar hierdie keer het dit nie vir my saak gemaak nie. Ek het eintlik net gehoop om so ʼn voet in die deur te kry en dat die vervaardigers my sou raaksien en besef dat ek wil act,” sê hy.

Dit is dalk Bobby se eerste ernstige rol in TV-drama, maar hy is beslis nie ʼn nuwe gesig op die kassie nie. Bobby is onder meer bekend vir flieks soos As jy sing en Liefling, hy het in die kykNET-komedie Mense mense gespeel, hy het al as beoordelaar in The Voice opgetree en is eersdaags te sien as een van Die Kontrak 2 se aanbieders.

Hoewel Bobby daaraan gewoond is om woorde te leer en kameras te hê wat op hom gerig is, was hy tog benoud op die eerste dag van Spoorloos se verfilming.

“Ek het daardie dag by die stel aangekom en toe is daar hierdie ongelooflike akteurs teenoor wie ek skielik moet speel. Dit was definitief ʼn bietjie intimiderend, maar hulle was almal so onsettend behulpsaam.

Akteurs op stel tydens die verfilming van ‘Spoorloos: Die eiland’. (Foto: Verskaf)

“Almal het soveel genade met my gehad juis omdat hulle weet ek is nie daaraan gewoond nie. Omdat ek ook iemand is wat wil leer, het ek graag na hulle raad geluister en gekyk hoe ek dit kan gebruik.”

Armand Aucamp, Izel Bezuidenhout, Ilse Klink en Hannes van Wyk is van die akteurs wat saam met Bobby in die vierde seisoen van Spoorloos te sien is.

Hy meen dat kykers van sy karakter sal hou en hy voeg by dat hulle nogal in baie opsigte dieselfde is.

“Ons is albei avontuurlustig. Hy is ʼn ou wat kanse vat en ek is ook iemand wat vinnig reageer en nie te veel dink voor ek iets doen nie.”

“Ek en Stefan is eintlik nogal baie dieselfde noudat ek daaraan dink. Hy sal enigiets doen om vir sy seuntjie te fight, om sy familie eerste te stel en om sy reputasie te verdedig.

Dit is presies wat Bobby gedoen het tydens die verfilming van Spoorloos, wat sowat sewe weke geduur het.

Hy vertel dat hulle ses dae ʼn week op stel was en wanneer hy Saterdagmiddag vroeg klaar gemaak het, het hy vinnig ʼn kaartjie bespreek en huis toe gevlieg. Soms kon hy eers die Sondagoggend vlieg en moes dan dieselfde dag nog terugkeer na Johannesburg.

Bobby en Annatjie van Jaarsveld en hulle kroos. (Foto: Verskaf)

“Ek was lank terug vir so lang ruk aaneen nie by die huis nie. My kinders het nie heeltemal verstaan wat aangaan nie. Bo en behalwe dat ek vreeslik na my gesin verlang het, wou ek graag darem net inloer en vir hulle wys ek is nog daar.”

Bobby, sy vrou, Annatjie, en hulle kroos woon nou ongeveer vier jaar in Ballito, noord van Durban. Hy sê dit gaan goed met hulle daar en dat hy dit vreeslik geniet om te diepseeduik en vis te vang. “Ons het ʼn lekker lewe in Ballito.”

Hoewel hy hom die afgelope ruk met verskeie projekte besig gehou het, is Bobby ook opgewonde om binnekort sy sangloopbaan te hervat.

Bobby het die afgelope jare verskeie operasies aan sy stembande ondergaan nadat hy in 2016 poliepe op sy stembande laat verwyder het.

“Dit is vir seker vir my moeilik om nie iets wat my passie is te kan doen nie. Dit is nie lekker om nie te kan sing en optree nie, maar ek is baie positief dat ek weer gaan terugkeer. Hopelik in hierdie jaar nog.

“Ek het reeds ʼn paar nuwe songs geskryf en begin oefen. Sodra my dokter toestemming gee, kan ek weer my sangloopbaan hervat.”

As Bobby van Jaarsveld een van sy eie liedjies as die temalied van ‘Spoorloos: Die eiland’ kon kies, wat sou dit wees? Luister hier na Maroela Media se vinnige vrae aan Bobby.

Skakel elke Dinsdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) in vir Spoorloos: Die eiland. Die reeks sal ook op DStv Catchup beskikbaar wees. Dié seisoen bestaan uit agt episodes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.